D.P.M. Botes is op 7 Julie 1935 in Witbank gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Daarna verwerf hy ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan UNISA. Onder prof. Wilfried de Pauw voltooi hy aan UNISA ’n MA-verhandeling, ’n Ondersoek na verteenwoordigende literêre opvattinge van die Futurisme, Kubisme, Dadaïsme en Surrealisme (1963). In die winter van 1965-1966 doen hy onder prof. Jean Weisgerber aan die Université Libre de Bruxelles in België navorsing vir ’n proefskrif oor die digter Gaston Burssens. Botes is in 2013 op die ouderdom van 78 oorlede. Botes debuteer met die bundel Wat is ’n gewone man (1965), waarvoor hy die eerste Afrikaanse wenner van die Ingrid Jonker-prys was. Daarna publiseer hy nog twee bundels, naamlik Klein grys telegramme van die wêreld (1966) en Psalms van David (1973). Van sy gedigte verskyn ook saam met dié van P.A. de W. Venter en Menno Stenvert in Klawer (1966). Botes se laaste bundel, van ’n skaap in wolfsklere, verskyn in 2012 by Tormentoso. Dié uitgewery is veral bekend vir sy historiese publikasies. |
my seun
daar kom ‘n tyd
dat jy die dood self moet omhels
soos ‘n beminde vrou wat oor jou rou
dat die woord sy assosiasies verloor
al sy betekenisse terugkeer na die bron
energie word riviere strome
herlei word na ‘n atoomstasie
dat jy alle vriendskappe van jou moet afwerp
soos die liefde wat verdwyn in die nag
en die roep van voëls wat nie meer praat nie
waaraan vlerke gegee is om te vlug
om agter die horisonne te kyk:
nou kan hulle nie meer vlug nie
dat herinnering ‘n skouerophaling is
wanneer niks meer aanstoot gee nie
wanneer sand proe soos sand
en water uit jou syfer soos water
dat jy staan
aan die begin van ‘n skepping:
alleen
(Uit: van ‘n skaap in wolfsklere, 2012, Tormentoso)