Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout is ʼn akademikus, digter, musikant en beeldende kunstenaar. Hy woon in Alice in die Oos-Kaap en is professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare.

As digter het hy twee digbundels gepubliseer, naamlik Retoer (2007) en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014).

As musikant is hy deel van die Brixton Moord & Roof Orkes, maar tree ook as solo-musikant op. Hy het nege albums vrygestel, die mees onlangse ʼn album genaamd Bazaar punk (2022). Soms kombineer Andries sy digterlike en musikale belangstellings, soos die album Derde golf (2021), met opnames van gedigte deur Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis en Lydia Gittens en musikale verwerkings deur Andries.

As beeldende kunstenaar maak hy meestal olieverfskilderye met landskappe en interieurs as tema. ʼn Belangstelling in landskappe, geskiedenis en hoe mense probeer om van plek en ruimte sin te maak, skep ʼn tipe samehang tussen sy kreatiewe en akademiese werk.

Andries is in 1969 in Pretoria gebore en het skoolgegaan aan Laerskool Meyerspark en Hoërskool Silverton, waar hy in 1987 matrikuleer. Na skool was hy dienspligtig in Kimberley, Mamelodi en Namibië (1988-1989). Hierdie tydperk, asook sy grootwordjare in Pretoria, word in sy debuutbundel Retoer ondersoek.

In die vroeë-1990s studeer hy aan die Universiteit van Pretoria en voltooi grade in politieke wetenskappe en sosiologie (BA, honneurs en Magister). Andries is in 1994 met Irma du Plessis getroud.

In 1996 verhuis hulle na Johannesburg, waar Andries eers as dosent by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit werk en later as navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy doen navorsing in arbeidstudies, met vakbonde en internasionale ontwikkelingsorganisasies as belangrikste kliënte. Hy voltooi ʼn doktorsgraad in sosiologie (in 2004) aan die Universiteit van die Witwatersrand onder die studieleiding van Eddie Webster en skryf saam met Webster en Rob Lambert ʼn boek oor yskasfabrieke in Suid-Afrika, Australië en Suid-Korea, genaamd Grounding globalisation: Labour in the age of insecurity (2008, Blackwells).

In 2010 keer hy terug Pretoria toe om by die Universiteit van Pretoria te werk (medeprofessor in sosiologie). In 2013 voltooi hy ʼn Magistergraad in kreatiewe skryfkunde (met lof) aan die Universiteit van Stellenbosch, met Willem Anker en Marlene van Niekerk as studieleiers. Dit lei ook tot die publikasie van sy tweede digbundel Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, waarin die nywerheidswese in sy navorsing ʼn tema is.

Aan die einde van 2017 verhuis Andries en Irma Oos-Kaap toe om aan die Universiteit van Fort Hare te werk.

Persoonlike webwerf: https://andriesbezuidenhout.co.za/

YouTube:  https://www.youtube.com/channel/UCRohK0N0wPq_NPn_ASJgV0w

Instagram: https://www.instagram.com/andries_bezuidenhout/?hl=en

 

Digbundels

Retoer. Protea Boekhuis, 2007

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Protea Boekhuis, 2014

 

Rubrieke

Toeris in Hillbrow. Human & Rousseau, 2010

 

Klankopnames

As lid van die Brixton Moord en Roof Orkes:

Spergebied. Rhythm Records, 2002

Terug in Skubbe. Rhythm Records, 2005

Slaaptyd in die suburbs. Onafhanklik, 2015

Bazaar punk. Dikeni Records, 2022

As solo-musikant:

Insomniak se Droomalmanak. Rhythm Records, 2003

Bleek Berus. One-F Music, 2009

Onplaats. Die Wasgoedlyn, 2020

Spoorlangs. Dikeni Records, 2021

Saam met Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis en Lydia Gittens:

Derde golf. Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans, 2021


TESTAMENT

(Lees saam met Soldier’s Things van Tom Waits)

 

Bokse, koeverte, albums, leggers –
op jou instruksies hier laat aflaai.
Maak oop, pak uit, sorteer.
Ons wat met ʼn lewe se skrapnel
honger waters bootsmanloos navigeer
(ekskuseer die rym en melodrama, vriend).

Jy’s twee of drie op die strand,
Violet of Anna hou dop,
jou in die een oog, in die ander die see.
Skoolrapporte. Beste vordering, selde afwesig.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Nou afwesig, vir altyd, vir goed.
Jikwit tennisspan, jy voor in die middel,
septer ʼn raket.
Tweede rugbyspan, melkbaarde hou aan balle vas.
Pro Patria-medalje, ongebeitsde stewels, baret,
pelotonfoto in Langa of Khayelitsha,
skote uit Ondangwa, pips, boshoed.
Ou identiteitsboek, nommer wat uitmond in 00 0,
staatsdiensgroen, pienk stempel, dié oorblufte portret
het in die 92-referendum gestem.
Varsitydas. Koshuispet.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat somewhere over the rainbow sou oopgrendel.
Gradeplegtigheid in Bat Man-mondering.
Sjampanjeprop, spyskaart van een of ander dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief,
dalk ʼn poging tot liriek of gedig.
Verseëlde maar verstreke government issue kondoom.
Vriende, óns, Marius, dis óns en jy
wat vir Vic Falls se sproei so lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.

Dít alles, Marius, het jy vir ons nagelaat
en instruksies om dit ter aarde te bestel
by hierdie genommerde erf langs ander Van Wyks,
brandwagsipresse buite Wellington, Wes-Kaap, Afrika.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van Wyk niet”?
Anyway, jou testament beweer
jy’t vooruit vir die gat betaal.

Iemand laat uit Brisbane weet
die ooswind het jou as kom haal.

 

© Andries Bezuidenhout. Jan. 2011

 


 

KWAS

“[R]hetoric is the art of saying well that which may or may not

 be true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.”

– Otto, karakter in Umberto Eco se Baudolino

 

woorde deurnag in terpentyn geweek

onder kraan laaste kleur uitgeklits

hoe ystervark die stele vanoggend

hoe puntig steek hulle verby die oog

hoe brandwag hulle paraat in albaster

om weer kop eerste

in spoeg sweet en saad te dompel

om jou lyf en my lewe

skilderagtig te belaster

 

© Andries Bezuidenhout. Maart 2010

 


 

GEREFORMEERDE HEILDRONK

(op Jan Lion-Cachet)

 

as die oggend oopbreek is selfs die winter helder

vlas fladder bo en hier onder is jou beker al koud

die moer die papbord se vet het gestol maak die boek toe

trek die gordyn eenkant voel die son op jou gesig

sê hulle moet die stoof stook sê hulle moet water kook

en as warrelwinde stofwolke opklits dink jy soms terug

onthou jy winters polders meulens wat knars

en beur en pomp teen vog wat in mure muf

onthou jy hoe pa hout in die herd pak die huis kil

en klam lig skuifel flou oor die vloer stil

lê gragte onder gerwe rook teen die lae lug

dit was lank gelede vir jou ʼn skeepsreis ver

na ʼn ander vaster land jou mense altyd op vlug

 

hoe reis jy van die laeland avondland waterland

na hierdie land waar alles bars en los is waar dorings

deur die sole steek en die son die vel se bolwerk breek?

 

hier waar dit oop en droog is die hemel hoog is

hier op die vlaktes van burgersdorp tussen koppies

rantjies waar skape vrank aan bossies kou

en rustenburg waar osse doringbome uit die aarde ruk

vir ploeg en plant en die skemer vlamme uit die klowe pluk

op hiérdie vlaktes het jy stuurs jou stoere kerk kom bou

het jy pen en toga opgeneem gedig en betoog

met totius pannevis en hoogenhout sodat ons moedertaal

gehoor kan word in raad kantoor en skoollokaal

 

seun van salomon lion-cachet en rachel hamburger

seun van ʼn ou en ander diaspora die klokke lui goties

in afrika rig die doppers psalms na bowe:

 

mazel tov oom jan

mazel tov

 

 

Die derde vers verwys na die bewoording op een van die taalmonumente te Burgersdorp, wat lees: “Erkend is nu de Moedertaal in Raad, Kantoor en Schoollokaal. Eerste Yweraars Afrikaanse taal: SJ du Toit, A Pannevis, J Lion Cachet, CP Hoogenhout.”

 

© Andries Bezuidenhout. Junie 2009

 


 

MOESON

 

lyf en seil beur teen die wind

die dhou se romp lenig in die see

bring mense en sakke rys aan wal

donkies dra ys in grasmandjies

oor hul rûe vir vishandelaars

vroue met bui-buis loop

op Lamu se promenade

die swart linne bedoel om te hul

maar die wind soen

die lyne van hul lywe

 

lomp span ek die seil

van my tong

om die winde van Afrika

se ander bastertaal

vas te vang –

 

Ee Mungu nguvu yetu

Ilete baraka kwetu.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Joan Hambidge. The upturn palm
  • Albi Prinsloo. Verlossing
  • Retha van Deventer. ekwilibrium
  • Hennie Maartens. Water

Nuutste bydraes

  • Elmarie Nienaber Van Kampen. trapklip no 12
  • Nuwe bundel van Miel Vanstreels
  • Marthé McLoud. 31 Desember 1997
  • AVBOB Persverklaring
  • Digtersprofiel: Daniel Hugo

Nuutste kommentaar

  1. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  2. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  3. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  4. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

  5. Marthé McLoud on Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange in Sunnyside en Pretoria.3 December 2025

    Ek geniet die artikelreeks oor Johann verskriklik baie. Baie interessant. Dankie daarvoor.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d