Wat bly staan
afskeid aan San Francisco
Mevrou Coit skryf in haar laaste testament:
vat my fondse as ek vort is en pleeg iets moois
hier op my stad se perkament.
Nou staan hier ’n ronde opklimtoring
twee honderd drie-en-veertig trappe hoog.
Die heuwel saai haar sonderlinge van uit,
op elke toeristekaart omkring.
Die ondervloere kronkel in onthouverf:
die Nobel-fisikus met sy optiese apparaat,
die cowboy, die bankier,
’n inlê-fabriek, ’n ploegtoneel,
reaksies op die Groot Depressie —
’n stadslewe in eras verbeel-d.
Van bo sprei die stad in uitersheid:
high-tech advertensieborde krimp
tot pixels tussen bont fassades,
gesonpaneelde daktuine kyk
oor bestuurderlose karre uit;
hul krioel teen skuinse strate
verby verfentanielde ménse —
kromgetrek en ongeholpe staar
hul starre stare langs tente in die strate.
Die sentrum gloei as sand-bank,
die silika tot silikon gesuiwer,
of gesmelt tot weerkaatsing-skanse
aan bome van beton,
hoog en immergeldend.
Verder gly my groet-oog
al met die Baai-brug langs.
Na die eiland van Skatte,
drooggelê langs Yerba Buena,
tot die eiland van Engele
— daartussen dryf ’n tronkrots stroef.
Die Goue hangbrug strek magies mis-ver
na oorkant, waar John Muir
se reuswoud wolke krab.
Op ’n sonskyn dag soos dié,
terwyl ’n seuntjie op die skoolgrond
langs die toring ’n oomblik stil
staan en ’n snot bewonder…
wat ’n vreemde wete nié
dat hierdie stukkie aarde
seismies vroeër of later
sy skouers weer gaan ophaal
en soos ’n hond verbete
die stad van sy rug af probeer skud.
’n Vreesaanjaende rammel sal dit wees
van brande en ruïnes.
Soveel ontwrigtes, dalk ’n paar ontbrugtes,
pilare wat chopsticks in die water staan.
Dié vooruitsig speel hier permanent,
die grondtoon van ’n bestaansakkoord.
Daarna, soos tevore, sal hul seker wéér bou.
Iets stads hier, met ’n aardige temperament.
© Jan A. Botha, 2026
