Lukas 6:37
Op besoek aan die Drakensberge
dwaal ons van die hoofpad
en beland by ‘n Hindoe-god,
groot en blou
en netjies afgeëts teen die
groen en grys van die berge.
Hierdie god, stil en waardig,
tuur oor die vallei en terwyl
pelgrims stadig buig en bid
en geurige offerstokkies brand
trap my dogter onwetend
oor die heilige kring.
Die god beweeg nie.
Die pelgrims gluur haar aan.
© Jacques Boshoff, 2024
