
Anita Van der Walt (neé Schutte) is in 1957 in Potchefstroom gebore en het groot geword in Grahamstown. Sy gaan skool by Hoërskool PJ Olivier vanaf standerd drie tot matriek en daarna gaan studeer sy medies aan die Universiteit van Stellenbosch, Tygerberg Hospitaal. In 1982 behaal sy haar MBChB waarna sy verder studeer en ook haar nagraadse diploma in Verloskunde behaal aan die College of Medicine SA Oct. Verdere nagraadse studies aan die Universiteit van Kaapstad sluit in ’n Diploma in Beroepsgesondheid (1998) en ’n meestersgraad in werksverwante respiratoriese allergiese longsiektes (2010).
Anita praktiseer as ’n Beroepsgeneeskundige vir baie jare by verskeie industrieë in Kaapstad maar het altyd aan die skryf gebly. Onder leiding van Louis Esterhuizen het sy geleer om die digkuns te bemeester. In 2021 debuteer sy met die bundel Hierdie Maandag is abstrak, uitgegee deur Turksvy Publikasies.
In 2021 oorleef Anita ’n subarachnoïdale aneurisme (breinbloeding). Nadat sy vir ’n maand in ’n koma was, gekoppel aan masjiene en ’n ventilator, herstel sy ten volle danksy die puik dokters in wie se sorg sy was.
Anita beskryf haarself as “van empatie aanmekaar gesit”. Sy voel die pyn en lyding vir mens, dier en die natuur en skep behae in alles wat mooi is, van die natuur, oseane, kerke, musiek, kuns en God se liefde vir die mens en die lewe self wat as die grootste wonderwerk heers hier op Aarde. “Dit is wonderlekker om daaroor te kan skryf.”
“Die lewe is een lang duur les vir my. Mag ek vir Sir David Attenborough aanhaal en sê:
In a world of staged moments,
Do not forget
The quiet genuine acts of kindness
that truly defines us.”
Publikasies:
- Hierdie Maandag is abstrak
- Op die nerf af
- Lewe die sous werd
- elke strooihalm op sy plek

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
