

PP Fourie

Herman Binge-filmprys 2026
Wenner: PP Fourie vir Die dood van Rachel April (Human & Rousseau)
Commendatio: Beer Adriaanse
In die afgelope jaar het die roman hom weer eens as die rolprentbedryf se hardwerkendste, maar dikwels swakste betaalde, medewerker, bewys. Maggie O’Farrell se Hamnet, Richard Osman se The Thursday Murder Club en selfs Mary Shelley se onvermoeibare Frankenstein is vir die skerm verwerk. Plaaslik het Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet – die wenner van hierdie prys in 2017 – ’n tweede lewe as vollengterolprent gekry. Die dood van die rolprent, soos dié van die boek, word ietwat voortydig aangekondig.
Net toe kunsmatige intelligensie boonop met ’n hamer en ’n handvol spykers by die doodskis opdaag, het gehore weer begin terugkeer bioskoop toe. Veral jong mense ontdek opnuut die plesier daarvan om saam met vreemdelinge te lag, skrik en huil – en om vir twee uur lank nie ’n storie in vertikale formaat op ’n selfoonskerm te volg nie.
Op eie bodem kon ons unieke mengsel van begrotingsprobleme, logistieke beproewings en algemene administratiewe vuisvoosheid nie verhinder dat ’n besonder uiteenlopende groep films die afgelope jaar die skerm haal nie. Dink maar aan Silas en die Ysbeer op Tafelberg vir die jonger gehoor, Al wat ek weet, Nico Scheepers se Landmyn, en Variasies op ’n tema, wat so ver as Rotterdam opslae gemaak het.
In dié klimaat was dit ’n vreugde om vanjaar se inskrywings vir die Herman Binge-prys te lees: romans wat byna vanself die leser se innerlike regisseur wakker maak. Bladsye word tonele; ruimtes word filmliggings; karakters begin oudisies aflê nog voordat ’n vervaardiger sy sakrekenaar nader trek.
Al drie kortlysromans beskik oor daardie potensiaal.
Die wenroman bestryk ’n wye geografiese terrein en die verhaal stel ’n reeks raaisels aan die orde, maar hierdie raaisels sweef nie bloot in die eter van die skrywer se verbeelding nie. Hulle wortels lê in die Suid-Afrikaanse geskiedenis – in die dinge wat wel gebeur het, kon gebeur het, of wat sekere mense baie graag sou wou hê nooit op rekord geplaas moes word nie.
Die roman het die vaart, intrige en aansteeklike vermetelheid van ’n Dan Brown-spanningsverhaal, maar met ’n belangrike verskil: die geskiedenis is hier meer as net muurpapier waarteen mense met geheime dokumente verbyskuur. ’n Vernuftige regisseur sal hiervan ’n meesleurende riller kan maak sonder om te verval in die oppervlakkigheid wat die genre soms met soveel selfvertroue as diepte aanbied.
Dis ’n verhaal wat onverwagse draaie neem, maar die skrywer vermy wilde spronge van die verbeelding. Hy put telkens uit gedokumenteerde feite, historiese moontlikhede en geloofwaardige komplikasies. Vincent van Gogh se broer wys sy gesig tussen die grafte van vergete helde; lesers bevind hulself in geheime verregse fortifikasies in plaaslike woonbuurte. Ons ontmoet skadufigure in die studentegeledere.
Daar is ’n verdwyning. Daar is ’n moord. En tussen dié twee lê ’n kraaines van motiewe, verdagtes, verraad en skuld – presies die soort kraaines waaroorheen ’n goeie kamera graag sy waarderende lens laat gly.
Filmies gesproke is die materiaal dinamiet. Dat die historiese grondslag daarvan so oortuigend is terwyl die verhaal terselfdertyd verrassend modern aandoen, maak die uitgangspunt des te sterker. Dit is ’n verhaal wat uit die verlede kom, maar met albei hande om die strot van die hede gesluit.
Bowenal bied Die verdwyning van Rachel April aan ’n regisseur die geleentheid om die diversiteit van die rolverdeling ten volle te benut. Dit skep uitsonderlike geleenthede vir jong akteurs – moontlik selfs rolle waarmee nuwe loopbane gevestig kan word. Juis in hierdie ensemble, in die botsings en verskuiwende lojaliteite tussen die karakters, klop die hart van PP Fourie se spanningsroman, die waardige wenner van vanjaar se Herman Binge-prys vir die mees verfilmbare roman.
