
Een van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans is D.J. Opperman se “Bouquet”. Dit staan in sy debuutbundel Heilige beeste (1945) wat opgedra is aan sy vrou, Marié:
Ek stuur aan jou
’n ruiker rose
in fyn papier gevou;
dit gee aan my ’n eindelose
kalm gevoel;
want na gisteraand voel ek miskien
sal jy my nie vandag wil sien.
Ek stuur aan jou
die vlekkelose
half-oop rose.
Die openlike emosionaliteit van hierdie vers is eintlik ontipies van Opperman, maar dit is juis dít wat my, ’n verliefde tienerseun, ses dekades gelede oorrompel het. Toe sou ek nie kon raai dat ek eendag die digter in lewende lywe sou beleef nie.
In 1975 het ek by D.J. Opperman klas gehad en sy Letterkundige Laboratorium bygewoon. Dit was my derde jaar aan die Universiteit van Stellenbosch. In die groot klas het hy doer ver voor skaars hoorbaar staan en mompel, terwyl hy Breyten Breytenbach se die ysterkoei moet sweet, Peter Blum se Steenbok tot poolsee en N.P. van Wyk Louw se Tristia met ons behandel. Sy hande en mond het gebewe en gebibber, die gevolg van alkoholisme. Op ’n keer het hy sy “Met apologie”-parodieë vir ons probeer voorlees, maar dit het uitgeloop op ’n gestamel.
In sy biografie oor Opperman vertel J.C. Kannemeyer dat die digter op daardie stadium ses bottels rooiwyn per dag gedrink het. Geen wonder dat hy aan die einde van dié jaar aan lewerversaking begin ly het nie. In 1976 was hy tot die dood toe siek waartydens hy in talle komas verval het. Dié siektegeskiedenis en sy wonderbaarlike herstel vorm die boustof van sy bundel Komas uit ’n bamboesstok van 1979.
In die Letterkundige Laboratorium het hy koponderstebo gesit en byna niks gesê nie, terwyl die groepie aspirant-digters mekaar se gedigte anoniem bespreek. (Saam met my in die klas was onder andere Marlene van Niekerk, André le Roux en Antjie Krog, as besoeker.) Ek kan in alle eerlikheid beweer dat ek bitter min by Opperman as dosent geleer het. Sy gedigte het wel deeglik tot my gespreek en my skryfwerk was vir ’n lang tyd sterk onder sy invloed – ek is selfs ’n Opperman-epigoon genoem.
Ek het veel meer omtrent die werking van die digkuns by A.P. Grové geleer – in sy opstelle oor die poësie van Opperman en Van Wyk Louw en in sy onvolprese handleiding by die tegnieke van die digkuns, Woord en wonder. Daarom was hy ook die studieleier vir my M.A.-verhandeling van 1979 oor Opperman se “Brandaan”-sonnettesiklus.
Buiten Opperman se aardsheid en Afrika-gerigtheid het sy gebruik van metafore my gefassineer. In “Nagstorm oor die see” (uit Negester oor Ninevé, 1947) gebruik hy die beeld van ’n voël uit die berge wat sy snawel in die oseaan kom steek en dan weer terugvlieg. Daarmee beskryf hy gelyktydig ’n donderstorm met weerlig, die seksdaad tussen man en vrou, asook die digter wat inspirasie vind in die erotiek en dan daaroor skryf (“met hese gesang”).
Het die onrustige see hom verwag,
die groot grys voël van die berge
sku uit die nag?
Sy silwrige vlerke het trillend verbree,
krysend sy nartjie-rooi snawel
gesteek in die see.
Toe styg hy op druppende vlerke en vlug
met hese gesang
na die berge terug.
’n Mens sou dit seker ’n meerduidige metafoor kon noem. Grové het die term “laaggedig” daarvoor geskep.
Opperman se opstel oor die kwatryn in Wiggelstok (1959) en die besondere soort kwatryn wat hy self geskryf het, het my as student reeds geïnspireer – in so ’n mate dat ek in byna geen ander versvorm geïnteresseerd was nie. Van Wyk Louw se boeiende uiteensetting oor die volkskwatryn in sy Rondom eie werk (1970) het my kwatrynbeheptheid verder aangevuur.
My pad het ná my universiteitsdae weer met dié van Opperman gekruis nadat ek ’n manuskrip gedigte aan Human & Rousseau gestuur het. Dit was waarskynlik in 1978. Opperman het dit met reg afgekeur en Kannemeyer haal in sy biografie aan uit die keurverslag: “Daniel Hugo se werk is vir hom struktureel en beeldend te ná aan dié van sy eie en die verse word vir hom ontsier deur ‘die dreun of die meganiese kreun wat die versbeweging en die versklank vasvang’. Vir die ontwikkeling van dié digter is dit vir Opperman noodsaaklik dat Hugo ‘die klankdreun moet verbreek, die versreël laat wissel en pols en dat hy ander losser vorms moet beproef’” (p. 413).
Tydens ’n besoek aan Stellenbosch laat hy my na sy huis kom. Hy ontvang my in sy studeerkamer en noem my lig spottend Ou Kwatryn. Hy gaan die afgekeurde manuskrip met my deur en vra by een gedig waarom ek ’n spesifieke woord gekies het. “Ter wille van die rym,” is my antwoord. Waarop hy reageer met: “You’re telling me!” Ek bloos dieprooi, want dit is die digter wat in sy versdrama Periandros van Korinthe die hoofkarakter laat sê: “Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag.”
Tydens die gesprek kom sy vrou, Marié, in met twee blosende appeltjies wat sy vir hom gee. “A,” sê hy guitig terwyl hy een blinkvryf: “Boerneef se appeltjies!” Hy het natuurlik verwys na Boerneef se gedig wat só begin: “My meisie se wange is sterkoningappels / syt ook nog anner appelgeid.” Opperman het duidelik veel plesier gehad aan sy nuwe, sober lewe. Die depressie en pessimisme van sy alkoholiese jare was genadiglik verby.
Gelukkig was my vel dik genoeg (daardie “meganiese kreun” het wel lank in my ore bly dreun!) en het ek my klaarblyklik aan die grootmeester se raad gesteur. In 1982 verskyn my debuut, Korte mette, by Human & Rousseau – goedgekeur deur Opperman. Vir my tweede bundel, Die klein aambeeld (1983), het hy die titel bedink. Ek het die boek aan hom opgedra en die volgende kwatryn (hoe anders?) ingesluit:
D.J. Opperman
in ’n land van klip en weinig troos
het hy kosmiese kragte onverpoos
vertolk vir ’n bot en boerse volk:
’n den wat stem gee aan die suidoos.
Dié vier reëls is ’n yl eggo van Opperman se gedig “Denneboom” in Kuns-mis (1964):
Ek wat die Suidoos moes uitdaag,
die sterre, wolke, kolle van die son,
soute en vogte van die aarde, laag op laag,
in geslote keëls van harpuis laat stol,
word vir tamatiekissies opgesaag.
Opperman is in 1960 aangestel as professor by die Universiteit van Stellenbosch. Hy het later begin voel dat die doseerwerk en administratiewe pligte hom van sy skeppende werk weghou. Die Stellenbosse studente staan bekend as Maties – vandaar die “tamatiekissies” waarvoor hy kwansuis opgesaag word. Die “geslote keëls” is ’n metafoor vir Opperman se semanties dig gelaaide verse, en die omskrywing “laag op laag” is ’n duidelike verwysing na Grové se term “laaggedig”.
In 1980 het ek Opperman vir die laaste keer gesien toe hy in Bloemfontein was om die Hertzogprys vir Komas uit ’n bamboesstok te ontvang. Ek was toe ’n lektor in die departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Die Volksblad het my gevra om ’n berig te skryf en ek het hom en sy vrou by NALN ontmoet, waar prof. P.J. Nienaber hulle ontvang het. Nienaber, oprigter en direkteur van die letterkundige museum, wys ons rond. Skielik vererg Opperman hom vreeslik. In ’n glaskas is onder meer sy drama Voëlvry uitgestal met die naamkaartjie Trekvoëls (’n titel van Sangiro) daarby. Prof. Nienaber het ’n flou verskoning gemompel en ons na sy kantoor geneem. Opperman se aandag is onmiddellik vasgevang deur ’n vaas met rose op die tafel.
Ses jaar later lees ek in Kannemeyer se biografie oor die tyd ná sy siekte: “Met sy herstel het Opperman – ná sewe maande in drie verskillende hospitale – die wêreld om hom feitlik soos ’n opnuut geborene in verwondering ervaar en van dag tot dag intens geleef. Elke oomblik was vir hom ‘n vreugde en hy het dit as ’n gawe beskou om weer die aarde met nuwe oë te aanskou …” (p. 403).
Dit het my herinner aan hoe intens Opperman na die blomme gekyk het. Sou hy toe ook, soos ek, gedink het aan die liefdesgedig wat hy soveel jaar tevore vir Marié geskryf het?
Bron
Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman. ’n Biografie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Boeiend, soos altyd!