Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
13 July 2026

Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag

 

Die belydenispoësie in Afrikaans is byna honderd jaar oud. In die 1930’s het W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw en Elisabeth Eybers die digkuns vernuwe met verse wat vir die destydse lesers na onbehoorlike ontboesemings geklink het. In dieselfde tyd het Hettie Smit se dagboekroman Sy kom met die sekelmaan oor haar onbeantwoorde liefde vir W.E.G. Louw verskyn. Die Dertigers se taalgebruik is deesdae verouder, maar dit is steeds algemene gebruik by digters om oor hul eie gevoelslewe en wroegings te skryf.

As onderwyser het Hettie Smit haar leerlinge aangemoedig om dagboek te hou. ’n Kort gedig geskryf deur ’n tiener kan soms veel meer verklap as intieme dagboekinskrywings. Dit het ek besef toe ek onlangs drie gedigte van ’n skoolmeisie onder oë gekry het.

Die titel van die eerste gedig is “Jy’t my vasgehou”:

 

Jy’t die holte van jou vuis

oopgehou

En ’n oomblik lank my hele lewe

toegevou

 

Dit klink by die eerste lees na die tipiese skryfsel van ’n verliefde bakvis. Maar daar is een woord wat die gedig ’n donker ondertoon gee: “vuis” in plaas van “hand”. Die vaste uitdrukking is “die holte van jou hand”. Dat hierdie hand normaalweg meer kwaad doen as goed, blyk uit die tydsaanduiding “’n oomblik lank”. Daardie hand is in die meisie se lewe meestal ‘n gewelddadige vuis. Maar kortstondig toon dit toenadering en beskerming. Daarvoor is sy so dankbaar dat sy die oomblik rymend wil verewig: oopgehou, toegevou.

Die “vasgehou” in die titel rym ook op hierdie twee woorde, maar kry in die lig van die “vuis” ’n onrusbarende betekenis. Die meisie is vasgevang in haar situasie van slagoffer wees.

In die tweede gedig verraai die beeldspraak dat alles nie pluis is nie. Die titel is “Geluk”:

 

Helder klokgeluid

Glas wat stamp

Bars, breek, brokkel

En in duisend stukkies skiet

Die hele vloer vul

 

Die eerste reël – “helder klokgeluid” – klop met die titel van die gedig. Die geluk word gelykgestel aan twee glase wat vrolik geklink word. Maar dan volg die ramp. Die glas spat allitererend in “duisend stukkies” uiteen: bars, breek, brokkel. Soos in die eerste gedig is die geluk van korte duur, word dit deur geweld vernietig. In plaas van glase vol koeldrank of wyn is die vloer nou deur glasstukke “gevul”. Die effens onbeholpe maar eerlike verwoording skep ’n pynlike paradoks wat die leser nie ongeroer laat nie.

Die derde titellose gedig boei veral vanweë die verspringende ritme wat van ’n ongewone taalvaardigheid getuig:

 

Ek gryp die droom

dit glip, gly weg.

Ek’s wakker, skielik,

en die werklik-

heid waak oor my.

Maar ek só vaak

wil wegraak, slaap.

Diep, om weer, net

één keer,

te kan droom

 

Die kommas in die laaste drie reëls is grammaties gesproke nie nodig nie, maar dit verhewig die intensiteit van die hunkering om van die onaangename werklikheid te ontsnap. Die ontglippende droom word as ’t ware hygend en hortend agternagesit.

Die verskuilde rymwoorde “waak”, “vaak” en “wegraak” is deel van die gedig se tegniese sofistikasie. Die klem val dus nie op die rymklank nie, maar op die ritme wat die emosie dra. Die enigste eindryme – “skielik” / “werklik-“ – word bewerkstellig deur ’n morfologiese enjambement. Die woord “werklikheid” word afgekap ter wille van die beklemtoning: Skielik is alles werklik. Dié afkapping help ook dat die hoofsaaklik vierlettergrepige versreëllengtes gehandhaaf word. Dit is ’n knap gedig wat verstegnies én emosioneel oortuig.

’n Slagoffer kan maklik verval in selfbejammering. Hierdie jong digter se gebruik van rym, ritme, beeldspraak en die paradoks bewys dat sy kan afstand neem van haarself. ’n Jongmens wat oor soveel woordbeheer beskik om persoonlike ervarings te besweer, het sekerlik ’n voorsprong in die lewe met al sy uitdagings.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Daniel Hugo. Donald Riekert (1947-2011)
Joan Hambidge. Lina Spies vervolg: Daniel Hugo en Meyer van Rensburg →

1e kommentaar op “Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag”

  1. Bernard Odendaal says:
    13 July 2026 at 19:52

    Die onderbenoeming – konkreter: die min woorde – roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg
  • Johann Lodewyk Marais. Saterdagaand

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d