
Resensie: Die langste jaar deur Muller Minnaar, Turksvy Publikasies, 2025. Kaapstad ISBN 978-1-0370-9069-1
Resensent: Dietloff van der Berg
Muller Minnaar (1967) debuteer in 2025 met die langste jaar by Turksvy Publikasies. Hy is gebore in Kimberley, word groot in Sishen waar hy matrikuleer en gaan studeer aan die Universiteit van die Vrystaat, maar verwerf nie ’n graad nie. Daarna sluit hy permanent by die weermag aan en werk vir agtien jaar by verskillende basisse tot hy in 2022 dros. Hierdie militêre dienstyd slaan ook uit in die beeldspraak “glase wat staan in rye / soos dienspligsoldate” en “sigaretrook hang soos kruitdampe / oor ’n grensoorlog-slagveld” bl. 9 en die onverbloem eerlike en anglisistiese taalgebruik “die hele fokken land gaan na die honde”. Hierdie platvloerse mengtaal, ook met talle direk Amerikaanse woorde soos “idolize, junkie, gangsters” bl. 11, word gebruik om die aftakeling, verval en eksistensiële nood van die moderne samelewing en die spreker se ervaring in die langste jaar uit te druk.
‘n Leser wat die eerste twee gedigte van die bundel “vyf voor vyf” en “suburbia” wat strek van bladsy nege deur tot by veertien lees, sal ’n nog neerdrukkender donker siening van die lewe as Camus se La Peste en L ‘Étranger ervaar. Die eerste gedig se titel behoort eintlik “vyf oor vyf” te wees, want in plaas daarvan om afwagting te skep oor iets wat gaan gebeur, gaan dit hier oor ’n uitsiglose heersende toestand “die usual suspects / dronkgatte vroueverneukers / vergete sporthelde dorpslette” bl. 9. Alles is banaal, vervalle en vervuil soos uitgedruk met die herhaalde weemoedige beeld van plastieksakke wat rondwaai. “suburbia” sluit dan ook af met “ek staan en kyk om my heen / na alles / haat alles”.
Om die gevoel van verbrokkeling en ’n eksistensiële krisis uit te druk, maak Muller gebruik van fragmente wat soos die konkrete poësie “die konvensionele sintaksis as ’n sine qua non vir die poësie bevraagteken” (Van der Elst 1992). Soos in talle eietydse vrye verse is daar geen skryf- of leestekens nie, lidwoorde en werkwoorde word weggelaat bv. “blonde kroegmeisie wat …” bl. 14 r. 23 of “leë sinne vol hoop / hol drome verwagtinge” bl. 14 r. 30-1. Die leser word dus aanvanklik uitgedaag om self sin van die teks te maak met skerp teenstellende beelde soos “muur-tot-muur-matte / met fokken kathare / wat die hele plek opvrolik” bl. 11. Die lang duur van die ontwrigte jaar word wel met die talle bladsye van die eerste twee titels uitgedruk, maar die aantal reëls kon met goeie redigering drasties verminder geword het. Dit geld ook vir die anekdotiese herhalings in “rietfontein-storie / selfportret twee” bl. 40-1, “pretoria-potporie” bl. 42-4, “ander se liefde / selfportret drie” bl. 45-6 en die slotvers “omdat” bl. 72-3.
’n Manier om minder drukspasie op te neem, word op bladsy 20 met dieselfde staccatostyl gebruik, maar nou eksperimenteel met kommas en punte en sonder die tipografiese wit op die bladsy na elke frase. Sonder daardie wit, soos bespreek deur Gegus (1961: 36–61), word die sinstruktuur nie verhelder en is daar geen afwisseling of verandering van die ritmiese verloop nie. Die teks bly gewoon deurloop en daar is geen sigbaarmaking en relevering van die funksie van die leesteken nie.
Die eksperimentele aanbieding word verder voortgesit met die insluit van gedigtitels soos “ek soek ’n vrou” of “tarentino se gat” as deel van die gedig tot op bladsy 26 en word later soms weer toegepas. Die liefdesverlange na die afwesige vrou word egter meer konvensioneel sterk uitgedruk in “hier waar sy nie is nie” met die treffende beeld van “haar vingernaels krap teen my mure / as sy die gang af loop / tot hier waar ek wag”. Daarna volg die rebellie teen God in “reünie /my town” en ander verse gemik op die kerk en predikante in “amper tuis” bl. 34-5 met weer dieselfde opeengestapelde opnoemtegniek soos in die eerste titels. Die enigste tydelike oplossing wat uitgedruk word vir die “Jaar van woede, eensaamheid” wat tot hierdie debuutbundel gelei het (Britz 2026) is drankgebruik soos in “maders hotel” bl. 17-9 “maar ons raak dronk / op shooters” wat afgesluit word met “buite is dit winter / maar hier binne / is dit lekker warm” bl.19.
Verse soos “monoloog” bl. 32-3 met meer tradisionele versbou deur bv. herhaling van die bindende frase “ek skryf ’n brief aan jou” en gewone sintaksis soos “maar die woorde sluk swaar / soos gister se flou koolsop” en die beeldryke afwisseling van die herhaalde frase in die slot “die vaal mot skryf aan jou / ’n brief van duisende bladsye / wat meestal die woorde / weg en bevrees bevat” slaag treffend daarin om spanning tussen die verskeurende verlange en die eensame werklikheid te verwoord. Veral die gedigte oor die verbygegane liefde soos “wat staan ons te doen” het pragtige beelde soos “waarheen jaag jy / kyk die maan is kwart voor trane” in aansluiting by “buite val die druppels / teen die ruite” bl. 23. In “ek het te verskriklik lief” word die vers ook sterk afgesluit met die onverwagte gebruik van die werkwoord “terwyl ons lag / en rooiwyn proes” bl. 25. Daar is talle treffende beelde soos die seksuele suggestie met “die gevoel van rubber in die nanagghries op die vingers / steriele gehyg na niks” bl.60, die spreker wat skryf hy is die “kerktoring van selfbejammering” bl. 53, “hierdie lewe is so swaar soos ystererts” bl. 65 en werkers met skurwe hande wat “toebroodjies / gemaak van trane en skuld” eet bl. 67.
Wanneer daar met groter beheersing geskryf word, kom daar dan ook uitstaande gedigte na vore wat die gevoel van verlies en verlange skerp oordra soos “grys duif” met die kleurprogressie van wit na grys en geïmpliseerde finale blou van haar oë:
jy sê jy weet nie meer nie
maar jou tasse is klaar gepak
en net voor jy ry vra ek jou
om eendag vir my ’n brief te skryf
op die witste-witste papier
pos dit met ’n snel grys duif
maak dit vry teen die seerste blou-blou lug
sodat ek weer jou oë kan sien
sodat my oë weer kan sien
In geheel gesien, is hierdie debuut beslis iets anders as die konvensionele aanpak en druk die noodkreet van ’n eksistensiële lewensbeskouing uit.
Britz, E. 2026. Jaar van woede, eensaamheid lei tot debuutbundel. https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/jaar-van-woede-eensaamheid-lei-tot-debuutbundel-20260223
Geggus, R.: 1961. Die wit in die poësie: ’n Ondersoek na die funksionaliteit van die wit in die visuele aanbod van hedendaagse poësie. Amsterdam: Uitgeverij Heijnis N.V.
Van der Elst, J. 1992 “Konkrete Poësie” Literêre terme en teorieë. https://www.litterm.co.za/2010/09/28/konkrete-poesie/ Toegang 11/03/2026
