Miskien
Miskien ook sal dit waar word
dat ek niks hier op aarde kort
en al die angs en twyfel
uit my verwyder word
dan waarom sal ek bly beitel
en swoegend woorde skuur
deur al die donker dae en nagte
op hierdie marmerwit papier?
Miskien kan ek nooit trefseker
wat ateïste bombasties daaroor kerf
weerlê met wat ek beeldend sê nie
voordat ek tog ook eendag sterf
nogtans sal ek aanhou strewe
probeer om in liefde sin te kry
gedrewe om daardeur waarheid
van die infame leuen te skei
Laat tot in my laaste sinne
die wete wees ek het volgehou
al was dit nie perfek nie dit was
mistiek net aan die woord getrou.
© Dietloff van der Berg, 2025
