Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
21 January 202621 January 2026

Joan Hambidge. George Steiner en die binnespraak

 

I

In “The distribution of discourse”, eweneens opgeneem in On difficulty and other essays, behandel George Steiner die komplekse kwessie van binnespraak.

Met wie praat die digter of skrywer?

“A poem is first said inward”, beweer hy tereg (1972: 64). Oor hierdie “inner pilgrimage” skryf hy insigryk soos oor die “healing silences of the self” (1972: 83-87). Die binnespraak is die terra incognita van linguistiese teorie veral in die psigolinguistiese en sosiolinguistiese positivisme.

Ons praat met onsself om ons eie aanwesigheid te anker en om die donker en ontwykende gevoel van die self te begrond. Ook om ‘n inventaris te maak van wat ons beleef het. Daardie selfgesprek in die donker. Ook die donker geheime van die self wat in “mute wells or under rocks” geplaas word.

Hoop, vrees, selfkastigasie, aanmoediging, is opmerkbaar in die selfgesprek of binnespraak.

Daar bestaan 20 volumes van dagboeke deur Virginia Woolf, daardie uitstekende vertolker van die bewussynstroomtegniek en by Franz Kafka is daar weer ‘n “haunted impersonality” te bespeur in sy briewe aan ander. Mrs Dalloway (1925).

In 1997 is hierdie roman verfilm met Marleen Gorris as die regisseur. Vanessa Redgrave en Natascha McElhone (as die jonger Mrs Dalloway). Die film kan egter nie by die essensie, te wete die binnespraak uitkom nie.

 

II

The doors open.

The metaphors themselves swing open wide!

Erica Jong: “Testament (Or, Homage to Walt Whitman)”

Die gedig is dan navrae aan die self, soos Eybers dit helder verwoord:

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens ‘n ou ballade, duur

twaalf maande en ‘n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind ‘n mens ‘n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

(Balans, 1962)

 

Hierdie navraag aan die self word ‘n soort dédoublement: ek versus jy en die oomblik wanneer die gedig gepubliseer word, verander die binnespraak. Ander ekke mag iets herken; of dalk nie.

Patrone raaksien wat ook in die eie self aanwesig is (was) en met blydskap of ontsteltenis hierop reageer. Titels van gedigte en bundels verklap alreeds iets hiervan.

 

Lasarus

 

Er kan geen dood beginnen

in deze nieuwe huid.

 Gerrit Achterberg

 

 

Ek was dood, maar ongetransformeer.

Gesigte om my bed kom & gaan,

wit mane oor ’n beengespoelde lyk.

Was alles dan verniet? Geen wonderwerk?

 

Een moker my hart uit sy dieprus.

Stemme. Vuiste teen ’n deur.

My onbewuste woel los soos linne.

Dagligpynigende gedagte: Ek leef!

 

“My onbewuste woel los soos linne”, skryf Johann de Lange. Die gedig het waarskynlik iewers tussen ‘n droom en wakkerword ontstaan en ons sien hier al die temas van die binnespraak, soos Steiner dit aanstip. Vrees om te sterf en die vooruitwysing van die digter se eie dood.

George Steiner in “A remark on language and psychoanalysis” verwys na die monsteragtige gediertes wat in die diep see leef: “Brought to the surface, they burst or shiver into inert powder. The same is of the the case when analysis teases into open utterance and daylight the shaping pathologies, the vital cancers of internal language” (1972: 59).

‘n Filmmaker wat hierdie kwessies pakkend weergee, is die meester van die montage, Nicholas Roeg. Tyd (verlede, hede en toekoms) snoer hy saam. Met terugflitse en simboliek. Bad timing (1980) met Art Garfunkel as die professor in psigoanalise. Dit speel veral in Wene af en eindig in New York. Met Harvey Keitel as die speurder en Roeg se vrou Theresa Russell as Milena, die geliefde wat hy ook wederregtelik deel maak van sy navorsing. Het sy probeer selfmoord pleeg? Het die Alex met haar seks gehad toe sy ‘n oordosis pille geneem het? Was dit ‘n selfmoordpoging?

Die film eindig met die litteken op haar keel. ‘n Trageotomie het haar lewe gered. En Alex word só van vervolging kwytgeskeld. Danksy Milena se eggenoot, Stefan (Denholm Elliott) wat die goeie nuus oordra.

In New York sien hy haar. Sy kyk kil na hom en sit in ‘n geel taxi, amper ‘n soort baarmoeder. Die hele film werk met kyk én afkyk. Voyeurisme, soos wat die professor aan sy studente verduidelik. Ons is in die eerste plek afloerders.

 

III

Vir nou ‘n laaste woord aan Hennie Aucamp, ‘n uitsonderlike vertolker van sub-teks:

 

Skrywer (Surrealisties)

 

Dié skrywer is ‘n baggerboot

wat optrek uit die drek

die liederlike monsters

wat setel in sy ék.

(Vlamsalmander, 93).

 

IV

So kom teorie, digkuns, romankuns en films by mekaar uit.

 

Joan Hambidge

Kaapstad

20 Januarie 2026

 

Bronne:

 

Aucamp, Hennie.  2008. Vlamsalmander. Pretoria: Protea.

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

Eybers, Elisabeth. 1962. Balans. Kaapstad: Human & Rousseau.

Jong, Erica. 1980. Selected Poems II. Londen: Granada.

Steiner, George. 1972. On difficulty and other essays. Oxford: Oxford University Press.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. George Steiner en Gerrit Kouwenaar
Joan Hambidge. Steiner en Eliot →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d