Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 August 2025

Resensie: “Amplitudes & koloriete” (Meyer van Rensburg)

 

 

 

 

Resensie: Amplitudes & koloriete deur Meyer van Rensburg. Pretoria, 2025. Imprimatur. ISBN: 9781037016691

Resensent: Nini Bennett-Moll

 

I

Meyer Janse van Rensburg is in 1944 in Upington gebore as die jongste seun in ’n gesin van sewe kinders. Hy het in Noordwes grootgeword, maar na sy pa se afsterwe verhuis die gesin na Brits waar hy matrikuleer. Hy sluit in 1962 aan by die SAUK as musiekopname-ingenieur, en is ook later werksaam in die Springbokradio-ateljee. Hier sluit sy pligte onder meer die volgende in: om al die plate, bande en spots (kommersiële boodskappe) teen die korrekte spoed en op die regte plek te speel. Hierdie ondervinding het hom later handig te pas gekom, nie net in die musiekbedryf nie, maar ook met sy debuutbundel, Klankmanwoordboom (1983).

In 1966 is hy as musiekopname-ingenieur betrokke by opnames van Jazz en ligte musiek, wat ook Boeremusiek insluit.

In 1972 aanvaar Van Rensburg ’n pos by R.P.M.-ateljees wat sy “ruk-en-rol-dae” binnelui. Toe die televisiediens begin, bemoei hy hom met lewendige musiekuitsendings. Hy begin lirieke vir musiekkunstenaars skryf, onder andere vir Glenys Lynne, Sias Reinecke, Malie Kelly en Gene Rockwell. Dit lei dan tot die begin van sy loopbaan as digter, en in 1983 verskyn sy eerste digbundel, Klankmanwoordboom, wat besonder gunstig deur die kritici ontvang, en bestempel is as ’n bundel waar “die taalklank en die semantiese waarde van die woord kommunikatief gebind word” (T.T. Cloete). Laasgenoemde bundel is geloof vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring as gevolg van die ontginning van die tegniese sy van die klankwêreld in die poësie.

Die mikrofoon-hangstok, beter bekend in Engels as ’n “boom” is losweg vertaal ’n “klankboom”. Hierdie leitmotief word nie net in Van Rensburg se debuutbundel nie, maar deurgaans in sy oeuvre ontgin. Voor hy na Engeland emigreer, saai hy regstreeks uit as deeltydse omroeper by Radio Kansel.

In 1982 neem hy die besluit om die res van sy lewe aan God te wy. Van Rensburg verwerf ’n PhD in Teologie, en tree in 2013 af as senior dosent en akademiese dekaan by die South London Christian College.

Hy is onder meer die outeur van sewe Engelse Christen-publikasies, en sy belangstellings sluit in om te reis en te skilder.

Sy tweede bundel, Heenkoms verskyn in 2021, wat insgelyks ’n besonder gunstige resepsie tot gevolg gehad het.

 

II

Soos in die geval van Van Rensburg se vorige twee bundels, maak hy gebruik van kleur en klank in sy jongste bundel, Amplitudes en koloriete, wat onlangs by Imprimatur verskyn het. Die voorplat is deur die digter self geskilder en die wielvormige ontwerp herinner aan Copernicus se heliosentriese model (15), maar dra ook suggesties van Newton se kleurwiel (55). Die omslagkuns is ruig aan betekenis, want ’n wiel simboliseer die sikliese aard van tyd, lewe, seisoene, lewensfases, of die kosmiese orde. ’n Wiel word voorts geassosieer met beweging, transformasie en “dryfkrag”, wat as subteks tot die bundel staan. Dit kan ook oneindigheid of ewige herhaling verteenwoordig, soos die konsep van “die wiel van tyd” voorstel. Die herhalende aard van die wiel kom later weer ter sprake, soos ek sal aantoon.

Van Rensburg se tematiese kern spil om die sinergie tussen klank (verteenwoordig deur “amplitudes”) en kleur (vergestalt in “koloriete”). Die digter gebruik hierdie elemente om die kompleksiteit van menslike ervarings te verken – van die stille vibrasies van verlange, tot die lewendige uitbarstings van vreugde. Die verse is geweldig ekspressief en die vername digterlike ingreep is sinestese – skilderye en palette sing en orkestreer selfs; en musiek en ander klankmatige elemente word aan die hand van verskillende kleure verken.

Die woord koloriet is afgelei uit die Franse woord coloris, wat kleur of kleurgebruik beteken. In Afrikaans het “koloriet” tot ’n omvangryke betekenis ontwikkel. Koloriete kan die kenmerkende toon, styl, karakter of stemming van kunsuitdrukking verbeeld, dikwels met die fokus op die harmonie, of die lewendige eienskappe van ’n visueel artistieke uitdrukking. In Amplitudes en koloriete is dit duidelik dat die digter kleur, in ál sy fasette, ontgin.

Daar is bykans nie ’n gedig in die bundel wat nie op die een of ander wyse ’n digterlike vernufspel voer nie en die fonologiese, semantiese, morfologiese of sintaktiese moontlikhede van die taal word maksimaal geëksploiteer. Van Rensburg se taalgebruik is ryk en veelvlakkig, met ’n ritmiese kwaliteit wat soms aan ’n Ad lib-solo (36) herinner – vry, maar doelgerig. Hierdie digter laat hom nie stuit deur die beperkings van Afrikaans nie – hy woeker met taal; hy vleg tussen tale deur, byvoorbeeld die gebruik van Franse of Italiaanse semantiese eweknieë; homofone, homonieme, neologismes, en selfs die doelbewuste distorsie van taal om ’n digterlike effek in die hand te werk. Talle verse bou dan ook op tot ’n crescendo aan die slot. In die wetenskappe dui die term “amplitude” op die maksimum afwyking van ’n golf (soos klank, lig of water) vanaf sy ewewigsposisie. Die grootte of sterkte van die golf se ossillasie bepaal byvoorbeeld hoe hard ’n klank, of hoe helder ’n lig is. Van Rensburg gebruik “amplitudes” as ’n uitgebreide metafoor vir klank en musiek, alhoewel hy ook flankeer met die wetenskappe (“Kaleidoskoop-kolometrie”: p. 54). In geheel kan die bundel beskou word as ’n meestersklas in digterlike linguistiese spel.

Die bundelrubrisering geskied in ses dele, te wete “I Weerklankkleure”; “II Amplitudes”; “III Lord’s krieket”; “IV Paletkoloriete”; “V Pendulebaan”, en “VI Wederkeer-amplitudes”. Reeds met “Weerklankkleure” word die sinestese tussen kleur en klank gesuggereer, en die herhalende aard van klank en musiek word insgelyks geïmpliseer deur “wederkeer-amplitudes”.

Tematies handel die bundel oor skilderkuns, ekfrastiese verse, musiek, klankverskynsels, natuurtaferele soos blomme, Engelse volkskuns, legendes en mites, en verse oor ou katedrale, skepe en museums. Die bundel beskik oor ’n Christelike karakter, soos “Rigtingsoeker” (15-16) aandui: Die spreker wil met sy eie skepping, of omdigting van klank en kleur, in die teenwoordigheid van God staan (“want ek wil / eenvoudig / voor U Sjekina staan”: 14). In die slotgedig, “Voltrekking” (107-108), wat lukraak grepe uit onder meer die geskiedenis by wyse van kleur ‘vertolk’, is die slotreëls dan “U wil / geskied”. Die ontginning van kleur skep ’n insiggewende katarsis, want dié spektrografie word uiteindelik net lig, of Lig – wat God self versinnebeeld.

“Copernicus: Gesprekke met God” (15-16) is ’n beeldgedig na analogie van Jan Matejko se Astronom Kopernik, czyli rozmowa z Bogiem, wat in 1873 voltooi is. Copernicus het die grondslag vir die moderne astronomie gelê met sy beskouing dat die son, en nie die aarde nie, die middelpunt van die heelal is. In hierdie gesprekke met God wat Copernicus voer word die mens se antropomorfiese posisie uitgedaag, synde of die mens die middelpunt van die heelal is/al dan nie. Van Rensburg se verse herinner aan die gebruik van talle lense: teleskope, wyehoeklense en selfs mikroskope: hy neem, letterlik(!) ’n wye verskeidenheid verskynsels onder die loep, van die kosmiese tot mikroverskynsels. Die spel met optika is nie beperk tot kleur nie, maar ook die versinnebeelding van enige iets wat die digter as visueel esteties beskou. In die daaropvolgende gedig, “Stadige aksie” (17) roep hy sy ervaring as klank-ingenieur voor die oog. Die kwatryn vorm ’n ars poëtikale besinning waar die tegniese sy van klank in verband met die skryf van poësie gebring word:

 

hoe stadiger ek klankopnames speel

hoe dieper klink die stem en ek verbeel

my, halfpad deur die donkerder tone,

ek kan die woord met nóg meer sin bedeel

 

In “Edelgesteentes” (18-19) word die digkuns van Louw, Opperman en Krog vergelyk met fyn geslypte edelstene – en die wakker leser sal die edelgesteentes wat in hierdie vers beskryf word, ook eien as dié wat in Openbaring 21 voorkom (die Nuwe Jerusalem). In “Dowe adders” (21-22) word gehoorverlies ironies vertolk as ’n ánder vorm van gehoor, naamlik pulse en resonansies.

In deel II, “Amplitudes” (27-28) is dit oorwegend musiekinstrumente en hul klank wat bedig word. Die orkestrasies is ’n intense drang na selfekspressie, en leun weer eens oor na die ars poëtikale – om musiek te maak, is ook om te dig; om te sing. “Lewende taal” (32) spot met die verskillende gebruike van slang in ’n parlandoagtige kwatryn. “Woordgraveerder” (33), op sy beurt, sinspeel op Louw se “Die beiteltjie”, terwyl “Musiek en kleur” (35) die sinergie tussen klank en kleur uitspel: “die instrument se klankmengelinge / is soos skilders se pigmente”. Van Rensburg eksploiteer die klankwaardes van taal op vernuftige wyse, en “Strykerpassiespel” (43) lei tot ’n mooi, dubbelduidige gedig waarin die “passiespel” erotiese innuendo’s aanneem.

In Deel III, “Lord’s krieket”, wys Van Rensburg dat daar selfs poësie uit krieket te make is, soos die ars poëtikale “Digterboulwerk” (48) ook getuig.

Deel IV, “Palet-kolorature” is dalk die beste voorbeeld van sinestese in Van Rensburg se bundel. Koloratuur is ’n musiekterm wat uit die Italiaans afkomstig is, en verwys na ’n sangstyl in veral opera of klassieke musiek wat gekenmerk word deur vinnige, virtuose en dekoratiewe vokale passasies. Dit sluit byvoorbeeld arpeggio’s in, wat die sanger(es) se tegniese vaardigheid ten toon stel.

Alhoewel van Rensburg dus van die basiswoord, “color(is)” gebruik maak, verwys die afdelingstitel na die sangkwaliteite van kleur.

“Kaleidoskoop-kolorimetrie” (54-55) dui op die wetenskaplike studie en meting van kleur soos deur die menslike oog waargeneem. Die digter verwys dan ook na Newton se kleurwiel, en, soos in deel II, verweef Van Rensburg musiekterminologie met visuele beelde, wat op sy beurt herinner aan Newton se pogings om kleur en klank te verbind.

Die “woordskilder” (57) beskryf in ’n liriese styl verskillende kleurfenomene, maar ook die afwesigheid van kleur: In “Kleurspektrum” (59) gaan die breek van prismas oor in infrarooi lig, met ander woorde “kleure” wat sigbaar is vir waterdraerbye, maar nie vir die menslike oog nie.

Verskeie skilders soos Rembrandt (60), Turner (60) en Van Gogh (63) kom onder die soeklig in Van Rensburg se taksering van verskillende kleur- en klankpalette. ’n Hoogtepunt in dié deel is “Smaragusurrasies” (66-67) waar klank, kleur en beweging op ’n orkesagtige wyse gestalte vind in die kleure van bome se blare; in fluisterstemme, murmurasies en onomatopee, om die geruis en klank van die blare voor te stel in die personifiërende beelding van bome in hierdie lang gedig.

Deel V, “Pendulebaan”, suggereer insgelyks die beweging waardeur die digterlike woord en tematiek in die bundel verbeeld word.

’n Pendulum (of slinger) is ’n voorwerp wat aan ’n vaste punt hang en vrylik heen en weer kan swaai onder die invloed van swaartekrag. Die beweging van só ʼn slinger is periodiek. ’n Pendulebaan verwys na die pad of trajek wat die slinger volg terwyl dit swaai.

Die gedig, “Regressieswaai” is ’n voorbeeld hiervan:

 

ek het vir die kinders ’n outydse skoppelmaai

van die sterk esdoring-boomarm laat hang

en toe ek later ’n huis in die mikke beplan

besef ek dat ons modernes boomtoe swaai.

(73)

 

’n Interessante eienskap van Van Rensburg se poësie is die doelbewuste gebruik van die ‘vals’ woord, wat met ander woorde, na analogie van musiek, soos wanklanke klink. “Boomtoe” eggo eintlik “boontoe” – en herinner aan ’n Freudiaanse weerspreking. ’n Ánder voorbeeld hiervan tref mens aan in die vers, “Klanksinnig” (20) wat “kranksinnig” voor die oog roep, maar die distorsie van die woord – of die neologisme – dui insgelyks op die sinvolheid van klank.

Verse oor historiese veldslae en skepe (“The Fighting Temeraire”: 76-77); die loodglasvensters van die Canterbury-katedraal (79); en Nelson se kolom (83) kom voor, met as subteks die volkskuns en legendes wat die Engelse leefwêreld van die digter weerspieël.

Die laaste gedeelte, “Wederkeer-amplitudes” betrek gesprekke met komponiste, skilders en beeldhouers – en besing by wyse van herhaling hulle “wederkeer”, oftewel ontsterflikheid. Van Rensburg streef nou na ’n vólle sinergie tussen die kunste, letterkunde, skilderkuns en musiek – en die bundel eindig op ’n crescendo met “Voltrekking” (107-108), ’n afdeling wat voorafgegaan word deur Bybelse en eskatologiese verwysings.

Daar is nog heelwat te sê oor Amplitudes en koloriete. Die gedigte “funksioneer” dikwels soos ’n poëtiese weergawe van ’n achromatiese palet wat met kleur gevul word, tot dit ’n hoogtepunt bereik. Die spanning tussen kleurvolle en kleurlose beelde (byvoorbeeld verse oor die skilder, J.M.W. Turner se werk), skep ’n dinamiese kontras wat die leser uitnooi om die emosionele spektrum te voel.

In geheel is Amplitudes en koloriete ’n bundel vir die fynpoewer van poësie. Die verse maak aanspreek op ’n sterk en prikkelende sintuiglike ervaring, wat die grense tussen kuns, musiek, en wetenskap verken. Die digter sinkroniseer uiteindelik klank, beeld, woord en Woord. Van die verse dra ongelukkig swaar aan oordaad en uitsponning, maar in geheel is Amplitudes en koloriete ’n knap bundel. Min digters het die intrinsieke waarde van klank en kleur in hul poësie só verken as juis Meyer van Rensburg.

In die onderstaande beeldgedig wat Salvador Dali se skildery, “The persistence of memory” (1931) betrek, toon Van Rensburg sy vernuf om die visueel-artistieke te beskryf. Let op die parodie in die titel en die kopknik in die rigting van Einstein se relatiwiteitsteorie waarop die skilder psigedeliese “kommentaar” gelewer het.

 

Die volharding van herinnering

 

Dali se drie verlepte sakhorlosies

hang soos gesmelte kaas

wat, draperend oor ’n ontblote tak,

’n blokvierkant en vervormde gesig

– verdwaas met toe oë, insekagtig

op die sand van die tye tap

– kontrasterend daaragter

onthou hy Katalonië as pragtig –

’n goue vierde kronometer

word mierwemelend aangeval

om tydfragiliteit te demonstreer

wat ons eendag in eensaamheid

die dimensies van relatiwiteit sal leer.

(98)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

1e kommentaar op “Resensie: “Amplitudes & koloriete” (Meyer van Rensburg)”

  1. Koos de Wet says:
    21 August 2025 at 14:06

    In kort: So’n resensie resoneer! ‘n Diepgang wat my dryf om meer oor koloriet en amplitudes te leer. Voorwaar.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d