
Resensie: Krap – oop toe om rond uitkrap, Koos de Wet, 2026. Gansbaai: Naledi.
Resensent: Dewald Koen
I
Menige gepubliseerde digter is vertroud met die standaardpraktyk dat ’n tweede bundel met sekere verwagtinge gepaard gaan. In hierdie opsig wil die kritiese leser bepaal of digterlike groei sedert die debuutbundel plaasgevind het. De Wet het in 2025 met Seine gedebuteer en sy tweede bundel Krap – oop toe om rond uitkrap volg dus kort op sy debuut.
Die bundel bestaan uit ses afdelings waarvan die titels telkens met die woord “krap” verbind word om in die konteks van die bundel ’n saamgestelde werkwoord te vorm: oopkrap, uitkrap, rondkrap, omkrap, toekrap en ’n ware krap (alleenstaande slotgedig). Hierdie werkwoorde dui metafories op die digterlike proses waarin die genoemde aksies metafories en tematies in die onderskeie gedigte resoneer. (Dit is opvallend dat die volgorde van die afdelings verskil van die wat op die voorplat genoem word.) Karen Cronjé se treffende voorplatontwerp versinnebeeld die titel en subtitels op kreatiewe wyse met hande wat in die grond krap. Op sy beurt verwys die bundelmotto na die Shakespeariaanse tragedie Hamlet: “Om te krap of nie te krap nie is altyd die vraag, maar hoekom en hoe om te krap ’n vraagstuk.” Die motto vind aanklank by die gedigte waarin verskeie temas soos kuns, godsdiens, die ars poëtika, liefde, en sosio-politieke kwessies verken word. Laasgenoemde kwessies word deur die digter-spreker deur middel van dié spesifieke werkwoord (“krap”) ondersoek. Die ordening van die gedigte sien in die algemeen geslaagd daar uit sodat die gedigte die bundel as geheel tematies byeenbring.
II
De Wet skryf toeganklike gedigte met duidelike temas. In die opsig merk die blakerteks op: “Die brug tussen die leser en digkuns word in eerlikheid geskep en word eerder deur die leser gevoel as wat dit bewys word.” Hierdie problematiese stelling ten spyt, is daar ’n aantal gedigte waarin pragtige beelde voorkom. In die gedig “Anderkant Beaufort-Wes” skryf die digter-spreker “Rooisandsteenberg word dié teater se gordyn” (15) en in “Buffeljag 05–2025” (48) merk hy op: “Die buffel se horings is ’n reuse snor […]”. Ook humor kom in die bundel aan bod. Die gedig “Windpomp” (32) word soos volg afgesluit:
toe ek climax op jou lees
het ek diep oor die pomp gedink, maar
toe sien ek dat jy boorgatsjerrie
vir jou skape skink.
Geslaagde gedigte sluit in “Meer bek” (35), “Merkblokkies” (43), “Loer” (60), “Vulkanies” (61), “Gedissekteer” (82), asook “Die ongelukstoneel” (90). De Wet slaag veral met die skryf van “Haikoes” (56):
[…]
- ’n Woord is stuifmeel
vir sinne op die punte
van penne bevrug.
Intertekstueel tree De Wet in gesprek met mededigters soos Nini Bennett en Daniel Hugo. Sy herskrywing van Hugo se gedig “Prognose” is beeldryk:
Ek druk my stetoskoop
apologeties
teen jou digstembande –
daar tik ’n luisterryke rym wat
soos ’n beitel klink
dit kruis en paar; ek
raak verlief op sulke lyne
dit is voorskrifmedisyne; ’n
prognose oor rymdig
(as synde terminaal)
word as onwaarskynlik verklaar.
Die verse “Loer” (60) en “Vulkanies” (61) val ook op. In “Loer” maak die digter-spreker gebruik van ’n besondere beeld:
Toe sy by my vergrote pupil instap
rig die iris sy kleur en span
my horingvlies sy boog
vir ’n kykie in haar oë.
Uit bogenoemde voorbeeld blyk dit dat De Wet oor die nodige potensiaal en vermoë beskik om geslaagde, beeldryke gedigte te skryf. Dit is dus jammer dat die bundel té vroeg verskyn het en klein jakkalsies die wingerd verniel.
Die bundel as geheel bevat ’n verskeidenheid mankemente. Geykte beelde soos “gloeiend soos sterre in die nag” (21) en “’n Roos tussen dorings” (25) kon vermy gewees het. Enkele spelfoute doen afbreuk aan die bundel soos in die gedigtitel “Akkoderend” (22) wat eerder “Akkorderend” moet lees. Verdere voorbeelde sluit in “eifeltorinkie” (32), “taxis”(36), “matrysse” (46) en “borspeld” (90). Swak taalversorging doen die bundel oneer aan. Die gedig “’n Duif” (23) se eerste strofe is problematies, aangesien die strofe daarop sinspeel dat die duif in die titel wurms eet.
In mededoë beskou hy
’n wurm of twee, rol die krale van sy oë
vir ’n aanval op proteïn
is dit al geweld wat hy inisieer
(…)
Die woord “hy” verwys klaarblyklik na die duif indien die strofe saam met die titel en die tweede strofe gelees word. In die gedig word teenpole naamlik vrede versus geweld daargestel. Die duif versinnebeeld vrede terwyl die arend geweld simboliseer. Die vierde versreël van strofe een kan dubbelsinnig voorkom, aangesien die spreker impliseer dat die duif geweld “inisieer” deur wurms te eet. Duiwe is egter granivore wat nie proteïne eet nie. Laasgenoemde dubbelsinnigheid veroorsaak verwarring in die konteks van die gedig. Die digter-spreker dui wel aan dat die duif “mededoë” met die wurm(s) toon, dog sal dit eerder ’n arend wees wat proteïne eet.
III
Opsommend is De Wet se tweede bundel in sy geheel teleurstellend. Na die verskyning van sy debuut Seine in 2025 het die digter ’n geleentheid gehad om sy digvernuf te verfyn om soortgelyke struikelblokke wat resensente uitgewys het die hoof te bied. Helaas is dit nie die geval nie.
’n Tweede bundel word in die algemeen vanuit ’n ander oogpunt as ’n debuut getakseer. Soos reeds in die inleiding genoem, kyk lesers en kritici veral na aanduidings van digterlike groei in die individuele gedigte, maar ook in die bundel as geheel. Myns insiens is die probleem die kort tydsverloop tussen die digter se debuut en die publikasie van sy tweede bundel. In dié opsig vertolk ’n redakteur en uitgewer ’n belangrike rol om digters (en skrywers oor die algemeen) attent te maak op té vroeë publikasie. Daar is ’n rede waarom sommige digters jare of selfs dekades neem voor hul volgende bundel verskyn. Om gedigte te skryf is nie bloot ’n vingeroefening met die oog op publikasie nie – ongeag vir wie die bundel geskryf word. Sogenaamde “toeganklike” poësie verleen nie carte blanche om te publiseer en bundels soos ’n worsmasjien uit te ryg nie. Meestal sal uitgewers skrywers aanmoedig om die manuskrip soos ’n goeie bottel wyn te laat distilleer. In dié opsig is die ironie in die gedig “Dilemma” (69) se slotstrofe opvallend:
Nou sweer ek hoog en laag:
Ek bly eerder vaag in plaas daarvan om
stukkies digsiel te verpand en goed te sê
soos die professors dit wil hê.
Indien kwantiteit bo kwaliteit ’n digter se strewe is, is dit op sigself kommerwekkend. Die resensent gee toe dat gedigte met tye vir verskillende tipes lesers geskryf word. Sommige digters soos Gilbert Gibson en Marlene van Niekerk skryf hermeties met die gevolg dat sommige gedigte vir die deursnee leser uitdagend lees. Poëtiese toeganklikheid is egter nie ’n paspoort tot die skryf van geykte beelde, swak redigering, en ander hebbelikhede soos in die voorafgaande bespreking aangedui is nie.
Daar is enkele gedigte wat geslaagd daar uitsien, asook ’n aantal weldeurdagte metafore en beelde. Indien die digter hierdie positiewe aspekte met groter selfkritiek sou benader, het hierdie bundel veel meer potensiaal gebied om ’n verbetering op die debuutbundel tot gevolg te hê. Die uitgewersredakteur moet egter ook voor stok gekry word. Ooglopende spelfoute en geykte beelde soos “gloeiend soos sterre in die nag” (“Stervangers”) is onaanvaarbaar vir enige hoofstroomuitgewer. Strenger redigering en keuring is ’n vereiste vir die publikasie van geslaagde literêre tekste.
De Wet se Krap toon in sekere opsigte belofte, maar die geheel is helaas nie op peil nie. Hopelik sal die digter in die toekoms met groter omsigtigheid te werk gaan.

Naledi, wat het hier gebeur ??