Die belydenispoësie in Afrikaans is byna honderd jaar oud. In die 1930’s het W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw en Elisabeth Eybers die digkuns vernuwe met verse wat vir die destydse lesers na onbehoorlike ontboesemings geklink het. In dieselfde tyd het Hettie Smit se dagboekroman Sy kom met die sekelmaan oor haar onbeantwoorde liefde vir W.E.G. Louw verskyn. Die Dertigers se taalgebruik is deesdae verouder, maar dit is steeds algemene gebruik by digters om oor hul eie gevoelslewe en wroegings te skryf.
As onderwyser het Hettie Smit haar leerlinge aangemoedig om dagboek te hou. ’n Kort gedig geskryf deur ’n tiener kan soms veel meer verklap as intieme dagboekinskrywings. Dit het ek besef toe ek onlangs drie gedigte van ’n skoolmeisie onder oë gekry het.
Die titel van die eerste gedig is “Jy’t my vasgehou”:
Jy’t die holte van jou vuis
oopgehou
En ’n oomblik lank my hele lewe
toegevou
Dit klink by die eerste lees na die tipiese skryfsel van ’n verliefde bakvis. Maar daar is een woord wat die gedig ’n donker ondertoon gee: “vuis” in plaas van “hand”. Die vaste uitdrukking is “die holte van jou hand”. Dat hierdie hand normaalweg meer kwaad doen as goed, blyk uit die tydsaanduiding “’n oomblik lank”. Daardie hand is in die meisie se lewe meestal ‘n gewelddadige vuis. Maar kortstondig toon dit toenadering en beskerming. Daarvoor is sy so dankbaar dat sy die oomblik rymend wil verewig: oopgehou, toegevou.
Die “vasgehou” in die titel rym ook op hierdie twee woorde, maar kry in die lig van die “vuis” ’n onrusbarende betekenis. Die meisie is vasgevang in haar situasie van slagoffer wees.
In die tweede gedig verraai die beeldspraak dat alles nie pluis is nie. Die titel is “Geluk”:
Helder klokgeluid
Glas wat stamp
Bars, breek, brokkel
En in duisend stukkies skiet
Die hele vloer vul
Die eerste reël – “helder klokgeluid” – klop met die titel van die gedig. Die geluk word gelykgestel aan twee glase wat vrolik geklink word. Maar dan volg die ramp. Die glas spat allitererend in “duisend stukkies” uiteen: bars, breek, brokkel. Soos in die eerste gedig is die geluk van korte duur, word dit deur geweld vernietig. In plaas van glase vol koeldrank of wyn is die vloer nou deur glasstukke “gevul”. Die effens onbeholpe maar eerlike verwoording skep ’n pynlike paradoks wat die leser nie ongeroer laat nie.
Die derde titellose gedig boei veral vanweë die verspringende ritme wat van ’n ongewone taalvaardigheid getuig:
Ek gryp die droom
dit glip, gly weg.
Ek’s wakker, skielik,
en die werklik-
heid waak oor my.
Maar ek só vaak
wil wegraak, slaap.
Diep, om weer, net
één keer,
te kan droom
Die kommas in die laaste drie reëls is grammaties gesproke nie nodig nie, maar dit verhewig die intensiteit van die hunkering om van die onaangename werklikheid te ontsnap. Die ontglippende droom word as ’t ware hygend en hortend agternagesit.
Die verskuilde rymwoorde “waak”, “vaak” en “wegraak” is deel van die gedig se tegniese sofistikasie. Die klem val dus nie op die rymklank nie, maar op die ritme wat die emosie dra. Die enigste eindryme – “skielik” / “werklik-“ – word bewerkstellig deur ’n morfologiese enjambement. Die woord “werklikheid” word afgekap ter wille van die beklemtoning: Skielik is alles werklik. Dié afkapping help ook dat die hoofsaaklik vierlettergrepige versreëllengtes gehandhaaf word. Dit is ’n knap gedig wat verstegnies én emosioneel oortuig.
’n Slagoffer kan maklik verval in selfbejammering. Hierdie jong digter se gebruik van rym, ritme, beeldspraak en die paradoks bewys dat sy kan afstand neem van haarself. ’n Jongmens wat oor soveel woordbeheer beskik om persoonlike ervarings te besweer, het sekerlik ’n voorsprong in die lewe met al sy uitdagings.

Die onderbenoeming – konkreter: die min woorde – roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.