Boodskap aan die see
Gaan na Hermanus, sê vir die see ek treur oor haar.
Trane syfer deur na die dieptes van die suider-oseaan,
waar dit in die sagte weefsel van ’n weekdier, om een korreltjie sand heen,
swart pêrels in haar bodemlose skoot vergaar.
Sê vir die see ek moes my oë aan ’n bergarend offer,
die beeld van skalie en kwartsiet was ondraaglik,
ek wil my met donker seewier beklee.
Vannag wil ek in alle eenvoud terugkeer na haar deinings, na haar stilte.
Ek wil my sig in haar getye herwin.
Kom, ontmoet my langs die kuspad, ons moet die orde van die heelal herstel.
© C Fritze, 2026

Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.
Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die see, daar waar ek gebore is en grootgeword het.
Dankie Celesté.
Uitstekend. Mooi.