Inflasie
1969
Een keer elke maand sit ek en my pa
by Vorster & Joubert vir ’n haarsny
en luister na die gesprekke om ons.
Dié Saterdag vertel Hendrik Vorster,
die haarkapper en dorp se balju,
van sy dogter, Cecilia, se vraag vroeër.
“Pa,” wou sy weet, “ek hoor op die radio
van inflasie, maar vertel asseblief
vir my wat hierdie woord beteken.”
Ek sit op die groot barbierstoel van leer
terwyl sproeireën saggies oor my sif
en die haarknipper deur my hare flits;
en hoor die verbluffende antwoord:
“My kind, inflasie is gevaarliker
as oorlog – die ergste wat kán gebeur.”
Ek luister penorent en word yskoud
wanneer Hendrik sê: “Vandag het jy geld,
maar môre is daar niks, niks van oor nie.”
Vir Jannie Rossouw
© Johann Lodewyk Marais, 2026
