
Koesterkos: resepte uit ons ma’s se kombuise deur Frik de Jager. Naledi, 2025
Ek lees Koesterkos soos ’n digbundel, want dis pure poësie – poetry!
Hoewel ek self deesdae selde kos maak, gaan hierdie boek nie uit my kombuis uit nie. Frederik De Jager het hier resepte byeengebring wat nog lees soos tant Issie Smuts se resepte uit ’n stokou groen boekie wat my skoonma se geslag hoog aangeslaan het, en praat van goeie kombuisraad: as jy wil sop maak, moet die vleis in koue water geplaas word sodat die geurige sappe vrygestel word terwyl dit stadig begin kook. Nou weet ek hoekom my stoompot-sop so vaal smaak …
Daar verskyn deesdae ’n magdom resepteboeke, maar hierdie een is besonders. De Jager het resepte van sy ouma en sy ma hier byeengebring, tesame met familieresepte van verskeie bekende persone. Dis nie net ’n resepteboek nie, maar ook ’n onthouboek, ’n storieboek oor waar die resepte vandaan kom, wie die mense was by wie dit gekry is en nuttige wenke wat daarmee saamgaan. Dit is belis resepte vir koesterkos, kos wat jou laat goed voel, die hartseer verdryf en nostalgiese herinneringe oproep.
Die bestanddele is eenvoudig en basies, want destyds – soos wat die skrywer opmerk – was die supermark nie om die eerste draai nie. Daarby word die metode deeglik en in eenvoudige taal uiteengesit – maklik vir die moderne kok wat vinnig iets aanmekaar moet slaan of wat ’n staatmakerresep wil uitprobeer. Hier vind jy resepte vir ’n heerlike klam sjokoladekoek, koeksisters, gebakte kerrievis, Jodetert, mosterdsous, blatjang, kerrieboontjies, dadelpoeding, souskluitjies, plaasbrood, soetkoekies, tertkors, melktert, gemmerbrood, Bostonbrood, gebraaide hoender … ag, noem maar op. Die bestanddele (glo ek) is aangepas vir die moderne kok, want vir tant Issie Smuts (in die 1920’s) was 24 eiers en 2 pond botter in een resep nie snaaks of te duur nie.
Vir my is die stories en onthoue wat ’n groot deel van die teks uitmaak, die lekkerste. Die skrywer beskryf byvoorbeeld sy geliefde moeder in die inleidende teks voordat haar resepte aan bod kom:
My ma was ’n beeldskone en elegante vrou met die mooiste hande en aristokratiese neus en ’n baie sterk, maar stil persoonlikheid.
Tot met haar afsterwe op die rype ouderdom van 94 het mense geluister as sy praat. Sy het haar nooit opgehou met skinderpraatjies nie, het aangedring op goeie maniere en was ’n natuurlike leier met ’n skerp sin vir humor.
Maar dan is dié resepteboek ook ’n fees vir die oog. Die foto’s is oorvloedig en kleurvol. Die groot aantal volblad kleurfoto’s maak mens lus om die resepte uit te probeer – eintlik moet mens dit op jou koffietafel uitstal.
– Marlies Taljard
