evolusie
dalk oor ’n duisend jaar of wat sal iemand haar uitkalwe
met skoffel en kwas en wonder wie hierdie mens was
met die stewige gebeente, fyn hande en winkeltande
en dalk sal antropoloë kan bepaal dat haar oë blou
was en dat sy bars kon kyk en verwant aan Koisans
en Noormanne was, ook dat sy soms gebrek gely
en bloedarmoedig was en swaar aan drie kinders
gebaar het. miskien sal hulle aan haar beendere
kan sien sy het haar brood met moeite verdien
en dat haar dieet bestaan het uit wildsvleis
stamvrugte en gars en sal hulle iets kan snap
van haar taal wat ’n landskap van vlaktes
en brak riviere kan verhaal met woorde
wat woue en giere in vlug kan vasvang
in klanke wat god kan gebied om wolke
byeen te jaag en buie te laat sak. ’n taal
waarin sy kon skerts en uit haar maag
kon lag en dalk sal hulle in ’n omvormde
weergawe van haar tongval sê: kyk
wat het sy alles vermag
– Gerda Taljaard
Julle worrie veniet
die woore van die versie wil nie inpas innie borsrok vannie taal ie
ma ons ga try ter wille vannie leser van duskant, dousô, oralste vandaan
teesny en boegoepluk krui ons sinne nes gannabos
soos wingerd rank onse gedagtes ruig voor ons trugsnoei
idiome swerm oor botte van bene
vannie die ysterkoei wat roes innie sloot
en implaas van i kalf is da i kind
innie longdrop
nee, dissie snaaks nie isse tragedy
ma solankit ie ‘n blou-oog issie isit mos OK
ons bly ‘n tribe al is dit net as ons praat
en ons praat ookie saam ie
tussen julle wat praat van hulle en hulle wat praat oor julle
is ons ‘n trop pitbulls, nevermaaind wolwe, vi mekaar
die klonge van goedverwacht en gena ry in 4×4’s en hul vroue in camry’s
en hulle mammie ons, ma hulle nappies was spierwitblink songedroog
nie kiembies soos vedag se kinnes ie
die antie meddie corset sê die taal is hane
ma ôs is nog die hele tyd hie
en onse kinnes sluk ons woore
saam meddie melk wat syfer
uit ons borste teen ytvaltyd
na ’n lang namirrag innie lane
julle worrie onnorig
– Martli Slabbert
Afrikaans
hy rek maklik bedoelings
vat die waarheid kundig vas
kan, net soos ’n springbokkie
jou met ratsheid verras
hy krul, soos ‘n trapsuutjies
sy tong om wat ons dink
en bêre ons verwagtings
in papier wat skitter-blink
soms gee hy jou ’n dwarsklap
land jy sommer op … jou blad
sê, as hy swaai-swaai wegloop:
ag sorry, hey, my skat!
ons taal is sag van binne
hy’s botter op jou tong
soet en suur en bitter
oor waar hy vandaan af kom
ons taal het titaniumwortels
wat om die aarde strek
g’n mens kan dit losmaak nie
hy sal oral saam met ons trek
hy rig al ons neurone,
en vertaal ons DNA
is die mamma wat vir ons
van baba-tyd af dra
– Nadia van Rijswijk
Vir Jou
Ek wil vir jou kom kuier sonder
’n Whattsapp, e-pos, foonoproep
sonder enige kennisgewing.
Ek wil jou huis sommer binneval
so saam met die oggend se son.
Ek wil kaalvoet en oophart
net by jou kombuistafel sit.
Jy moet vir my tee gee uit ’n beker
en gemmerkoekies uit die winkel se boksie.
Jy moenie wil Martha Gasvrou wees nie,
maar net hartsvriendin.
Ek wil net by jou sit en
praat sonder woord of klank
en net saam Maria-vroue wees.
– Annie van der Merwe
Van veraf
kyk dan net hoe vér het ons al gekom!
dwarsdeur die kakiekoeëlreën se verskroeide taalbeleid
en somerset se sluipmoord op ons semantiek wat verstom
midde heulende matie-hensoppers wat booslik brom
en ons taalspore ywerig uitvee in alle ydelheid
en tog, profs, kyk net hoe vér het ons steeds gekom!
die kartetskaders van lesufihuis se ewige gegryp en gegrom
na ons sakrosankte stryd teen die haat en hoon en die nyd
en die sluipmoord op ons semantiek wat blywend verstom
ek broei op ou bardsbundels in my taal wat kwyn oralom
en verdrink in die klankekleur van die ou-ou blommetyd
en tog, kyk net hoe vér het ons steeds gekom!
op die randakkers van my reis staan en skree my tjom
aanmoedigend in die doodsnikke van die wettestryd
se sluipmoord op ons semantiek wat blywend verstom
kadawerkaders dra nou die koningskroon as eiendom
en my ongesêde stiltes spreek bedees en beskeid
kyk tog net van hoe vér af het ons gekom!
midde die sluipmoord deur staatsemantiek wat steeds verstom
– C. Horak
’n Vreeslike ding
Liewe maats, dik en dun,
laat ek julle vertel van ’n lelike ding.
My kat is vreeslik onsportief.
Hy lê net rond en eet dan als!
Tjips en kaas. ’n Halwe brood.
Hoender-nuggets en selfs die hond se poot.
Toe eendag gebeur ’n vreeslike ding:
Die kat suig ’n hele bottel helium!
Die kat swel op! Die kat word rond!
Die kat se pote los die grond!
My ma skreeu: “O liewe tyd!
My man, kom gou, die kat gaan die voëltjies byt!”
My pa skreeu: “Seun, bring my gun!
Ons sal daai kat moet vang!”
Ek weet nie of ek moet lag of huil.
My kat is mos nou ’n ruimteman!
– Kaylee Camm
’n oorsprong
dis nag
miskien ’n miljoen jaar gelede, miskien minder
en in ’n grot waar vuur
splinterlig teen mure maak
bekyk ’n mensding haar hand
praat en beduie:
ek, jy, grot, vuur
hande wat tongspeel
’n afdruk in die as
vingermodder op ’n aangesig
’n hand wys na my
en uit ’n vingerlit spring
’n vonk van herkenning
dat gebare betekenis bewaar
en méér:
afgeteken teen modder en teen muur
’n afdruk van dié vuurhand:
ek was hier.
– Ilse van Staden
Beloop
Jan kom toe met Hollandse laarse voor Krotoa staan,
maar hy en Khoisan moet mekaar op goeie voet verstaan,
want sonder ruil sou ’n Kaapsche halfweghuis
gou-gou faal, met net stamppot uit die kombuis.
Dietse dienaars, gesteweld, is as burgers vrygestel
om op dezen aarde iets van waarde te teel en kweek;
maar genoeg arbeid het ontbreek, dus is slawe
uit Afrika, Bengale of vanwaar ook al gebring.
Nederlands en Maleis-Portugese bredie moes
verafrikaansch dat almal baijang gou saam kon praat;
toe ook, op De Voetboeg, rebelse Moslems,
soos Sheik Yusuf, uit Indonesië gedwing
na Makassar is, waar op kaparrings stewig geplant
hul begin het en nou nog nederlandslied bly sing.
Later begryp almal, met pantoffels ná die week se werk,
ook Hugenote, as in Nederduytsch Vader Jacob oproep na die kerk.
Veeboere het deur noorsdoring en ghaap op velskoene te voet
na die Gariep en Namibië getrek, waar ma’s en ma-goed
steeds hul kjinners ook met Afrikaanse gesange voed.
Deur dongas, kaalvoet oor die Drakensberg, is die taal verbrei
en in weerwil van Engels het hy oorkant die Vaal ook staan gekry.
Nou, met blinkleer, vellies, plakkies of selfs crocs aan,
as elk maar net hul skoene vol kom staan,
sal Afrikaans van krag tot krag en veel verder gaan.
– Dietloff van der Berg
Die postmoderne braai
Op ’n plaas in die koelte van ’n witpeer
staan ’n dinosourus van skroot, ’n variasie
aanmekaar gesweis tot dié postmoderne kunswerk
deur boer Boepens du Pissanie.
Bo die onderwerk van ’n kruiwa
stapel hy stellasies yster soos verse
staan sy interpretasie van die Weber
plat oppie aarde soos ’n oergeitjie:
’n onderstebo ploegskaar die basis waarop
’n stang van ’n domkrag regop krink
stewig soos Allesdoener se boorgereedskap
daarop ’n ronde trekkervelling vir sekelboskole
die lorrie-ewenaar die arm waaraan
’n rooster hang.
Al wat kort is tjops, wors en mans wat in ’n kring
hulde bring aan die Springbokspan
Rassie vir innoverende denke
in slynstaan en skrum.
By gewyde rituele van drink en dronkverdriet
staan hy, die postmoderne braai-
altaar waarop boer Boepens du Pissanie
offerandes van Karoo-lam bring.
– Kobus Grobler
Basterkind
In onderhandelings met Khoi
lê Afrikaans sy eerste sooi
Genadendal se drukpers
bevrug ’n embrio in eie vers
Hottentot-Hollands in die kombuis
’n knippie Khoe, Duits en Maleis ewe tuis,
voeg by ’n kardoesie Frans, Engels en Portugees,
aldus word gebaar ’n basterkind in eie vlees
Hortend’ en stotende karnallie-kind
wat tamaai mielies en baie bredie verslind,
met geitjies en goggas, met eina en lag
’n borrie-sosatie wat vir blatjang wag
Sy woeker as ’n tiener wild en vry
met ’n passie vir hekel en hokkie daarby,
sy baklei en sy beur vir haar aitsa troon
en klets tot tjailatyd op haar foon
Sy gedy as ’n dame vol geur en gees
smak aan ’n boegoeknertsie by die fees,
sy ry trein en speel tennis met Maleise amok
eet pawee en croissants by ’n Franse kok
Ouma is Mei 2025 ’n ganse eeu oud
steeds jonk van gees, nog geensins koud,
’n Basterkind argaïes getooi
word ’n Afrikaanse swaan in reënboogmooi
– Ilse Botha, 2024
Afrikaans
Tussen potte en kastrole
is jy gebore
… ’n doodsvonnis, gewis
of so het hul gesê.
Met Ingels en Khoi-sang
is jy gespeen
… jou bloed besmet
of so het hulle gesê.
Met ideologie en teologie
is jy gevorm
… jy’s ’n oksimoron
of so het hulle gesê.
Tussen anglisisme en neologisme
word jy gedaag
… vir ewig in wording
want so het jy gesê.
– Lydia Gittens
Familiaal
1 Herkoms
hy het die eerste lig gesien
in Knysna se ou hospitaal,
voor die ouderdom van tien
hoor hy net bosmenstaal
van hoe die manne met ’n byl
munte deur hul staanpunt kloof
saans by die vuur die lem blink vyl,
môre word die bloekombos beroof.
3 Genetika
waar ek my kleinkind oulaas abba
kaalvoet oor die laagwaterstrand,
volg ’n enkelry ons in die sand:
die nat spoor van ons twee se DNA
2 Gedwonge familie-ete
om die tafel van inheemse hout
bind hande slegs vir dankseg saam
lukraak gerangskik, jonk en oud:
donker gangportret sonder raam
4 Erfenis-ergenis
die kinders vergader en bespreek
hul erfporsies met kolle opgestel,
word wreed ontnugter en ontstel
toe oupa met kleurblindheid wreek
5 Die uurglas loop uit
wees sterk my vriend, wees sterk
die loper yk maar slegs ’n dowwe merk
en met die meting word daar straks
fouteer, soos deur die parallaks
6 Cul-de-sac
Ouma is onbekend met emotikon;
ons vra na haar stand en luim.
Haar antwoord is ’n regterduim
wat skerp-beslis na onder krom.
– Gerhard Barkhuizen
heil die voorlopers
wees gesalueer,
seergeagte voorvaders
voorgeeste
in hierdie moeilike, omgesukkelde land
baanbrekers, bouers en boere
grondbaronne en grypdiewe
jukbrekers en jagters
krygers, knegte
myners en magnate
leraars, lofsangers, luiaards en lieplappers
ruilhandelaars en reënroepers
struikrowers, smokkelaars, storievertellers en sendelinge
vryheidsvegters en vissermanne
hiergeborenes en gewillige óf onwillige immigrante
ja, almal
wat die Afrikason by sy naam geken en liefgehad het
julle bloed vloei in ons riviere
bruis in die branders
wat daagliks ons kuslyn bestorm
bedek ons berge
deurdrenk ons slagvelde
die klank en klik van julle tonge
vul steeds die ore,
en maak ons harte boekens toe vol
waarom sal ons waai?
– Marius Ackermann
hoe ver
hoe ver het ons gekom –
dit is die nypende vraag
tot hier, sowaar, en nog verder aan
want ʼn tongval is stuwing, hoog opgehys
om skaduskryf sonwaarts te glip
hier rus ons land soos ʼn wydverspreide
tapisserie, tussen see en berg en lug
van toentertyd af rits die kruissteke
ons grafte aaneen, vir hulle wat daar was
en nie verder kon, of iets meer wou sê nie
met onverpoosde rygsteek groei elke teks
wroeg uit sy nate uit en met appliekwerk
word nuwe woorde ongesiens uit ander
vreemde monde kleurryk ingevoeg
tot hier toe dan, na ʼn volle eeu –
nuwe patrone wag vir die nageslag
se samespraak, want alles bly
beweeg, volasem en gerig
om ʼn taal uit die grond te vlag
– Marlise Joubert
laienanalyse (à la française)
by #feesmustfall
lacan gaan aan op youtube, la performance vir die televisie,
maar dis doktor julia kristeva se bloes wat kuberrooi,
ja pouslik bloei, die deurslag gee, lacan laat taan:
‘die stem oorheers poësie, jy snap die klank, die ritme
lánk voor jy begryp.’ siembamba die infans snoes
vóór oedipus en analis, vertrap sy kop dan lê hy dood
siembamba is in die sloot (ensovoorts).
boon-op is die bloes een wat skroomloos cleavage wys:
‘die wiegie-klank van primordiale ekolalias dui op narcissus’,
jy verdrink stilletjies in jou selfmoordneigings: ars longa, vita brevis.
mei ’68, ‘la france s’écrase’,
die franse skool is dringend in kajuitraad:
’n ysblokkie glip ongesiens, maar gladdebek
by die gleuf tussen die soixante-huitard se borste
in: ‘transferensie en cathexis’ (strachey se opmaakwoord),
‘ons arktiese beminning wat trots terugpeil na die desir
van niemand anders nie as die einste, edele sokrates,
dít moet per slot van rekening blywender vermink’,
vergesellend by afreis van eiewaan, enige hitchcock-klankbaan.
in die ná-en-laat-kolonie word dit 15 maart 2015
en mý spieël, mý spieël val bloot klaaglik stukkend,
flenters op die trappe hunkerend vernoem na jameson,
administrateur, maar soveel meer by anneksasie van die planete
en asof onder sielige protes straal die blootsgeryde son
van nou af aan, voortaan, ’n vlammender gietswart.
– Jaco Barnard-Naudé
My Pop
As ek na jou deur my winkelvenster kyk
Sal jou skoonheid my weer ’n keer bereik
Jy met die bloedrooi lippe en goue hare
Jou sagte linnerokkie geweef met die fynste gare
Ek het medelye met dié bo jou
Dié wat die son te hard bereik
Wie se rokkies bleik
Dié met toe oë, blind
Dié wat hulself nog moet vind
Ek voel jammer vir dié onder jou
Dié oogloos
Dié armloos
Dié in ’n kartondoos
Maar as die son deur die venster buig
Sal sy strale onder begin en boontoe styg
Sodat hulle oor elkeen skyn in lafenis
En sodat elkeen ’n belewenis van die lig mag hê
Almal sit en wag om te speel
Almal het aan die speelgoedwinkel deel
My pop, gaan af op jou knieë!
Dit is nie ’n onmoontlike versoek
Is al wat ek van jou soek.
Dit was nie veel gevra
Maar jy kon jou plek op die rak nie verdra
My Pop, jy sny my met jou fyn, fyn porselein
En ek is, soos jy, gebroke
Maar nou, my pop
Jóú tyd is op.
– Cornelia Langenegger
’n Woord
Het jy geweet woorde verkleur as die son op hulle val
Jy kan dan eers sien hoe broos is ’n woord
jy kan dit nie optel nie, nie buig nie
woorde lê op ’n hoop soos herfsblare, opgehark
hunkerend na aanraking
dis net die wind wat hulle sagkens kan ronddra
– Elzana Taljaard
Vernuftige vertoning
“All the world’s a stage,
and all the men and women
merely players.”
– William Shakespeare
Die mensdom
het lankal die verhoog verlaat
om selfoonvideos te maak.
Ons redigeer en manipuleer
elke enkele kort scenario.
Die rolle wat ons speel
word vinnig en wyd
op sosiale media gedeel.
Met kreatiewe kunsmatigheid
word baie meer as slegs sewe
onopwindende lewensfases
van middelmatigheid uitgebeeld.
Elkeen se lewe
speel af in die oortreffende trap.
Ons lewer ‘n daaglikse vertoning
terwyl ons iets van onsself verloor
en geduldig wag
op die onsigbare gehoor
se handeklap.
– Andrea Sieberhagen
Een klein tree
Met die vars letsel van een klein tree
hou sy stilswyend die buitemaanse wesens dop,
daar waar hulle op die blou bal baljaar,
en karnavalklanke deur die atmosfeer na haar vaar
waar ruimtevaarders deftig onthaal word,
en wetenskaplikes mekaar trots op die skouer klop.
Sou hul waterstof en suurstof vanuit haar ys kom myn
vir hul vuurpyle, om soos die balletjies in ’n flippermasjien
van planeet tot planeet deur die sterreruim te bons?
Sou hul die nuwe slagvelde tussen oos en wes kom trek,
elke hulpbron vanuit haar kern bewerk,
met spioensatelliete mekaar se geheime ontdek?
Sou die vernames en bekendes steeds skreeu en lag,
steeds op grasperke drink en dans wanneer sy,
omvou in die lappieskombers van elke nasie se vlag,
’n duisternis oor die ruimtesentrum laat val?
Sou hul dan die omvang van die maansending verstaan,
of steeds aandring dat dit een groot sprong vir die mensdom was?
–Nadine Fedeli
Muse
My fontein van woorde het opgedroog;
weggesyfer in dorre sand.
Sal die reën van redding
nie maar saggies
oor my siel uitsak nie?
Sal al die bronne
– uitgeput en swak-
weer vol van wonder woorde raak nie?
My brein se ratte draai en draai,
geen stop; nooit ooit hou dit op nie.
My siel en hart, emosies, vlees en bloed
vloei saam en klop die ritme van die ratte
wat net nooit ooit stop nie.
Klik;ek kom, klik; ek gaan,
die sirkels volg lewensbaan.
En ek pas willoos in.
Miskien sal my elegante,
soms banale Afrikaans
-uit diep verlede, ja, ook die hede –
my nuutste woorde ligvoets oor papier laat dans.
My taal, ons taal van oorlog en vrede;
tot hier gegroei oor honderd jaar.
Ek kan ook groei.
Finies en klaar!
– Ansie Nel
In die land van goud en diamant
Bogronds, in Bronkhorstspruit se hof,
lewer die aangeklaagde vir onwettige diamanthandel sy eie betoog.
Ondergronds, in Stilfontein se donker uitgeholde mynskag,
versmag die onwettiges na water, kos en genadebrood.
“Rook hulle uit!” – die minister in die staat se raad
Die diamanthandelaar veg verbete en verlate vir sy eie saak.
Aan wie behoort die goud en diamant?
Dit hang af van waar jy staan in hierdie land.
Iewers in die parlement word ’n honourable member
ondersoek vir dishonest conduct.
Is hy wat, uitgevat in Gucci, só steel
skuldiger as hy met pik en steel?
Soggens spoed luukse motors op teerpaaie verby
terwyl die desperates hulle ondergrondse tonnels uitbrei:
bogronds is die lewe blink, ondergronds is die lewe stink.
–Aniki Joseph
my taal, no ghap
interesting feit: ʼn is ʼn veswakking vannie ouer
litwootvorm een (AWS, 2009) & ʼit maak sin dattie
afkappingstieken shaped is soese traan
daai black hanging grief is altyd daa
nessie gront en dié taal mos altwie myne
dan skielikie mee nie soes byrie poskantoor
innie neelsie silwer krulle van gewese goue hare
haa gekriekelde hanne certify my ID copy
sê ek praat baie mooi. sê my Afrikaans is
ordentlik. sy wag vi my om dankie te sê
Afrikaans, Afrikaans met haa dubbele ontkenning
willie vi my kennie vraag: hoeveel begrafnispamfletjies
moet geprint wôt in my taal voodat ʼit rerag myne is? anwoot my
anwoot my! interesting feit: die eeste Afrikaanse teks
was geskryf in Arabiese letters /tonge noggie unstiched
maa cursive soesie swirlkous gevleg deu my suste se hare
cursive soesie wasgoedt se edges wat ouma overlap oppie
lyn om pennietjies te spaar, cursive & slant soes derra
bearing allie weight van bruin wies no ghap
Afrikaans is myne alien & allie gate innie vokale
issie boelet holes ʼie oekie die gront se oep bekkie
maa liewes portals na ʼn plek waa ôs mobile toe gan
& liewentag trug kô. elke diftong is ekke reunited
met my broese oppie fletse se trappe
waa ôs oep mont lag, tonge dusk orange van lukwartels iet
– Keith Oliver Lewis
klein hesperiada
vir Eugène N. Marais
die spinnerak se laserskyf straal
in die sakkende son die sewe van
die reënboog en ruk hul uit hul verband
om later met eie lig te begin blink en glim
die kinders in die dorp skree uitgelate
en baljaar voor hulle al hoe stiller word
en na binne geroep word om sprakeloos
na sprokies te luister en te gaan slaap
die warm lug bo die kim vat die klanke
en dra op die laaste trae liggolwe hul satyn
reste na elders die geluide wissel snel
tussen rooigeel robynrooi en donkerrooi
die honde op die plaas blaf harder teen
die swart wat tussen die kleure skemer
nader sluip en donker beloftes waarmaak
dan gaan hul angstig lê naas hul instinkte
die laat speg kom aan die vlerke klap kort
en hy klou aan die den se stam vas
die voël pik kap en klop tussen die boom
en die bas – die nag maak meteens oop
– Jerzy Koch
ongebonde
waar vokale en konsonante van oer-eggo’s
integreer
en neologismes flink flankeer
du dialekte tot dawerende dreuning
kotteljons klanke poenankies
om braaivleisvure en tussen jolplekmure
van vissersboot tot raadsaal
Kalahari-duin tot diepste myn
kom lê die wete
in gebede
en gesprekke
in saamsing
en vergadering
Afrikaans se vlerke is wyd gesprei
die kombuistaal is vry
– Retha van Deventer
Donderweer
Ja, Ma
Vanaand speel die engele
Dit klink na bowling
Daar donder ’n paar tenpins nou om
Lat die vonke spat
Lat die hond wip
En lat my ouma haastig die foon aflui
Dis Vrydagaand
Ek guess, hulle moet oek relax
Want die wêreld is woes
Dis waak innie waakeenhede
Dis wyshede fluister
In ore wat skaars wil luister
Dis stukkies gebroke harte optel
Dis trane tel
Sien … rekenskap moet gegee word
Dis ’n delikate saak
Dus, laat hulle maar toe
Om daar doer te donder
Wat hul moet
Dat hul daarna
Weer sagkens
Met die mensdom te doene het.
– Chrislyn Robinson
Ander lewe
Toe ek op sestig jaar
nie in Stilbaai se see swem soos Breyten se pa nie,
maar stap op sy strand sestien kilometer
– son op my gesig
sand tussen die tone
op skulpgruis wat die San seker sou benut
skuimspatsels in bolle aangewaai tot voor my voete
slierte reën skielik
en seemeeu Jonathan op ’n pinakel by die see se soom –
sien ek dat daar al die tyd ’n ander wêreld was …
’n Lewe buiten onderwys:
Groot vis
in die kleindamklas, ses maal per dag,
meer as deeglik voorbereid om die aas te ignoreer
en te spook en spartel met kinders en kollegas,
het ek met piekstandaarde die bodem skoongehou.
Die presisie van opstelle merk en foute remedieer, was my kos.
Buite die dam, na-ure, was ek uit my vaarwater op die baan en veld,
maar ’n vis in die water in die skoolbiblioteek.
In dié stil baai is ek nie bekend nie.
Niemand weet van my, die Afrikaansjuffrou, nie.
Hier kan ek nie eens die groot dam se einde sien nie.
Die wêreld daar buite is van? baie eeue terug
En hoe ver vooruit.
En ek ’n enkele klein vissie wat in dié see geen naam het nie.
– Geraldine Klopper
Taalkombers
Kyk hoe vêr het ons gekom,
sal ons net weet as ons omkyk en tel
hoeveel treë hoeveel hekke deur,
hoeveel smoelneukers het raak geslaan
hoeveel bakens is staangemaak
vanaf ons komvandaan tot hier.
Noudat ons hier is
vou my toe in jou taalkombers
sing vir my in lieflike woorde
van ons liefde wat jonk soos ’n belofte was
soos ’n lente ingewag op die groeipunte van stingels
gevoed met swart ink uit die donker grond
tone om klippers, gryp ’n handvol gruis
met haarwortels se gevoelige senupunte
ingeglip by ’n skeurtjie en geswel
tot die klipbank se waters breek
Vir die wat die wonder van die spoor soek
volg die formasies geduldig, noukeurig
– argeoloog met jou klein klein beiteltjie –
na hoe jy my name moet rol
op die tong
in die mond
deur die neus
proe in jou verhemelte –
diftong, tongval, klik
met een tong gepraat:
Ek is lief vir jou Afrikaans
– Anton Döckel
oesjaar
bring die boesel tot die rand gevul
aan geen tros gekorrel deur uitverkorenes nie
elke woord blinksoet op die tong
proe hoe taal oopbars
tussen wingerdrye
kieste vol sap
skuil ons teen die son
loop speel-speel leivoor langs
tot gevaarlik naby die gronddam
geen speletjies meer
toe die grootmense ons daar kry
daar het ’n kind verdrink
net verlede week
dis woorde hierdie
korrels onthou en vertel
behoedsaam luister
kind en kraai
ook die frank teen die verhemelte
druk onwillekeurig stemloos deur
in die kakebeen se vorm
lê die taal wat die oor hoor
in jou in my
’n bekende vreemdheid
asof uit ander grond
dieselfde mond
– Helena Ewert
Bagasie
het ek jou al vertel, van die ou oom by die spoor
in die huis met die sweep teen die muur – hy’t die greep al verloor
vier slotte en ’n loergat, traliehek voor die deur
“no hawkers / geen smouse,” ek skiet jou sommer plat – mauser-geweer
die geweer is gelaai, maar die sneller is koud
die kinders maak hom bang, die wind is aan die draai, sy hande is oud
elke nag kom die trein, oor die klop van sy hart
dekades van prente wat ruk deur sy brein: eers wit, dan swart
van perdekar tot pendeltuig; en nou wil almal hom oorreed
maar niemand wil verstaan nie: te oud om te verander, te jonk om te vergeet
hy’t my nou die dag vertel: al die pyne in sy been
al die dinge om hom wat hom ontstel – waar gaan die wêreld heen
ek’s ’n boer, ek’s ’n boer, ek sal alles daarvoor ruil
Merinos, Dorpers, Angoras en Brahmane … toe’t hy beginne huil
omgedraai en geloop, kamma kwaai, kamma sterk
sy laaste woorde aan my: vir watter baas moet ek nou werk?
ek klim weer af by die stasie
net om te kyk, net te groet
in my hand die bagasie
en ’n doring in my voet
– Philip Moolman
Jogaklas
As ek in die child’s pose lê
voorkop nederig op die mat
arms die parentese
lyf binne-in opgesom
weerloos, tog weerbaar
dink ek terug aan skool
meneer Wolmarans met sy afro
die swartbord vol deelversamelings
want ek sien my voete
die groottone wat net-net raak
en dit lyk soos een algebraïese krulhakie
onvoltooide versameling, dus
my bene oopgesprei
in ’n gelykbenige driehoek
en my buik wat knus
soos ’n ingeskrewe sirkel
binne-in rus
Dan dwaal my gedagtes …
ek wonder hoeveel mense dink aan Wiskunde
in die jogaklas …
watter versameling sal ek, eindige mens
tussen my voete se krulhakies pas …
Bereken sigma van die oneindige reeks:
{3a; d; n; k; b; r; …}
– Ronelda Jordaan
Suikerbos
Hoor jy die sterre
ritsel in die gras
hoe hulle kom luister na die woorde
tussen my en jou
wat eintlik niks anders is
as suikerbos hier ondermaans nie?
Hulle hoor hoe klink dit suikerbek
en sien in primordiale lig
hoe diep
na elke keeltjievol
dit suikerbekkig dink
hoe ver ons woorde en ons sinne kom.
Laat los nou die kelk van bitterheid.
– Paula Hartzenberg
Hoe ver nog?
Onskuldig het ons van mekaar geleer
met ink en veer
uit Bybels, stories in skole laat gedy
met griffels en lei
gaan leer vir pastoor, predikant en leraar
Met DOS en rekenaar
kom toe kennis en mag, kruip ons uit ons dop
met stiffie en flop
Toe raak alles maklik, vinnig en groot
met rekenaar op die skoot
Net oudag, vol skete, se oë en ore werk min
met ʼn foon so slim
Vandag voel niemand ʼn veer
deur globale netwerk verlei
tik is ʼn dwelm
DOS ʼn persoon
flop ʼn resep
ʼn skoot maak dood
slim skryf nou ʼn nuwe taal
foneties, onsuiwer en vreemd
– Elsabé Fouché
Waters van taal
Voor ek kon asem kry, het jy my aan die Woord bekend gestel;
soos Johannes sê: “In die begin was die Woord …”
Vir my was dit jy, Mammie:
jou baarmoeder ’n heiligdom;
jou stem, ’n fluistering oor waters, ritme, klank geweef in sorg,
het om my gevou soos ’n belofte
wat nog moes word.
jy’t vertel hoe jy in die bad lê,
my toespreek in jou binneste waters, met musiek in jou ore.
Jy’t ons gevul met note en woorde,
’n skepping van teenwoordigheid.
Soos onse Krotoa
het jy taal en klank geweef, oor waters wat ons omvou –
’n liefde vir wat moes kom.
Jy het my gewapen met woorde,
het taal in my laat groei.
Maar jy het my nie voorberei
vir jou stilword nie.
Die een wat my stem gegee het,
is nou stil. Weg.
Nou is ek leeg van Woord en woord.
Wat bly oor?
’n Stille eggo.
’n Verlange om jou stem
in die water nog eenmaal te hoor.
– Laniëlle Hartzenberg
1939-2024
En toe’s ook jy nie onsterflik nie lank lewe
die albino terroris wat verby die moederspeen
op ons skel skouspelagtig is jy gevuurdoop
in die kapel van die beroemde begraafplaas in Parys.
En nou wil ek weet, windvoël, vlieg jy nou windgat
rond so mooi soos jy was met jou Oosterse neus
op die tapyt van jou ewige woorde en sing spokerige
sexy kelnerinne jou sonnette op die stad se mure en dans
jou oorlede baardhare pikswart? Want hulle sê
in die nuwe Jerusalem of is dit nou die paradys waarin jy
ook een seisoen was is ons almal in ons fleur soos Jesus
toe hy uit die grot geklim het.
Dis nou te sê of jy deur die pêrelpoorte is of is jy katastrofaal
gehok in ’n woordtorinkie dig of sit jy agter kouevuurtralies
in ’n haatlike staat apart waar ysterkoeie stink soos hul sweet
soos hul sweet en en is jy nog ’n Boeddhis en het jy al iets gehoor
van vader Zen en is die folteraars jou genadig want jy was
skadelik soos ’n vlieg?
Maar dalk het jy een nag stilletjies vir die skrynwerker gesê
want jy was mos een slag Christian, onthou? –
Here my Here die mond is te geheim om pyn nie te voel nie ek kom
hou my en help my en laat my nie deur die wolke lek terug
aarde toe nie want karma is ’n sluwe teef wat op grafte kak
en ek lê liewers by die leeu en die lam en ek skilder liewers
nege landskappe Afrikageure vir U.
– Jelleke Wierenga
Vlieg, vloek en dans
Nie altyd lewend nie, maar altyd leesbaar
Tasbaar, teenwoordig en waardig
Nie vlees of bloed of been nie
Maar papier en ink, leer en weefstof
Gesegdes en gedigte en gebede binne sagtebande
Spreekwoorde en spreekfoute en Spreuke
Binne die diepste. Swaarste. Hardste bande
Dissie wêrelde waar my vadertrots en moedertaal
My geskep en omskep het
Hulle stories en strofes
Salf my, kleed my vlees
Beverf my verstand met ’n leeftyd se fiksie en vrees
Hulle psalms en praatstyle
Leer my hoe om te vlieg, vloek en dans met woorde
Vertroostende woorde wattie rouheid kan verlig
Wattie pyn kan versteek
Of dit ’n honderd keer kan vererger
Hulle almal — elke outeur op my teerpad
Was ’n Poort. ’n Profeet. ’n Herder. ’n Ouer
Myne
Die stemme en geeste wat my gevoer en
Vervoer het oor die jare
Wat my geleer het hoe om te vlieg
Tussen bladsye en boekrakke, tussen ’n duisend wêrelde
En dié een.
– Yuwinn Kraukamp
Tot heel volle toe
hart van ’n kind
in ’n grootmens gelaat
as jy Afrikaans met my praat
proberen, zonder enige terughoudendheid
maakie saakie, ienagge variëteit
jy moet net saam my-goed praat
soelank djy net prat sam my
saam-saam sal ons die wa deur die drif kry
– Alma Rossouw
Ek wil
Ek wil soos ‘n rooiborsduif
teen jou bors kom lê
met my oor in die kuiltjie van jou keel
sodat ek jou hart
mooi kan hoor klop.
In jou warmte en in die lib-dib
sal my borste
volrond swel en die spits tepeltjies
sal jou uit jou slaap wakker maak!
My asem sal teen jou nek op golf;
die fyn, fyn haartjies van jou cochlea streel,
sodat jou hande onwillekeurig
oor my ruggraat
– nou soos ’n fyngestemde vioolsnaar –
begin stryk; eers sag soos oor ‘n sonate,
maar weldra al dwingender.
Jou kop sal na my toe draai,
jou mond soekend na mý mond.
Vir jou sal ek oopmaak soos ‘n kelk
sodat jy soetwyn uit my keel kan drink.
En wanneer jy dronk van wellus
jou finale kleim uit my diepte wil kom pen,
sal ek wegvlieg en weet:
vir jóú het ek oorwin.
Ék is die godin.
– Seasca
my binnewêreld
my enigste heenkome
word die orakel waar huisgode in raaisels met my praat
my naam in ’n vreemdeling se mond
is ’n leidraad wat my tot verbetering bring
vanuit die staanspoor was daar ’n gebrek aan toewyding
(hieraan ontken ek alle skuld)
en jy dra jou naam ’n klip onder jou tong
by elke gesprek en onderonsie in;
jy keer terug
(’n geweld wat jy my aandoen)
en jy’t sonder gewete jou tong
klip en al ingesluk
swyend wag ek jou in
kleur jou wonde die belladonna van myne
luister na die kriek onder die yskas
die blomsalie op die vensterbank se paaiende monoloog
die aanhoudende wolklose reën
my liefdeslandskap het haelskade
en die klippe wat daar geval het mag nie versit word nie
die ritmes om my (klip, kriek, korrels)
dui kodenderwys op nog ’n wond
nog ’n dag
’n wond en dag nader aan verlossing
kyk hoe ver het ons gekom
– Ruan Fourie
Nostalgie
Die grassnyer kruie hartseer oor wintergras,
sy taak eensaam in hierdie droë seisoen,
sonder blomme en heuningby.
Hy sny die dooie polle korter
en laat die geelbruin loof warrel,
as sy lemme daaroor gly.
Dié droewige grasmeulenaar verlang
na die soete groen en somerson,
en wou vir altyd daar gedy.
– Jacques Boshoff
Man met ’n blom in sy mond
wanneer die mond ’n hand is
en die tong kwas
– breyten breytenbach
Hoe ver het ons gekom, hoe ver deur jou gedra,
jy wat ons woordvas kon plant op skugter bene
tussen die kruis en sakrale vyeboom,
en kyk, lúíster: jou hand is ’n geurgesang
van kleur, jou mond
die dreuning van ’n blom.
Hoe ver het ons gekom, hoe ver deur jou gedra
na hierdie middelgrond met jou rooi velskoene
op die kis gelaat, jy het gesterf, jou bene gekry,
en spoor gevat, kaalvoet, deur die wakkerwees
onder ’n broodboom
daar in anderland se kapel.
Soos die narsing se nege blare het die bouwerk
om jou ingekoepel, maar weet tog, liewe mens,
in daardie koelte was jy nooit alleen nie,
ons almal kon jou sien toe jy na buite stap
met jou hand nog talmend, en jou mond
wat peusel-peusel aan ’n eerste sakrament
van die alomstilte. Nietemin,
en al hoe meer –
hoe skraal laat jy ons nie agter in hierdie verte
waarheen jy ons geneem het nie, maar tog ook
heerlik versadig aan soveel woordpeule
onder jou gedagteboom.
Die asem is immers ’n handomkeer.
*
In memoriam: Breyten Breytenbach,
3 Desember 2024
– Louis Esterhuizen
’n Handvol horingoue woorde
Ek is Pappa se aspatat,
nig Kardoesie se karnallie.
Ant Hannie noem my
Husse-met-lang-ore.
Ousus met poegaai
nagkabaai
dartel by die draadloos
in die voorhuis.
Ouboet tokkel op
sy ramkiekie
met net een snaar.
Geen harlaboerla vir hom nie.
Ouma ginnegaap
gedoriewaar
met Mabalel en
Marilyn Monroe
in haar huisie by die see.
In die agterjaart
tussen kanniedood
en kruidjie-roer-my-nie
plant Oupa
Totius se doringboompie.
Arriewarrie.
– Corlia Fourie
Dié is mos my taal
Tyd gan soe gou veby:
Eers was ek n bietji skaam
om te skryf in my eie taal.
Wore kommi soe maklik as ek in Engels skryf ni,
aldou ek tweetalig is.
Toe ek hoo Gaireyah se Kaaps is Hollands,
toe koep ek soema di hele bundel (oek).
Ek lies gedigte van Nathan en Shaun
en ek dink, yor! Dié is nou vi jou n ding.
Shirmoney lat my oek excited voel om te lies,
wan dis in my eie taal.
Ek begin lies soes nooit van tevore ni.
Van Jerome tot Diana en Churchil se werke.
Ek begin soek wore op om my eie
skryfwerk te improve,
soes dit mos hoort te wies.
Ek wou in gedigte vedrink.
Ek wou nagte lank voo n Afrikaans pot sit
met klanke vir kole
en di reuk van nuwe boeke in di atmosfee.
Wat my wee soes n kind lat voel.
Om te skryf in my eie taal, Kaaps.
Di taal wat ek in praat.
Di taal wamien ek gebore is.
Yt my ma se womb yt.
– Chestlyn Draghoender
sin
vir woorde en vir waarheid
in elke mens- en engeletaal
is daar spelreëls en beginsels
wat uitdrukking bepaal
in leksikon tel lemma
akuut gravis aksent
van deelteken en komma
tot punt en sielsmoment
dié reëls en regulasies
van deurslaggewende belang
is die boë en die balke
waaraan sinstrukture hang
maar dikwels wanneer mense
wil praat of dalk moet luister
word woordeskat gegrendel
word spraak stóm ingekluister
dan wéér verward in Babel
– teensinnig teruggedwing –
verstil misverstand en krete
tot verbete fluistering
– Mariëtte Crafford