Andries Bezuidenhout is ʼn akademikus, digter, musikant en beeldende kunstenaar. Hy woon in Alice in die Oos-Kaap en is professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare.
As digter het hy twee digbundels gepubliseer, naamlik Retoer (2007) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014).
As musikant is hy deel van die Brixton Moord & Roof Orkes, maar tree ook as solo-musikant op. Hy het nege albums vrygestel, die mees onlangse ʼn album genaamd Bazaar punk (2022). Soms kombineer Andries sy digterlike en musikale belangstellings, soos die album Derde golf (2021), met opnames van gedigte deur Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis en Lydia Gittens en musikale verwerkings deur Andries.
As beeldende kunstenaar maak hy meestal olieverfskilderye met landskappe en interieurs as tema. ʼn Belangstelling in landskappe, geskiedenis en hoe mense probeer om van plek en ruimte sin te maak, skep ʼn tipe samehang tussen sy kreatiewe en akademiese werk.
Andries is in 1969 in Pretoria gebore en het skoolgegaan aan Laerskool Meyerspark en Hoërskool Silverton, waar hy in 1987 matrikuleer. Na skool was hy dienspligtig in Kimberley, Mamelodi en Namibië (1988-1989). Hierdie tydperk, asook sy grootwordjare in Pretoria, word in sy debuutbundel Retoer ondersoek.
In die vroeë-1990s studeer hy aan die Universiteit van Pretoria en voltooi grade in politieke wetenskappe en sosiologie (BA, honneurs en Magister). Andries is in 1994 met Irma du Plessis getroud.
In 1996 verhuis hulle na Johannesburg, waar Andries eers as dosent by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit werk en later as navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy doen navorsing in arbeidstudies, met vakbonde en internasionale ontwikkelingsorganisasies as belangrikste kliënte. Hy voltooi ʼn doktorsgraad in sosiologie (in 2004) aan die Universiteit van die Witwatersrand onder die studieleiding van Eddie Webster en skryf saam met Webster en Rob Lambert ʼn boek oor yskasfabrieke in Suid-Afrika, Australië en Suid-Korea, genaamd Grounding globalisation: Labour in the age of insecurity (2008, Blackwells).
In 2010 keer hy terug Pretoria toe om by die Universiteit van Pretoria te werk (medeprofessor in sosiologie). In 2013 voltooi hy ʼn Magistergraad in kreatiewe skryfkunde (met lof) aan die Universiteit van Stellenbosch, met Willem Anker en Marlene van Niekerk as studieleiers. Dit lei ook tot die publikasie van sy tweede digbundel Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, waarin die nywerheidswese in sy navorsing ʼn tema is.
Aan die einde van 2017 verhuis Andries en Irma Oos-Kaap toe om aan die Universiteit van Fort Hare te werk.
Persoonlike webwerf: https://andriesbezuidenhout.co.za/
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCRohK0N0wPq_NPn_ASJgV0w
Instagram: https://www.instagram.com/andries_bezuidenhout/?hl=en
Digbundels
Retoer. Protea Boekhuis, 2007
Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Protea Boekhuis, 2014
Rubrieke
Toeris in Hillbrow. Human & Rousseau, 2010
Klankopnames
As lid van die Brixton Moord en Roof Orkes:
Spergebied. Rhythm Records, 2002
Terug in Skubbe. Rhythm Records, 2005
Slaaptyd in die suburbs. Onafhanklik, 2015
Bazaar punk. Dikeni Records, 2022
As solo-musikant:
Insomniak se Droomalmanak. Rhythm Records, 2003
Bleek Berus. One-F Music, 2009
Onplaats. Die Wasgoedlyn, 2020
Spoorlangs. Dikeni Records, 2021
Saam met Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis en Lydia Gittens:
Derde golf. Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans, 2021
TESTAMENT
(Lees saam met Soldier’s Things van Tom Waits)
Bokse, koeverte, albums, leggers –
op jou instruksies hier laat aflaai.
Maak oop, pak uit, sorteer.
Ons wat met ʼn lewe se skrapnel
honger waters bootsmanloos navigeer
(ekskuseer die rym en melodrama, vriend).
Jy’s twee of drie op die strand,
Violet of Anna hou dop,
jou in die een oog, in die ander die see.
Skoolrapporte. Beste vordering, selde afwesig.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Nou afwesig, vir altyd, vir goed.
Jikwit tennisspan, jy voor in die middel,
septer ʼn raket.
Tweede rugbyspan, melkbaarde hou aan balle vas.
Pro Patria-medalje, ongebeitsde stewels, baret,
pelotonfoto in Langa of Khayelitsha,
skote uit Ondangwa, pips, boshoed.
Ou identiteitsboek, nommer wat uitmond in 00 0,
staatsdiensgroen, pienk stempel, dié oorblufte portret
het in die 92-referendum gestem.
Varsitydas. Koshuispet.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat somewhere over the rainbow sou oopgrendel.
Gradeplegtigheid in Bat Man-mondering.
Sjampanjeprop, spyskaart van een of ander dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief,
dalk ʼn poging tot liriek of gedig.
Verseëlde maar verstreke government issue kondoom.
Vriende, óns, Marius, dis óns en jy
wat vir Vic Falls se sproei so lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.
Dít alles, Marius, het jy vir ons nagelaat
en instruksies om dit ter aarde te bestel
by hierdie genommerde erf langs ander Van Wyks,
brandwagsipresse buite Wellington, Wes-Kaap, Afrika.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van Wyk niet”?
Anyway, jou testament beweer
jy’t vooruit vir die gat betaal.
Iemand laat uit Brisbane weet
die ooswind het jou as kom haal.
© Andries Bezuidenhout. Jan. 2011
KWAS
“[R]hetoric is the art of saying well that which may or may not
be true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.”
– Otto, karakter in Umberto Eco se Baudolino
woorde deurnag in terpentyn geweek
onder kraan laaste kleur uitgeklits
hoe ystervark die stele vanoggend
hoe puntig steek hulle verby die oog
hoe brandwag hulle paraat in albaster
om weer kop eerste
in spoeg sweet en saad te dompel
om jou lyf en my lewe
skilderagtig te belaster
© Andries Bezuidenhout. Maart 2010
GEREFORMEERDE HEILDRONK
(op Jan Lion-Cachet)
as die oggend oopbreek is selfs die winter helder
vlas fladder bo en hier onder is jou beker al koud
die moer die papbord se vet het gestol maak die boek toe
trek die gordyn eenkant voel die son op jou gesig
sê hulle moet die stoof stook sê hulle moet water kook
en as warrelwinde stofwolke opklits dink jy soms terug
onthou jy winters polders meulens wat knars
en beur en pomp teen vog wat in mure muf
onthou jy hoe pa hout in die herd pak die huis kil
en klam lig skuifel flou oor die vloer stil
lê gragte onder gerwe rook teen die lae lug
dit was lank gelede vir jou ʼn skeepsreis ver
na ʼn ander vaster land jou mense altyd op vlug
hoe reis jy van die laeland avondland waterland
na hierdie land waar alles bars en los is waar dorings
deur die sole steek en die son die vel se bolwerk breek?
hier waar dit oop en droog is die hemel hoog is
hier op die vlaktes van burgersdorp tussen koppies
rantjies waar skape vrank aan bossies kou
en rustenburg waar osse doringbome uit die aarde ruk
vir ploeg en plant en die skemer vlamme uit die klowe pluk
op hiérdie vlaktes het jy stuurs jou stoere kerk kom bou
het jy pen en toga opgeneem gedig en betoog
met totius pannevis en hoogenhout sodat ons moedertaal
gehoor kan word in raad kantoor en skoollokaal
seun van salomon lion-cachet en rachel hamburger
seun van ʼn ou en ander diaspora die klokke lui goties
in afrika rig die doppers psalms na bowe:
mazel tov oom jan
mazel tov
Die derde vers verwys na die bewoording op een van die taalmonumente te Burgersdorp, wat lees: “Erkend is nu de Moedertaal in Raad, Kantoor en Schoollokaal. Eerste Yweraars Afrikaanse taal: SJ du Toit, A Pannevis, J Lion Cachet, CP Hoogenhout.”
© Andries Bezuidenhout. Junie 2009
MOESON
lyf en seil beur teen die wind
die dhou se romp lenig in die see
bring mense en sakke rys aan wal
donkies dra ys in grasmandjies
oor hul rûe vir vishandelaars
vroue met bui-buis loop
op Lamu se promenade
die swart linne bedoel om te hul
maar die wind soen
die lyne van hul lywe
lomp span ek die seil
van my tong
om die winde van Afrika
se ander bastertaal
vas te vang –
Ee Mungu nguvu yetu
Ilete baraka kwetu.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008