Resensie: Kinderlê deur Lynthia Julius. Queillerie. 2024.
Resensent: Marni Bonthuys
Kinderlê is Lynthia Julius se tweede digbundel. Haar Uit die kroes (2020) is ’n uitstekende debuut wat uiteenlopende temas aanroer, soos poësie oor die Noord-Kaapse ruimte, identiteit, godsdienstige perspektiewe, wat dit beteken om te behoort (‘belonging’ in Engels) asook feminisme en ras. Dit is altyd vir digters moeilik om ’n sterk debuut op te volg. Lesers verwag dat jy dieselfde temas aanroer wat hulle nou met jou as digter assosieer en in jou werk waardeer, maar hulle verwag óók nuwe perspektiewe en verdieping.
So ’n bundel ís Kinderlê. Bogenoemde temas kom weer ter sprake, maar die digterlike stem is ouer en bekende temas kry nuwe invalshoeke. Die bundel as geheel is meer beleë. Wat identiteit en behoort betref, kom die kwessie van geestessiekte na vore en ’n verpligte verblyf in ’n inrigting word skreiend geskets. Die feministiese tema word verdiep met perspektiewe op seks, swangerskapverlies en moederskap. Die Noord-Kaapse ruimte en die temas van ras en godsdiens word deurgaans belig, maar veral in ’n afdeling oor ’n historiese slagting van 32 Namakinders naby Steinkopf terwyl hulle ouers by die kerk was.
Wat die vorm en beelding in haar werk betref, kom Julius se akademiese agtergrond ook sterker as in Uit die kroes na vore. In hierdie opsig herinner haar werk aan dié van Antjie Krog en Nathan Trantraal – naas vlymskerp segging lê daar ’n groot stuk filosofie aan die kern van elke vers. Dit is emosiebelaaide, soms skokkende gedigte, maar dit gooi ook ’n wye intertekstuele, literêr-teoretiese net.
Intertekste wat die leser dadelik raaklees danksy die gekanoniseerde status van die oorspronklike verse en die erkennings agterin die bundel, is “Repos ailleurs” en “O die pyn-gedagte” van Totius, “Bluebird” van Charles Bukowski, “ek sal sterf en na my vader gaan” van Breyten Breytenbach, “Toemaar die donker man” van Ingrid Jonker, “Todesfuge” van Paul Celan, “Eerste nag” deur Elisabeth Eybers asook “Die beiteltjie” en “Karoo-dorp: someraand” deur N.P. van Wyk Louw.
Soos tipies van die postmodernisme, is Julius se verwysings na hierdie meestertekste terselfdertyd huldigend en ondermynend. Ook voer sy intertekstuele gesprekke met verse óór hierdie meestertekste wat al deur ander voorgangerdigters geskryf is. Spesifiek verwerkings van Van Wyk Louw se verse word hier op interessante wyse betrek. “Die beiteltjie” is al deur verskeie Afrikaanse digters as interteks gebruik. Julius se “Die beiteltjie” (bl. 22) herinner aan Loftus Marais se “Die digter as rockstar” wie se “beiteltjie” ’n “fokken lugdrukboor” is. Marais gebruik hierdie metafoor om sy alternatiewe omgang met poësie te verbeeld – waar Van Wyk Louw die digproses as versigtig en vormend voorstel, funksioneer Marais se lugdrukboor onmiddellik en vernietigend. By Julius dien die “beiteltjie” as ’n verwysing na die penis in die seksdaad, maar vanuit ’n vroulike perspektief. Soos in die geval van Marais se vers, bied Julius in haar “Die beiteltjie” dus ’n totaal ander blik op die funksie en vorming van poësie as Van Wyk Louw. Wat Van Wyk Louw se “Karoo-dorp: someraand” betref, word dit by Julius “Namakwaland-dorp: someraand” (bl. 61) en sy speel opvallend in op Gert Vlok Nel se gedig “die dag toe hulle vir Donkie Viviers” wat “Karoo-dorp: someraand” ook betrek. Soortgelyk aan Gert Vlok Nel, bied Julius se vers ’n meer onheilspellende perspektief op die skynbaar onskuldige plattelandse ruimte wat Van Wyk Louw in sy destydse vers skets.
Soos in die inleiding van my resensie gesuggereer, roer Julius ’n variasie van onderwerpe in Kinderlê aan. Die voorblad van die bundel, wat sinspeel op die vroulike seksuele orgaan voorgestel in verskeie kleure, beklemtoon hierdie smeltkroes van temas, maar ook die sentraliteit van die vroulike belewing en moederskap in die verse. Ten spyte van die uiteenlopende onderwerpe van die betrokke afdelings, is daar dus sterk samebindend motiewe met die temas van seksuele identiteit, vroulikheid en liefdesverhoudings wat oorgaan na miskraam en die negentiende-eeuse sterftes van Namakinders. Talle afdelings word ingelui met Namawoorde as verwysing na die Noord-Kaapse ruimte wat sentraal staan in die bundel.
Die laaste afdeling oor die slagting by Kinderlê in die Noord-Kaap (met “Kinderlê” wat uiteraard ook die bundeltitel is), vorm ’n soort hoogtepunt in die bundel. Hierdie verse oor ’n groep San (of “Bushmen” volgens die inskripsie op die monument ter nagedagtenis aan die tragedie wat Julius as voorwoord tot die afdeling gebruik, bl. 93) wat Namakinders vermoor het terwyl laasgenoemde se ouers ’n kerkdiens bygewoon het, vra priemende vrae oor godsdiens. Dit skets voorts die kinders se vrees en ouers (veral moeders) se verlies op ontstellende wyse. Ook roer dit ongemaklike temas oor ras aan, aangesien die San vandag dikwels gemitologiseer word as ’n vreedsame nasie van natuurmense wat nie tot hierdie soort brutaliteit instaat sou wees nie. Hierdie aanpak skakel met verse soos die knap “Toemaar die witman” (bl. 66) (die genoemde interteks van Jonker se “Toemaar die donker man”) wat stereotipes aangaande gevaar en ras omkeer. Die bedreiging in hierdie vers is die witman, nie Jonker se “donker man” nie.
Die variasie en verskeie betekenislae in Kinderlê maak dit moeilik om die bundel in ’n kort resensie saam te vat. In die inleidende vers (programgedig) van die bundel getitel “1 Gepubliseerdiërs 13” (bl. 9) wat as ’n soort rigtingwyser vir die leser kan dien van die digbundel se aanslag, skryf Julius:
Al herskryf ek Tristia
en studeer filosofie,
is ek net bruin metaal,
’n klinkende identiteitsimbaal.
Al ontleed ek oupa wat ry
op ’n fark,
is ek bruin grond.
Al deel ek my hartseer,
maar skryf in mý wêreld se Afrikaans,
is ek nog steeds net ’n bruin digter.
Al gee ek gestalte aan my Dasein,
maar ek skryf nie soos hulle nie,
is ek ’n bruin teef wat blaf.
Om voorspelbaar en kategoriseerbaar te wees, is dus duidelik nie Julius se motto nie. Die bundel hét sterk samevoegende tematiese lyne, maar is in wese gevarieerd wat tema en ook die vorm van verse betref. Voorts verval die gedigte nie in die soort stereotipes en clichématighede wat dikwels saamgaan met die tematiek wat aangeroer word nie. Daar is (soos ek reeds suggereer in my bespreking van die afdeling oor die Kinderlê-moorde) nie ’n verromantisering en gevolglike eksotifisering van Noord-Kaapse mense nie. Veral diegene van Nama-afkoms, wie se perspektief dikwels sentraal staan in die verse, word nie op stereotipiese wyse as ’n eenvoudige, ewig-blymoedige groep voorgestel wat ’n ‘aardse’ bestaan in die woestyn voer nie (so asof wifi, selfone en antidepressante die Noord-Kaap verbygegaan het). Seks en vroulike geslagsdele word ook nie in soetlike, blomryke taal verbeeld soos wat dikwels gebeur as digters oor vroulike seksualiteit skryf nie. Julius se gebruik van eksplisiete taal is dan ook ’n tegniek wat uiteraard getuig van ’n sterk feministiese bewussyn waar skelwoorde soos “teef” (bl. 9) en “kont” (sien die afdeling “Klipkont”, bl. 31) deur die vrouedigter geappropieer word as ’n teken van verset.
Soos die inleidende gedig van hierdie bundel dit duidelik maak, gaan niemand die digter Lynthia Julius in enige identiteitsbeperkende doos druk nie. Mag daar nog talle mooi bundels uit Julius se pen kom en sy aanhou om die perspektiewe van die Afrikaanse digwêreld te verruim.