Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Emmie Bedeker

Emmie Bedeker is op Prins Albert gebore waar sy gematrikuleer het. Die meeste van haar vakansies het sy in die Klein-Karoo op haar ouma se plaas deurgebring. Sy het B. Verpleegkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, is met ’n skoolliefde getroud en  het twee dogters.

Ná ’n paar jaar van woon en werk op Stellenbosch is Bedeker en haar man na Namibië waar hulle net drie jaar wou vertoef. Hulle woon egter steeds op dieselfde klein plekkie, Khorixas in Damaraland, waar hulle begin het: Die natuurskoon en eenvoud het hulle in die land gehou. Hier moes Emmie noodgedwonge ’n loopbaanskuif maak. Sy het vir die Universiteit van Namibië gewerk en haar M.A. in Afstandsonderrig verwerf, maar is deesdae haar eie baas.

Haar kinderverse is opgeneem in Rympies vir Pikkies en Peuters (2015) en Rympies vir Kleintjies en Kleuters (2017), beide saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotze-Myburgh, en Gertie Smit, en uitgegee deur NB Uitgewers. In 2020 word van haar gedigte en kortverhale opgeneem in die versamelbundel Land onder woorde, saamgestel deur Chrisna Beuke-Muir. Dié bundel is ’n produk wat voortvloei uit die eerste skryfkompetisie wat Windhoek Woordfees in 2019 van stapel gestuur het met dr Emma Kirchner (Universiteit van Namibië), Carina Stander en dr Marius Swart as beoordelaars. Bedeker se kortverhaal “Wraak” is bekroon in die kortverhaalkategorie.

Van haar skryfsels het ook al in Die Burger en Vrye Weekblad verskyn.

Bedeker se poësie is reeds bekroon met twee ATKV Pluimpies ( 2005 en 2006) en ’n Veertjie (2009) voor haar debuut in 2023 met die bundel Die grondgeitjie roep (Turksvy Publikasies). Haar debuutbundel word in 2024 ook bekroon met ‘n ATKV Veertjie.

Dié bundel is die produk van baie jare se skryf en leer. Bedeker het onder andere skryfskole bygewoon aangebied deur Hans du Plessis, Riana Scheepers en Louis Esterhuysen.


 

die grondgeitjie roep

 

die skemer versag

die plooie van ’n oerlandskap

hier waar die aarde

haar binneste blootlê

 

die hitte vlug voor die westewind

en ons kom tot rus

ná ’n dag van swerf

tussen versteende woude en sferuliete

 

met die laaste lig

breek ’n grondgeitjie die stilte

klik-klik-klik-klik, antwoord sy maat

 

en rondom ’n vuur

sluit ek en jy ’n verdrag

om nooit op te hou roep

na mekaar

 

ná ons sterwe sal ons

wat van sterre afstam

hier tussen lawa en rots

weer tot rus kom

vir altyd

 

*

 

Google Earth

 

’n Satelliet vat my weg.

Die aarde lê spoorloos;

riviere spataar na die see.

Duine gooi wal teen die wind.

 

Die aarde lê spoorloos.

Ek dwaal deur vallei en ravyn.

Duine gooi wal teen die wind.

Sand en wind het beelde gebeitel.

 

Ek dwaal deur vallei en ravyn.

Tyd staan stil in fossiel en klip.

Sand en wind beitel beelde uit rots.

Eeue lank ongesien en ongekaart.

 

Tyd staan stil in fossiel en klip.

Swyg oor ’n begin en ’n einde.

Soveel eeue ongesien en ongekaart.

Alles nou blootgelê in elke oog.

 

In die kamer roep ’n kind sag.

Ek sit die rekenaar af.

 

*

 

Nagdiens

 

my opdrag is

om vannag jou oppasser te wees

jong gevangene

in jou gebreekte lyf

 

geboei met pyp en monitorkabel

is jy stil

net jou oë praat

 

voordag

gaan jou deure oop

val die boeie af

 

o, vrygemaakte

 

*

 

weg gewaai

 

ek wonder hoeveel male

het sy haar kinders

so weg gewaai

voordag in die straat

 

ons vertrek vroeg

die Karoo is warm

sy waai ons om die hoek

haar arms gelig in ’n seëngroet –

die teerstraat, heilige grond

waar sy geliefdes oorgee aan haar God

 

dan loop sy die stil huis binne

en offer die na-geur van kuier en kleinkinders

aan stofsuier en wasmasjien

 

[Gedigte geneem uit die bundel Die grondgeitjie roep (2023), Turksvy Publikasies

 

©Emmie Bedeker/2023

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d