Dis Lente
Kom kyk! Kom kyk! Dis die lieflikste lenteweer
Al roep die termometer watse graad ook anders
Watter glans van Sondaggenot blink op alle gesigte
Ons kan begin om die skip se sye skoon te skraap
“Gooi my maar in ‘n warm pot en druk die deksel toe
Maar hou die winter buite my deur!” sing ons stuurman van agter sy pyp
Trane van ys nog gestol in sy baard – die woeste baard van die ware seeman
Dampe twak-asem bol uit sy wange, pof-pof deur gebarste lippe
Ons almal begin sommer weer van vooraf moedskraap
Van hier af moet ons vir seker al vinniger dryf
Dae, maande – voel na jare – se gestolde verblyf in die ys
Al rondom-tollend soos ‘n beduiwelde kompasnaald
Sekerlik uiteindelik voorwaarlik nou ten einde
As ons weer moes vasvries is dit die Heer se wil
Hy rol sy dobbelsteen vir waar dit ook al val
Hierdie land van wind en mis
Sonder ‘n boom sonder ‘n bos
Niks buiten opgestapelde hompe ys
Wasgoed wat wapper aan die boegspriet
Geen vrede, vreugde of voldoening nie
G’n sig wat die oë werklik kan begryp nie
Net die ewige onbespeurde neiging noordwaarts
Altyd noord, noodwendig noord, sonder rus of omdraai
Elke wiggeling van barometer, chronograaf en sekstant
Die deurendeur gekorrel son-toe, na elke herkenbare ster
Die gryp na enigiets wat plasing, rigting en moed kan gee
Nou: Ahooi! Kap los die sleë uit hul stutte
Gord aan die harnasse van die honde
Koppel die stroppe presies waar hulle moet pas
Bekyk die horison vir die vlerkklap van die trekvoëls
Die kok maak vir ons die sterkste sop
Van lensies, paprika, uie en gevriesde rob
Terwyl elkeen op sy eie eentjie briewe platstryk
Tussen duime en vingers rol en van vooraf liefdevol bekyk
Die kaptein maak gereed om sy toespraak te maak
Ons weet al klaar woord vir woord wat dit sal wees
Die winter het voorwaar swaar op ons skouers gerus
Maar nou: Kom kyk! Kom kyk! – die lieflikste lenteweer!
© Piet van Rooyen, 2025
