
Die Anglo-Boereoorlog in Kleur: Volume II. Guerrillaoorlog. 1900 – 1902 deur Tinus le Roux. Protea Boekhuis, 2025. 264pp.
Hoewel ek nie iemand is wat belangstel in oorloë en geweld nie, het hierdie boek my aangegryp. Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux is een van die mees indrukwekkende koffietafelboeke wat ek die afgelope jare onder oë gehad het. Toe ek die boek ontvang, het ek gedink: Nog ’n boek met dowwe swart-wit foto’s van boere te velde en vroue en kinders in kampe. Toe nie!
In die Inleiding verduidelik die skrywer dat hierdie foto-boek ʼn nuwe perspektief skep op die Anglo-Boereoorlog wat die leser se emosies aanwakker. Dit is inderdaad wat ek ook beleef het. Hier sien ons volbladfoto’s van boerekrygers, Engelse en Skotse soldate, treine wat aan flarde geskiet is, gesneuwelde Boere op die slagveld, gestorwe kinders wat vir oulaas in ʼn familiefoto verskyn, begrafnisse, ruiters te perd, blokhuise, slagvelde, krygsgevangenes besig met alledaagse beuselagtighede, beroemde generaals, Tommies besig om plaashuise af te brand (met ʼn kalkoen in die hand vir aandete, op een foto), afgebrande plase, mense wat terugkeer na die ruïnes van hulle wonings, swart mans, vroue en kinders wat deel was van die oorlog, deelnemers aan die 1914-rebellie en standbeelde wat ter ere van die helde opgerig is – alles in volkleur, perfek in fokus en dikwels in volblad-grootte op glanspapier. Lewensgetrou!
Tien jaar gelede sou mens nie gedink het so ʼn boek is moontlik nie, maar Le Roux skryf: “Ek het probeer om die foto’s akkuraat en met noukeurige detail in te kleur. Dit het baie ure geverg, maar ek het dit gedoen om realisme te probeer verseker en nie ʼn wanvoorstelling van ons waardevolle erfenis te duld nie.” Die doelwit was nie om ʼn omvattende studie van die oorlog te verskaf nie, maar wel om kwaliteit foto’s te maak wat tydsaam verken en geniet kan word en dat die foto’s meer geloofwaardigheid aan ʼn emosioneel skrikwekkende tyd in die geskiedenis verleen.
Dr. Johan van Zyl, wat die Voorwoord vir die boek geskryf het, wys op die navorsing wat le Roux gedoen het ten opsigte van die kleure van uniforms, die klerasie van die tydperk, die wapentuig en die natuur. Hy het gewerk met foto’s wat uit verskillende bronne – ook uit Engeland – ontvang is. Die eindproduk is fassinerend en uiters geloofwaardig.
Die foto’s word vergesel van opsommende notas ter verduideliking van die konteks en elke foto word voorsien van ʼn dikwels uitgebreide beskrywing. ʼn Oorsig van die guerrillaoorlog word ten aanvang verskaf en dan volg afdelings oor die Boeremagte, die Britse magte, die verskroeide aarde, krygsgevangenes, die vrede en die nasleep van die oorlog. ʼn Volledige bibliografie word verskaf.
Hierdie koffietafelboek is die ideale geskenk vir iemand “wat reeds alles het” en behoort ure se leesgenot te verskaf aan lesers van alle ouderdomme en met uiteenlopende belangstellings.
– Marlies Taljard
