Vertaling van Engels in Afrikaans: Olga Kirsch – “Nevertheless” vertaal as “Nietemin”
Vertaal deur Luan Staphorst
Bibliografiese besonderhede:
Uittreksels uit die lang epiese gedig, “Nevertheless” (sien Kirsch, 2020), het vir die eerste maal in 1966 in die Amerikaanse tydskrif, Jewish Frontier, verskyn. Soos die geval met Kirsch se ander Engelstalige gedigte – beide gepubliseerd en ongepubliseerd – kry dit ʼn tweede lewe deur die publikasie van Egonne Roth se biografie, Olga Kirsch: A life in poetry (2018), asook die bundel Olga Kirsh: Her English Poetry (2020), wat beide deur Naledi uitgegee is.
Vertaalstrategie
Olga Kirsch se Afrikaanstalige oeuvre is welbekend vir beide die literator en die algemene poësieliefhebber. Sy is nie slegs die derde vrouedigter wat in Afrikaans gepubliseer het nie, maar haar Joodse identiteit en wêreldsiening wat haar skryfwerk stempel maak van haar ʼn eiesoortige stem in die andersins oorwegend Wit en Christelike kanon. “Nevertheless” vorm ʼn beduidende deel van haar beskeie Engelstalige oeuvre. Dit is eerstens haar langste Engelse gedig, tweedens blyk dit om een van haar eerste pogings te wees om in ʼn taal anders as Afrikaans te skryf, en derdens weerspieël dit beide die intens persoonlike ervarings van Kirsch-as-inkommer in Israel, asook die vrese, ideale, en wordingswroeging van ʼn groepsidentiteit in die skadu van die Tweede Wêreldoorlog (vergelyk Roth 2018 vir ʼn bespreking van die gedig). Dit is veral die tweede kenmerk van die gedig, naamlik dat dit ʼn vroeë poging tot Engelse skryfwerk verteenwoordig, wat my na die vertaling gelei het.
In haar resensie van Daniel Hugo se vertaling van Roth se biografie, druk Lina Spies (2019) haar taksering van Kirsch se “onbekende” gedigte soos volg uit:
My één groot verskilpunt met Roth is dat ek nie haar waardering vir Olga Kirsch se Engelse gedigte deel nie. Die lang gedig “Nevertheless” waaruit sy herhaaldelik aanhaal, is kennelik ʼn gedenkskrif wat in prosa ontaard. Dit geld vir al Kirsch se Engelse gedigte. Afrikaans was kennelik Olga Kirsch se gemoedstaal en die taal van haar “lewe in verse”. Afrikaans was in haar eie getuienis in haar kinderjare “nader as die Engels van haar ouerhuis”.
Met die eerste lees van veral “Nevertheless” het ʼn gevoel van stramheid my binnegeval. Spies se waardering deel ek ten dele. As ʼn niemoedertaalsprekende van Engels sal ek nie die kennelikheid van die Engelse gedig so maklik kan identifiseer as dié wat Shakespeare, Milton, en Keats van kindsbeen af gelees het nie. Nietemin klink haar gedig(te) selfs vir my telkens vreemd op die oor. Maar wat as ʼn vingeroefening begin is, het vinnig ʼn eie lewe aangeneem en ʼn gevoel van vertalingsverinheemding aangewakker. Net soos Antjie Krog (2004: 10) oor Afrikaans se verhouding met die |xam-materiaal in die Bleek en Lloyd-argief gesê het, het ek met “Nevertheless” se ver-Nietemin-ing gevoel asof ek telkens “bloot uit Engels terug moes vertaal in die oorspronklike Afrikaans”. Vandaar die beskrywing “vertalingsverinheemding”: dit belig die verskeie Afrikaanse binnekamers van die “oorspronklike” Engelse gedig, en is sodoende ʼn oefening in die gebruik van vertaling-as-soeklig.
Nietemin
“… en as die Almagtige nie ons
vaders uit Egipte gelei het nie, sou ons en ons
kinders en ons kinders se kinders
steeds in slawerny gewees het …
Vandaar is ons onder verpligting …”
I
Vandaar is ons onder verpligting
Om te vertel hoe ons by hierdie land aangeland het
Hoe die klein skepe deur die skemer
En die dinghies deur die donker gegly het.
Hoe ons gespring, gestruikel het en onderdompel is
Hoe onder hande omhoog, ons bestendig en gelei is,
Hoe die laaste golf se deining
Ons oor spoelklipbesaaide sandbanke gedra het
Wat sekeres soen
Terwyl hulle hulle soutlippe afvee
Koud, blase wat knaag uit vrees
Vir soekligte en skote uit die donker
Ons swoeg deur duine
In trokke saamgedrom
Slingerend en swaaiend op kronkelende paaie
Na ons wegkruipplek
Ons eet en vind ʼn holte vir ons voete
Slaap soos die dood
Ontwaak onder ʼn flakkerende son
En dit was aand
En dit was oggend
Een dag.
II
En ons is onder verpligting
Om van die stad se beleg te praat,
Haar strate gesnou met lemmetjiesdraad van muur tot muur,
Van die vullis en die puin
Die sluipskietery en die stilte
En die vooroorgeboë gehardloop,
Van honger, dors en stank
Van geweld
Waar kalm bome nou die steilte afdaal
En ontweide trok en gepantserde motor en jeepwiele
Na ʼn smal strook lug gemaak
Onder verf lê en roes.
Die jaarlikse roukrans krimp droog
En gly uit die oog:
Bab-el-Wad.
III
Omrede ons hulle vir dood grootgemaak het
Sonder ʼn keuse
Want die verstand kan nie
Toonaarde van stemme onthou nie
Want die somber foto vervaag
En hoe hulle in ander stemmings gelyk het ontwyk
Herinnering;
Want van hulle maak tyd bloot grafte,
Strak kliplane
En monumente langs besige paaie,
Alleenstaande.
Daarom moet ons onthou terwyl ons nog kan
Dat hulle soepel, gelukkig was en die strate bestryk het
In bont uniforms,
Gehou van ʼn rewolwer wat aan die heup dobber
Naglank kon sing en dans
Druipende snorre en woeste baarde groei
Liedjies skryf en dagboek hou van hartseer verby ons jare
Want hulle wis hulle’s vir die dood grootgemaak
Sonder ʼn keuse.
IV
Toe skielik is die gerug een dag waar:
Die kampluidspreker knetter en blaker uit
“Aandag, aandag almal, belangrike aankondiging!”
Ons lig ons hoofde om te luister na waar ons was,
Werkend of leeglêend, dit is nie die nuusuur nie.
En die stem lees: “Sy Majesteit se Regering
Met inagneming van onlangse gebeure
Kondig die onmiddelike vrylating
Van vlugtelinge in Siprus aan. Skepe sal gestuur word …”
Toe breek die stem weg en skree “Vry, ons is vry”
En begin dan hees, belaglik en vals
Hatikva te sing. Die middaguurleë
Plein haas ons binne, in son en stof
Lag ons, huil ons, skree ons,
Omhels ons mekaar, gooi die kinders in die lug
En swaai hulle weer neer tot selfs dié wat twyfel
En dit ʼn fopspul noem by die blydskap inval.
En tog, ons vrees die einde van ons gevangeskap:
Passiewe bewoners van hutte en tente
En uitrustings
Hou skepsels aan, eters van geskenkte brood,
Hoe moet ons werk en verdien
en ʼn dak oor ons koppe onderhou?
Maar ons hou moed, maak die kamp reg
En bondel ons besittings saam, en die skepe kom
Hokloos dié maal en ons gaan aanboord
In die vroeë lig, die berge nog onder mis,
Ons die draers van die gelukkige nommers.
En die skip keer weg stadig karringend en draaiend
En die skip keer weg stadig karringend en draaiend
En die eiland kantel van hoek, verander van vorm
En ons wat dit gesien groei het
Sien dit kwyn
En onder die rand in verdwyn
Tot niks behalwe spitsende en springende see
Selfs die meeue is vort
Toe lê ons op die dek
En die dag vloei stadig soos ʼn vas. Uiteindelik
Skemerkant toe kom ʼn skielike geskreeu van “Kus”
En hulle wat oor die land geloop het en saamgedwing is
En hulle wat dit in die verte soos ʼn drywende mis gewaar het
En hulle wat slegs daarvan gehoor het bestorm die reëlings,
Beklouter krane en stutte,
En die skip leun landwaarts en berge verrys
Kalm onder ʼn kalm ster en ons sien die kaai
Dig met mense. Dan staak die enjins
En die wind se rumoer en ons hoor ʼn kreet
Skril en dun en hoog soos dié van omsingelende voëls –
Vanuit ons eie kele verrys dit en stemme op die land
Brul in antwoord, en die dobberende skip stamp huiswaarts
En ons daal.
Maar nie ons alleen nie:
Ook die dooies daal stotend, stotend.
En die skip keer weg stadig karringend en draaiend
In Jaffa op ʼn Saterdagaand,
Strek hulle ʼn skerm van muur tot muur
Om ʼn smal strook te oorbrug.
Hulle slinger stringe flikkerende ligte
Orden ʼn paar stoele en tafels – krabbel
ʼn Pryslys op ʼn bord en noem
Die plek “Kafee”.
En in die skemer
Kom verkopers van ʼn honderd gram
Sonneblomsade in ʼn papiervlegsel
En hardgekookte mielies in die blaar bedien
En hoë ballone aan gewrigte vasgemaak.
Kom lustelose paartjies wat kinderwaentjies stoot
En uitbundige bendes dogtertjies en seuntjies
En eensame siele wat hul rug draai
Om te kou, bekyk die vlieëvuil speelgoed
En loodgieters se koppelstukke verveel onder stof.
En om die tafels waar die horde
Sit en klets in ʼn honderdtal tonge,
Begin ʼn enkelstem ʼn lied
En al daardie kele neem dit op.
Glase tik ʼn flukse ritme,
Bystanders klap, voete skop die stof
Tot asem meegee of iemand
ʼn Hortjie terugdruk om vir stilte te skree.
Vir ʼn stille oomblik sit hulle maar gou
Neurie ʼn peinsende stem ʼn deuntjie,
ʼn Melodie onmelankolies
En plesierig in ʼn mineursleutel.
Lied volg op lied, in lappe en stootwaentjies
lê die babas uitgestrek aan’t slaap.
Niemand staan op om bed toe te gaan nie
Ten spyte daarvan dat Sondag ʼn werksdag is:
Die lewendes, lewend vir die dood.
V
Vreemd om ʼn immigrant te wees
Om deur die middelpunt van die dorp te wandel
Die verbygaandes te bekyk, geen gesig bekend
Almal iewersheen op pad, jy alleen
ʼn Niemand op pad na nêrens.
Vreemd om ʼn immigrant te wees
Om deur die dorpsbuurte te wandel
Aan deure te klop, vir loswerk te vra,
Bejammerd, ingenooi en iets te drinke aangebied
Om dit te probeer verewig deur alles deur jou oë te in
Die tafel met sy stywe en blinkende doek,
Die voorouers in ovaalrame vegroot:
Ouma nekloos, stewig, oupa matig
en bebaard tot in die oë; die swaar stoele
Die buffettafel met lae en venstertjies, alles wat van
ingeburgerdheid getuig.
Want hulle belowe jou dinge sal verbeter maar jou huis is ʼn hut
En werk is ʼn paar dae per maand van klippe kap vir paaie
En jy kan nie terugkeer of elders gaan en jy durf nie vorentoe kyk nie:
Onverbiddelik is dit om ʼn immigrant te wees.
VI
Soms in die aand kyk ek hoe jy gly
Langs jou diepslaap se geheime rivier af
Jou hand uitgehol, jou hare gekolk.
Jou blaarlike ooglede skaars aan die bewe.
ʼn Kind is so ʼn teer ding
So stadig om te groei, so vinnig om te verweer.
Die kalm stroom waarlangs jy afbeweeg,
Hierdie maklike sluimer is die somtotaal
Van takke wat niemand kan tel nie:
Kinders is bedoel om gekoester te word.
Van ons af weggeskeur hoe het hulle toe vergaan
Aan die vreet soos uitgehongerde katte op ashope
Steels, waaksaam
Skraal en bevuil
Gejag en gespook.
Klou aan mekaar
Kleef aan fabels?
Vervaag deur koors
Vervaal verby verwondering
Vrees of honger
Uiteindelik aan die sink.
Geeneen kan sê waar
Gevoelloos gegooi
Nakend verrottend in die lug.
Dus vergaan die teer
Die vertroetelde, die skone.
Seep, lampskadus, baadjies
Veldhere
Slawe arbeiders tot die dood
Grawers van hul eie grafte
Teikens vir die ledige skietoefening deur
Die lyfwagkamerdeur. Rook krul hemelwaarts
Offerandes vir watter gode?
Sulke smart, sulke woede, sulke verontwaardiging
Wie sal bevredig?
Alhoewel ons museums gebou het: monumente opgerig het
Hulle name op perkament en op klip ingeskryf het
Alhoewel daar vir hulle kerse vir vrede ewigdurend brand
Is ons nie gerusgestel nie.
Nog is hulle siele bevredig.
Daarom leer ons hulle verhaal as geskiedenis
(Die kinders keer met verskrikte oë van die skool af terug)
Spoor hulle wat hulle gejag het op, woon hulle verhore by
En deel ons bewyse, wenend en swak
Van die peiling van ou wonde; ons bedevaart
Na daardie lae hutte en oop oonddeure
Hunkerend na ʼn ontsnapping uit drome, skare sekere tonele
En films en by die hoogtepunt van die jagtog
Staan ʼn duisend soos een op en en brul soos ʼn duisend.
Daarom vertel ons soms oorlewendes se verhale:
… Mengele het weekliks massa-inspeksie gehou.
Ons staan kaal voor hom nadat hy eerstens ons wange
Geknyp en ons lippe gebyt het om vir ons kleur te gee.
Hy stap met lang treë tussen rye en piets sy rottang
Teen sy glimmende stewels. Oor en oor
Stop hy en boor in een of ander gevangene se oë in.
En die enkel wil om te oorleef streef deur daardie oë
Om sy blik vas te pen. Indien hulle bewe trek die stok
Wat totnietmaking beteken …
… Drie jaar leef ons in die ghetto en een in die woud
Vegtend as guerillastryders – met die ammunisie
Wat ons in die ghettojare van Duitsers en ander aangekoop het.
Haglike werk en die straf van die dood sonder versuim
Dog het baie dit gewaag.
Eens, nadat ek goed gekoop
En dit onder my hemp weggesteek het het ek huis toe gehaas
(Dit was die slegste deel, om by die ghetto terug te kom),
Terwyl ek in die middel van die straat stap, met die geel ster sigbaar
Soos Jode gedwing was om te doen, toe iemand my naam uitroep
En ek sien na my toe hardloop met ope arms om my te omhels
Die ou professor wie se gunsteling ek was
Voor ons studies gestaak is. Ek het net een gedagte gehad
Wat as hulle my nou deursoek? En ek klou aan sy gewrigte vas
En ek gooi die ou man van my af weg en ek vlug …
… Dit was in die jaar veertig. Ek was reeds hier,
ʼn Kabel kom van my seun wat agtergelaat is
Waarin hy sê dat hy dalk Italië toe mag gaan, en hy vra om raad.
En ek beraadslaag vele en die meeste stem saam
Dat met Italië beset, beteken om te beweeg niks in die sak sal bring nie.
En ek stuur vir hom ʼn kabel waarin “Bly” staan en die seun gee gehoor.
En dit was die somtotaal van ons wysheid – Dié wat na Italië
ontsnap bly lewe maar my seun is gevang …
En die lewe gaan aan – maar die rouseisoen
Versnel ʼn smart wat nóg tyd nóg rede
Heeltemal kan vernietig en met dit saam woede – toorn
Wat niemand kan temper.
Slegs die sirene kan names ons praat, slegs die sirene
Wat soggens steun – stygend met semitone
Al klimmend en klimmend en klimmend en die lug sloegend,
Wenend en wenend, die wêreld bestorm en oorheers,
Die stede verstil, die dorpe, landbouers van velde.
Skielik aan die val, val met kwarttone
Glyend tot stilte langs ʼn verskrokke horison:
Slegs die sirene kan names ons praat – woordloos.
VII
En ek dra jou op die vlerke van arende
En ek bring jou na My
Nie so nie, want ons het opgestaan en die dooies agtergelaat
Hulle lyke en hulle as en ons vlug
Uit daardie buurte weswaarts, altyd weswaarts
Stadig omrede swakhede. Woord is in die lug,
Sprake van die land en verlange om daar te wees
Vry van hierdie ellende. Wes gaan ons en suid
Op soek na die see – aan die steel om aan die lewe te bly
En soms selfs aan die moor. Baie draai weg
Om ou bewonings te soek en te eg
En party vind bouval of buurman met oë vol vyandigheid
Wat hul voormalige deuropeninge bewaak. Suidwaarts nog
Belas met kinders, met die oud, siek en log
Tot eensklaps die blik op die see van die laaste deining
Ons afwaarts werp wild met verwagting
Waarvoor? Want by die strand was ander kampe.
Op arendsvlerke … Op die dekke van vervalle vragsoekers
In die nag aaneengeskakel om asem te haal – in die dag begrawe
Binne hulle stinkende diepte vind ons ons weg
Oor die Mediterreen gejaag – bekommerd,
Gesoek in geen hawe, soekend slegs vir een ding
En daarna varend. Dan, met land in sig
Die grys skepe wat toesak, die onverbiddelike bevel:
“We are about to board you – do not resist.”
Ontmoet die entertroep met ʼn gedawer
Van boute en bottels, veg met hand en tand
Skoppend en stotend, aan die reëling vasklouend,
Geknuppel, omvleg, oorskeep en gedwing om te vaar
Na Siprus. En aan die einde nog ʼn kamp.
En jy bring … ja, in die nou land
Van vele uitsigte in, Klotsende see en sand
Wat om middaghoogte vlek, heerskappy van die son
Watse roem die dissels verguld en die somermaande
Vervaal. Land van die olyfboom
Watse krom ledemate en silwer filigrein
Valleie volmaak waar die antieke leërs gemars het.
Land waar die wildernis, vuursteenbesaai en uitgedroog,
Na dadels, na graan, na kortgeknipte wingerdstokke val
Wat in paralelineenlopende lyne uitstrek
Tot in die bloubeskadude heuwel; van lane en denne
En uitwysende siprus. Land waar sproeiers buig
Soos dogters wat in die rondte draai met hulle arms bo die veld
En waar vallei, vlakte en terrasvormige berge
Oorvloedige oeste lewer: ʼn Geseënde land soos beloof.
En ek dra jou op die vlerke van arende
En ek bring jou na My
Ja.
Nietemin.
Verwysings:
Kirsh, O. (Red. E. Roth). 2020. Her English Poetry. Gansbaai: Naledi.
Krog, A. 2004. Die sterre sê ‘tsau’: /Xam-gedigte van Diä!kwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han≠kass’o en //Kabbo gekies en versorg deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela.
Roth, E. 2018. Olga Kirsch: A life in poetry. Kaapstad: Naledi.
Roth, E. 2020. Olga Kirsh: Her English Poetry. Kaapstad: Naledi.
Spies. L. 2019. Olga Kirsch: ʼn Lewe in gedigte: Egonne Roth se biografie oor Olga Kirsch, ʼn LitNet Akademies-resensie-essay. LitNet, 12 Maart. https://www.litnet.co.za/olga-kirsch-n-lewe-in-gedigte-egonne-roth-se-biografie-oor-olga-kirsch-n-litnet-akademies-resensie-essay/

Afrikaans was inderdaad haar gemoedstaal en in hierdie taal het sy haar beste werk gelewer. Let daarop dis Daniel Hugo sonder die Umlaut.