Oersprong
Eendag lank, lank gelede,
honderdduisend jaar of so,
is hy vroegdag op jag –
met fyn geslypte spies
en skerppuntklip
moor hy genadeloos
en bring saans sy vangs
vanaf die plato
na ‘n flou verligte grot, sý huis,
waar ‘n vrou en kinders versigtig
waak teen wat buite wag.
Hy staan by die ingang,
dood oor sy skouer,
sy lyf ‘n gebalde vuis.
© Jacques Boshoff, 2026
