Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Eunice Basson

Eunice Basson is in Pretoria gebore, daar skool gegaan en aan UP en Unisa studeer. Vroeg in haar professionele loopbaan het haar belangstelling in Kunsgeskiedenis, as uitvloeisel van haar nagraadse studies, in ’n navorsingsrigting ontwikkel en is sy in 1980 by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se Sentrum vir Kunshistoriese Navorsing aangestel. Daarna volg ’n aanstelling as dosent in Kunsteorie in die Departement Beeldende Kunste aan UP en in 1987 in die Departement Kunsgeskiedenis, Visuele Kunste en Musiekwetenskap aan Unisa waar sy die graad D.Litt et Phil in 2005 behaal. Sy het verskeie artikels oor die Suid-Afrikaanse Kunsgeskiedenis in vaktydskrifte gepubliseer en was mederedakteur van die kunshistoriese vaktydskrif, de arte wat deur Unisa gepubliseer word.

Van haar gedigte is reeds in 1996 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer.

In 2011 het sy die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP onder leiding van Henning Pieterse voltooi en tydens hierdie studietydperk het LAPA-Uitgewers in 2009 ’n beurs vir Kreatiewe Skryfkuns aan haar toegeken.

Sy debuteer in 2014 met die bundel Leiboom wat in 2015 gekortlys is vir die Ingrid Jonker-prys. In 2018 is haar gedig getiteld Almanak een van die drie wenners in Litnet se Tyd-skryfkompetisie.

Van haar gedigte is in die AVBOB-bundels opgeneem en in 2020 is haar werk ook opgeneem in die versamelbundel Vers & Vrou. In dieselfde jaar verskyn haar tweede bundel, By die dag, by Protea Boekhuis en in die Covid-jaar van 2021 is haar werk in die bundel Maskers en Mure opgeneem.


 

By die see

Vir Alan Kurdi (2012–2015)

 

Langs ’n vreemde kus skitter rotspoele

waar kinders later in die dag

tussen klipkouse en wier sal dobber en joel,

seedruiwe heen en weer sal slinger en ’n klein inkvis

sal koes vir die aasjagter se vangstok.

Wagtend op die eerste golwing hooggety

lê ’n kind soos ’n speelding

in nuwe klere en skoeisel uitgevat

tussen drifsel en branderskuim

met die somerson vir oulaas polsend

in sy klein, ontvanklike hande

voor ’n soldaat op kuspatrollie

hom van die sand af skep,

en vir ’n oomblik, asof sy eie,

teen sy warm bors vasdruk.

 

Uit: By die dag, 2020, Protea Boekhuis

 


 

Niks meer nie

 

Kom bly by my, al trek my oë deesdae water.

Hou my sonbevlekte hande vas –

net dit, niks meer nie.

Kom bly by my al sit ons net en peusel

aan dit wat was. Niks meer nie.

Al is my kraag deesdae hoog geknoop,

jou hande onbeholpe en skaam,

sit hier by my, net hier,

en lees ’n geliefde reël of twee.

Net dit, niks meer nie.

Wanneer ek soos ’n blaar lig word

en oor die tuin wegwaai, pluk soos altyd

dan ’n pot vol krismisrose, pienk en blou,

vir die voorportaal, oranjegeel

kappertjies vir geur.

Vir dit wat was. Niks meer nie.

 

Uit: By die dag, 2020, Protea Boekhuis

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d