![]() Emmie Bedeker is op Prins Albert gebore waar sy gematrikuleer het. Die meeste van haar vakansies het sy in die Klein-Karoo op haar ouma se plaas deurgebring. Sy het B. Verpleegkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, is met ’n skoolliefde getroud en het twee dogters. Ná ’n paar jaar van woon en werk op Stellenbosch is Bedeker en haar man na Namibië waar hulle net drie jaar wou vertoef. Hulle woon egter steeds op dieselfde klein plekkie, Khorixas in Damaraland, waar hulle begin het: Die natuurskoon en eenvoud het hulle in die land gehou. Hier moes Emmie noodgedwonge ’n loopbaanskuif maak. Sy het vir die Universiteit van Namibië gewerk en haar M.A. in Afstandsonderrig verwerf, maar is deesdae haar eie baas. Haar kinderverse is opgeneem in Rympies vir Pikkies en Peuters (2015) en Rympies vir Kleintjies en Kleuters (2017), beide saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotze-Myburgh, en Gertie Smit, en uitgegee deur NB Uitgewers. In 2020 word van haar gedigte en kortverhale opgeneem in die versamelbundel Land onder woorde, saamgestel deur Chrisna Beuke-Muir. Dié bundel is ’n produk wat voortvloei uit die eerste skryfkompetisie wat Windhoek Woordfees in 2019 van stapel gestuur het met dr Emma Kirchner (Universiteit van Namibië), Carina Stander en dr Marius Swart as beoordelaars. Bedeker se kortverhaal “Wraak” is bekroon in die kortverhaalkategorie. Van haar skryfsels het ook al in Die Burger en Vrye Weekblad verskyn. Bedeker se poësie is reeds bekroon met twee ATKV Pluimpies ( 2005 en 2006) en ’n veertjie (2009) voor haar debuut in 2023 met die bundel Die grondgeitjie roep (Turksvy Publikasies). Dié bundel is die produk van baie jare se skryf en leer. Bedeker het onder andere skryfskole bygewoon aangebied deur Hans du Plessis, Riana Scheepers en Louis Esterhuysen.
|
die grondgeitjie roep
die skemer versag
die plooie van ’n oerlandskap
hier waar die aarde
haar binneste blootlê
die hitte vlug voor die westewind
en ons kom tot rus
ná ’n dag van swerf
tussen versteende woude en sferuliete
met die laaste lig
breek ’n grondgeitjie die stilte
klik-klik-klik-klik, antwoord sy maat
en rondom ’n vuur
sluit ek en jy ’n verdrag
om nooit op te hou roep
na mekaar
ná ons sterwe sal ons
wat van sterre afstam
hier tussen lawa en rots
weer tot rus kom
vir altyd
*
Google Earth
’n Satelliet vat my weg.
Die aarde lê spoorloos;
riviere spataar na die see.
Duine gooi wal teen die wind.
Die aarde lê spoorloos.
Ek dwaal deur vallei en ravyn.
Duine gooi wal teen die wind.
Sand en wind het beelde gebeitel.
Ek dwaal deur vallei en ravyn.
Tyd staan stil in fossiel en klip.
Sand en wind beitel beelde uit rots.
Eeue lank ongesien en ongekaart.
Tyd staan stil in fossiel en klip.
Swyg oor ’n begin en ’n einde.
Soveel eeue ongesien en ongekaart.
Alles nou blootgelê in elke oog.
In die kamer roep ’n kind sag.
Ek sit die rekenaar af.
*
Nagdiens
my opdrag is
om vannag jou oppasser te wees
jong gevangene
in jou gebreekte lyf
geboei met pyp en monitorkabel
is jy stil
net jou oë praat
voordag
gaan jou deure oop
val die boeie af
o, vrygemaakte
*
weg gewaai
ek wonder hoeveel male
het sy haar kinders
so weg gewaai
voordag in die straat
ons vertrek vroeg
die Karoo is warm
sy waai ons om die hoek
haar arms gelig in ’n seëngroet –
die teerstraat, heilige grond
waar sy geliefdes oorgee aan haar God
dan loop sy die stil huis binne
en offer die na-geur van kuier en kleinkinders
aan stofsuier en wasmasjien
[Gedigte geneem uit die bundel Die grondgeitjie roep (2023), Turksvy Publikasies
©Emmie Bedeker/2023