Breekpunt
Ek staan by ՚n kruispad êrens op ՚n grondpad
die onbekende vou voor my oop
soos ‘n onleesbare padkaart
niks en niemand roep my
selfs die stem in my kop is stom
die wind wat binne draai
wys ook geen rigting aan
die sak op my rug raak swaar
en ek voel hoe die ure stadig uit my hand gly
ek strompel die lig in
wat uit my eie breekpunt gloei
՚n dowwe herinnering aan waar ek begin het
en waarheen ek op pad was
toe kom die woorde uit Lolita weer na my:
“and the rest is rust and stardust”
en al my vergete drome
skrik skielik weer wakker
ek stap verder
soos ՚n voёl wat te lank op hok was
skugter
bewend
maar lewendig
miskien is dit al wat die lewe vra
niks te groot nie
niks te klein nie
net ՚n brose oorgawe
aan ՚n poolwind wat jou nader trek
tot by daardie plek
waar jy alles ontdek
wat jy lankal reeds weet.
© Caren Kearley, 2025
