
Andries de Beer kan soms verstrooid wees, maar taal en digkuns fokus sy aandag. Sy eerste gedig verskyn in sy laerskool se koerant. Op hoërskool lees Nelson Mandela een van sy gedigte en nooi hom vir ontbyt. Van daar af loop die pad van poësie saam met punk, politiek en performance. Steeds in die hoërskool, organiseer hy ’n rockfees waar Saron Gas (nou Seether) en Beeskraal op die verhoog verskyn. Later help hy die ondergrondse Afrikaanse kunste aan die gons hou deur sy deel te doen by Postbox en JJ Creative. Liriek en lawaai blyk sy voorland te wees, en by Oppikoppi kry hy sy eie verhoog – waar ballet, hiphop, opera en die wenners van Battle of the Bands saam ‘n tuiste kry. In Pretoria gee hy geboorte aan die Dowe Digters en lei interkulturele musiek-en-poësie-aande onder die banier Ziyawa, it is happening in Mamelodi, Melville en Centurion. In Eersterus word Afrikaaps ’n ruimte vir insluiting, en in Bronkhorstspruit bring hy lewe na die kroegvloere van Die Sinkshack met gedigte en musiek. Railways Café in Irene, Centurion word sy stamkafee, waar hy nie net kunstenaars vlerke gee nie, maar ook die eienaars blootstel aan die moontlikheid van poësie en musiek.
Hy’s ’n kernlid van Die Oopmondbende wat landswyd op feeste en in teaters optree met ‘n mengsel van bekgeveg, liriek en klank. By Digsange bring hy hulde aan die Afrikaanse kunslied saam met legendes soos Mimi Coertse. Sy stem was ook te hoor by die Mamelodi Poetry Festival, en die Sitstories-projek in Wellington dra ook sy handtekening.
Sy debuutbundel, Aalmoes vir die bootman, bring die stemme van randfigure tot lewe in poësie, ritueel en veldnotas. Daarna stig hy die band Rafel, waar sy verse in musiek verander – en Die Kaalkopwaarheid toonset sy gedig “Klara Majola“.
Hy skryf soms as Die Markies van Karrebas of Abjater Ronkedoor, en op die verhoog is hy Andries van Pretoria. Met ’n DPhil in Toerismebestuur fokus hy as dosent by CPUT op storievertelling, identiteit en gemeenskapsontwikkeling. Andries is ook ’n gekwalifiseerde gids wat al toeriste per vragmotor deur Suider-Afrika geneem het.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
