Renegaat
(Edinburgh,Skotland)
die skrikklap van ‘n opvliegduif
fluit skerp uit die vlerk
en klief die grys hooglandlug
dryf my weg
van hierdie steriele plek
sweef my oor groen afrikawoude
en sub-sahara grond
suid en suid en verder suid
tot op die plaas
die duiwehok
en homers agter ogiesdraad
waar tortel en bosduif vry
kan pik aan uitvalsaad
waar ek geketting
in die vreemdeland
verlang na huistoegaan
die dae wat was
die reuk van seep en sop
en beesmis en kuilvoer
en wind in die bloekoms
en die soet van die bakkie
se dieseldamp se laaste string
agter pa die ewigheid in
ek draai ‘n peperboomblaar
tussen my vingers rond
ruik die grond
ver in die rand
tolk ‘n tortel die son
en maak ou verse en verbeel
knoppe in my keel
©Stefanus S Vivier

Gryp aan die hart…