I
Die volgende gedig van Cussons is opgeteken in Die woedende brood (1981).
APE SUG NIE
vir Jorge Luis Borges
‘n Sug is meer as hoorbare asem, is die hele
lang geheue van die mens: ou gevegte, antieke
kennis, vergete nooit-vergete volvoerings
van lê in arms, sterf, werk. Die krygerdigter
ná die oorwinning, deklameer resonant
sy lofrede aan sy koning, en die hele hof,
ook dié wat agter in die deure nie ‘n woord
kan hoor nie, sug ontroer. In somergras
of bed van strooi sug minnaars middeleeus,
en op die plaas ná sy vir Krismis klaar
gebak het, Calvinisties diep voldaan, sug-vind
mev. Van As dit goed, soos God in Genesis.
Wat weet die tempelape van Nepal, met hulle
aapoë blinker as oë van mens want sonder waas
van gedagte; die ronde uil, die otter, van dié so
ingewikkelde fenomeen?
Én die digter wat speel met vuur, want dig
is speel met vuur – soos daardie vervloeë poëet
wat nie kon ophou nie, uitgevind het toe
die Skoonheid self hom bebliksem het, en hy
daarna, kranksinnig, nooit weer ‘n reël kon
dink nie – dié digter wat sy sit nóg rus
kan kry, wrewelig van worstel, sug. Tot oplaas
die rustelose ongeneeslike sug na meer en
altyd beter as taal, die slang, die pragtige slang
wat die verbode, onsegbare Geheim omkring,
ópjaag uit haar kronkels, sissend na die brein
Minder vermetel lyk dit my om liewer tussen
die dooie stene van tempels wat te laat te veel
geweet het, met blink, veilige ogies aap-ongeërg te speel.
II

So is daar oor Borges geskryf in die Vrye Weekblad (27 Desember 2023):
Nommer 28 Borges
“Our destiny is not horrible because of its unreality; it is horrible because it is irreversible and ironbound. Time is the substance I am made of. Time is a river that carries me away, but I am the river; it is a tiger that mangles me, but I am the tiger; it is a fire that consumes me, but I am the fire. The world, alas, is real; I, alas, am Borges.”
Edwin Williamson se biografie Borges- A life (Viking, 2004) gee ‘n boeiende blik op een van die grootste skrywers van ons tyd. Jorge Francisco Isidoro Luis Borges Acevedo (gebore 1899 – 1986) was ‘n kortverhaalskrywer, digter, essayis, vertaler en polemis.
In hierdie studie van oor die 500 bladsye, lees ‘n mens oor hoe ‘n liefdesteleurstelling met ene Norah Lange hom kreatief aangevuur het. Sy het soos Dante se Beatrice die verskillende vlakke van ellende en ekstase verpersoonlik.
Op ouerdom 55 het hy blind geword. As negejarige kind het hy die Happy Prince in Spaans vertaal en selfs opgemerk dat sy vader se biblioteek die grootste inspirasie van sy lewe was. Weens die politieke onrus in Argentinië, vertrek hulle na Switserland waar die jonge Jorge Frans leer. In 1921 keer hy terug na Buenos Aires waar hy eers bekend word as digter. Hy was kortstondig getroud. Sy moeder het hom deurgaans in sy blindheid versorg en as sy sekretaresse opgetree.
In hierdie biografie word ‘n mens bewus van ‘n skrywer met ‘n skerp tong. Hy het onder andere beweer dat Lorca se tragiese dood gelei het tot ‘n oorskatting van sy werk as skrywer. Tydens ‘n polemiek het hy opgemerk dit herinner hom aan twee kaalkopmans wat baklei oor ‘n kam.
In Desember 2014/ Januarie 2015 het ek Argentinië besoek en iets probeer verstaan van Borges se leefruimte. Die skrywer van die labirint en een wat nagedink het oor die wysheid of die skrywer die boek skryf; of word die skrywer deur die boek geskryf? Sy Ficciones (Fictions) uit 1941, ondersoek hierdie spel tussen inspirasie (droom) teenoor werklikheid.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=borges Besoek 27 Desember 2023

Café Tortoni Foto Joan Hambidge
Sheila Cussons het onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale (1981) van Borges se verhale vertaal.
Die belangrike vraag is waarom het hy nooit die Nobelprys verower nie?
Hierop antwoord Williamson onomwonde dat sy uitgesproke politieke uitsprake nie goed afgegaan het by die Nobelkomitee nie. Die sosialistiese skrywer, Arthur Lundkvist, ‘n vriend van Pablo Neruda, het sy kaarte aldaar deurmekaar gekrap. Oor Neruda was hy eweneens krities. Opgemerk hy is ‘n groot digter, maar ‘n onaangename mens. Neruda het wel die Nobelprys in 1971 verower.
Was dit Borges se politieke standpunte vir en ondersteuning van Pinochet alleen? Of was dit ook sy kritiek op Péron? Was sy uitsprake dalk ook aangevuur deur sy blindheid en sy teleurstelling in ‘n wêreld wat in chaos verval het?
Williamson fokus op Borges se gevoel van descolocada, ‘n gevoel van uit plek uit wees.
Al sy liefdesverdriete – wat hom dikwels bykans tot selfmoord gedryf het – en teleurstelling met die politiek van sy dag, het waarskynlik sy tekste wat perfek gekonstrueer is, bepaal. Die voortdurende spanning tussen hoé hy in sy vaderland beskou is en internasionale aansien, word goed beskryf.
Sy lesingreekse aan Harvard word goed bygewoon deur ander skrywers (soos Robert Lowell), maar die Viëtnam-oorlog maak die kampus ‘n plek van onrus met studente opstande.
Sy besoek aan Japan, laat in sy lewe, word ‘n soektog na heling.
Maar wanneer ons fokus op sy uitsonderlike tekste soos Die boek van sand, weet ons Harold Bloom had gelyk.
In sy verhale gaan hy verder en dieper as enige ander skrywer. Sy invloed op Robert Coover, Donald Barthelme, John Barth, o.a. is al uitgewys.
Die labirint of doolhof in sy werk kan gelees word as ‘n representasie van sy geliefde stad Buenos Aires waar hy gereeld gewandel het. Ook sy gevoel dat hy Europees is en leef in Suid-Amerika. Dat hy letterlik blind is, maar tog simbole probeer vind in die Onsienlike.
Sy liefde vir Cervantes is bekend. En Franz Kafka. Ook Virginia Woolf.
III
Wanneer ‘n mens Die woedende brood lees, is ‘n gesprek met Borges opvallend. Hy dig oor tiere, katte, luiperds.
Cussons dig:
Én die digter wat speel met vuur, want dig
is speel met vuur – soos daardie vervloeë poëet
wat nie kon ophou nie, uitgevind het toe
die Skoonheid self hom bebliksem het, en hy
daarna, kranksinnig, nooit weer ‘n reël kon
dink nie – dié digter wat sy sit nóg rus
kan kry, wrewelig van worstel, sug. Tot oplaas
die rustelose ongeneeslike sug na meer en
altyd beter as taal, die slang, die pragtige slang
wat die verbode, onsegbare Geheim omkring,
ópjaag uit haar kronkels, sissend na die brein
Hier is Borges:
On his blindness
In the fullness of the years, like it or not,
a luminous mist surrounds me, unvarying,
that breaks things down into a single thing,
colourless, formless. Almost into thought.
The elemental, vast night and the day
teeming with people have become the fog
of constant, tentative light that does not flag,
and lies in wait at dawn. I longed to see
just once a human face. Unknown to me
the closed encyclopaedia, the sweet play
in volumes I can do no more than hold,
the tiny soaring birds, the moons of gold.
Others have the world, for better or worse;
I have this half-dark, and the toil of verse.
https://www.poetryverse.com/jorge-luis-borges-poems/on-his-blindness Besoek 10 Augustus 2026
Albei digters dig vanuit fisieke gebreke met die “toil of verse” as die oplossing. Albei werk met sintuiglikheid:
My sintuie is verwisselbaar,
hoor kleure, beluister geure:
skryf Cussons in “Orrel” (Die woedende brood).
By sowel Cussons as Borges is daar ‘n gevoel van descolocada.
Ontheemding, uit plek uit wees én ‘n terugkyk of onthou van die jeug en ‘n beskrywing van die lewe se “onsegbare Geheime”.
Beide sleur jou mee in hul aangrypende en meesleurende verse.
Joan Hambidge
Kaapstad
10 Augustus 2026

Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons oopmaak. Borges word dikwels net vir sy kortverhale en prosa onthou, maar sy digkuns is uitstaande.
Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te lees.