Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 July 2025

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Julie 2025

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

’n Nuwe bestuur vir PEN Afrikaans: Gooi asseblief name in die hoed

Daar sal vanjaar by ons algemene jaarvergadering ’n nuwe bestuur van PEN Afrikaans verkies word. Die bestuur dien telkens vir ’n termyn van twee jaar en is die verkose liggaam wat besluite rondom PEN Afrikaans se werksaamhede en projekte neem.

Ons nooi hiermee ons lede uit om name in die hoed te gooi met die oog op die verkiesing van ’n nuwe bestuur. Om op die bestuur te dien, behels grotendeels die saamdink en saampraat oor ons organisasie se doelstellings en hoe om daaraan uiting te gee. PEN Afrikaans se doelstellings is in die eerste plek om die belange van Afrikaanse skrywers, in die wydste sin van die woord, en die Afrikaanse woordkuns te beskerm en te bevorder, in ooreenstemming met die beginsels vervat in die PEN-handves, wat ’n onlosmaaklike deel van ons visie en missie uitmaak.

Watter projekte behoort PEN Afrikaans aan te pak? Watter gesprekke moet ons voer? Hoe kan ons vir ons lede iets konkreets beteken? Hoe kan ons die Afrikaanse woordkuns bevorder? Kom dink en gesels saam tydens kwartaallikse bestuursvergaderings wat gewoonlik aanlyn plaasvind.

Skryf gerus aan ons by penafrikaans@gmail.com indien jy ’n ander lid wil benoem om op die bestuur te dien of indien jy self jou hand daarvoor wil opsteek. Almal is hartlik welkom.

Inligting oor ons algemene jaarvergadering sal by volgende maand se nuusbrief ingesluit wees.

PEN Afrikaans by die internasionale PEN-kongres 2025


Dit is ’n plesier om die nuus te deel dat PEN Afrikaans weer vanjaar verteenwoordig sal word by die internasionale PEN-kongres. Die kongres vind hierdie keer in Kraków in Pole plaas. Mercy Kannemeyer sal die kongres namens PEN Afrikaans bywoon. Sy sal ook tydens die kongres verkiesbaar wees tot die Young Writers Committee, die nuutgestigte komitee van PEN International.

Ook Fiona van Kerwel, bestuurslid gemoeid met die “Onsigbare kind”-projek, wat PEN Afrikaans saam met PEN International aangebied het, sal die kongres op PEN International se uitnodiging bywoon. Ons is baie bly hieroor.

Ons dank aan Mercy en Fiona wat ons op hierdie wêreldverhoog sal verteenwoordig.

Die 91ste internasionale PEN-kongres sal van 2 – 5 September plaasvind en die amptelike kongrestema is “Freedom of Words – Words of the Free”. Ons sal terugvoer deel wanneer dit beskikbaar is.

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 – Literatuur is steeds die hart

Die program vir die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees is omvangryk met nagenoeg 400 items in 12 genres. Dit sluit die opwindende program in wat die bekroonde digter Bibi Slippers vir die EasyEquities Skrywersfees saamgestel het.

“Die fees het rondom boeke ontstaan en literatuur is aan die hart van die fees,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die fees spog vanjaar vir die eerste keer met twee feesdigters. Antjie Krog en Siphokazi Jonas deel vanjaar hierdie posisie van feesdigter.

Nog ’n nuwigheid is die Dag van poësie. Digters van Suid-Afrika, Kanada, Peru en Vlaandere kom byeen om digkuns te lees, te bespreek en uit te voer. ’n Dagkaartjie gee jou toegang tot al die voorlesings en besprekings. Daar is ook vir die eerste keer ’n Geskiedenisdag waarin historiese boeke gevier word. Die Skrywersprogram is propvol besprekings, partytjies, voorlesings, samekomste en gesprekke.

Feesgangers gaan selfs in stilte sit en saam lees en skryf. Soggens is daar ’n oggendkoffie saam met jou gunstelingskrywers en saans ’n glas wyn in die gewilde Boekklub-reeks.

Fiksie, niefiksie, digkuns, paneelbesprekings, leefstylboeke, partytjies en deelname aan allerlei aktiwiteite is vir jou beplan. Bespreek en kom net.

“Met ons 25ste verjaardag is dit dan juis ook gepas dat daar in baie van die genres ’n sterk literêre aanslag is,” sê Saartjie. “Dis nie net van toepassing op die EasyEquities Skrywersprogram nie – daar is ook ’n sterk literêre inslag op die Spier Toneel- en Klassieke musiekprogramme.”

Breyten Breytenbach se toneelstuk Boklied word ná 28 jaar by die Woordfees aangebied met Marthinus Basson as regisseur. Ander sterk literêre skatte sluit in Lynthia Julius se verdere uitbreiding van haar digbundel Kinderlê en die verwerking van Ronelda Kamfer se bekroonde roman, Kompoun. Chris van Niekerk en Joanie Combrink gee lewe aan die enigmatiese digter Peter Blum in Hortjies dig: Die storie van die digter Peter Blum. In Die siel van Eugène Marais verken Daniel Anderson die lewensreis van dié veelsydige en veelvlakkige skrywer. Albert Pretorius is te sien in Ek is nie Danie, ’n verwerking van Danie Marais se poësie, terwyl Sandra Prinsloo die Nobel-prysbekroonde Annie Ernaux se Die ander dogter, lewe gee op die verhoog.

Athol Fugard word gehuldig deur ’n aanbieding van die ikoniese Boesman en Lena. Christo Davids is die regisseur. Twee wenners van die Reinet Nagtegaal-teksprys is op die program ingesluit: Dianne du Toit Albertze se wendrama, Huis van sand met Tinarie van Wyk Loots, en die naaswenner André Gerber se satire Die kabinet. Die Woordfees bedank Dirk Nagtegaal vir die herlewing van die Reinet Nagtegaal-teksprys.

Lees die volledige persverklaring hier: https://www.litnet.co.za/persverklaring-toyota-stellenbosch-woordfees-2025-literatuur-is-steeds-die-hart/

Skryf nou in vir die Kommadagga-slypskool en -residensie


Die Jakes Gerwel Stigting bied, in vennootskap met Huisgenoot en LitNet, ’n mentorskapprogram aan belowende opkomende kortverhaalskrywers. Die naam van die slypskool verwys na die omgewing waar Jakes Gerwel grootgeword het.

Die skrywers sal onder leiding van die bekwame mentor, Fourie Botha, tydens die residensie skaaf aan kortverhale wat spesifiek gemik is op Huisgenoot se gesinsmark. Indien dié tydskrif na afloop van die kursus ’n skrywer se kortverhaal goedkeur, sal die skrywer daarvoor vergoed word.

LitNet bied verdere blootstelling aan die jong skrywers en die projek en bied moontlike verdere publikasie-geleenthede.

Inskrywings sluit 25 Julie. Belangstellendes kan by hierdie skakel aansoek doen.

Program: Etienne van Heerden Veldsoirée

Die Etienne van Heerden Veldsoirée, wat die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad en die ATKV-skryfskool insluit, vind van 25 – 27 Julie 2025 op Cradock in die Oos-Kaap plaas.

Dit beloof om ’n hoogtepunt te wees. Klik gerus hier vir die volledige program.

Rus in vrede, C. Johan Bakkes


Op 24 Junie is die geliefde skrywer C. Johan Bakkes oorlede. Ons groet ’n sonderlinge skrywer, reisiger en ’n vriend vir vele.

“Die lewe soos aan my voorgesit, is tot die droesem gedrink en so is elke los krummeltjie verorber … hoe gelukkig kan een mens nie wees nie? Dat hy so-by-so die lewe kon uitleef voordat dit oor is.”
(Uit: Erfgeld is swerfgeld; aangehaal op Netwerk24, 5 Julie 2020)

Mooi gaan, Johan Bakkes. Ons dink aan sy geliefdes in hierdie tyd.

Lees sy LitNet Skrywersalbum hier: https://www.litnet.co.za/c-johan-bakkes-1956/

Maandelikse resensie-oorsig


Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2025

Baie geluk aan ons lede wat in Julie nuwe boeke op die rakke het.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte:

  • Baie welkom aan Hans Pienaar en Piet van Rooyen wat sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit het.
  • Die Vrystaat Kunstefees is tans aan die gang en daar is ’n wye verskeidenheid boekgesprekke op die program. Klik gerus hier vir meer inligting oor die Literatuurfees se aanbod.
  • Een van ons lede, Marieta Nel, het laat weet dat daar op 23 Augustus as deel van die Welgemoed Kunstefees ’n gesprek met Antjie Krog plaasvind waarvoor kaartjies hier te koop is. Krog sal in gesprek wees met die veteraan-omroeper Iris Bester oor haar diep persoonlike roman Binnerym van bloed, wat grense tussen genres verskuif en die verhouding met haar skrywersma, Dot Serfontein, ondersoek. Daar wag ook ’n voorsmakie van haar komende kleuterverseboek.
  • André P. Brink sou op 29 Mei vanjaar sy 90ste verjaarsdag gevier het. Hy is op Vrydag, 6 Februarie 2015, tydens ’n vlug van Amsterdam na Kaapstad oorlede. Ons eer sy nagedagtenis en sy monumentale bydrae tot die (Suid-)Afrikaanse letterkunde. Lees gerus weer by hierdie skakel die huldeblyk wat Kerneels Breytenbach destyds namens PEN Afrikaans geskryf het.

(Foto deur Naomi Bruwer: Brink by PEN Afrikaans se eerste ledevergadering.)

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← PEN Afrikaans. Nuusbrief: Junie 2025
PEN Afrikaans. Nuusbrief: Augustus 2025 →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d