![]() Eunice Basson is in Pretoria gebore en het aan UP en Unisa studeer. Haar professionele loopbaan het aanvanklik in die Departement Buitelandse Sake (nou Departement Internasionale Betrekkinge en Samewerking) begin maar het gou in ’n navorsingsrigting geneig toe sy by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se Sentrum vir Kunshistoriese Navorsing aangesluit het. In 1983 is sy aangestel as dosent in Kunsteorie aan UP en in 1987 in die Departement Kunsgeskiedenis, Visuele Kunste en Musiekwetenskap aan Unisa waar sy die graad D.Litt et Phil behaal het. Sy het verskeie artikels oor die Suid-Afrikaanse Kunsgeskiedenis in vaktydskrifte gepubliseer en was mederedakteur van die kunshistoriese vaktydskrif, de arte wat deur Unisa gepubliseer word. Van haar gedigte is reeds in 1996 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. In 2011 het sy die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP onder leiding van Henning Pieterse voltooi en tydens hierdie studietydperk het LAPA-Uitgewers in 2009 ’n beurs vir Kreatiewe Skryfkuns aan haar toegeken. Sy debuteer in 2014 met die bundel Leiboom wat in 2015 gekortlys is vir die Ingrid Jonker-prys. In 2018 is haar gedig getiteld Almanak een van die drie wenners in Litnet se Tyd-skryfkompetisie. Van haar gedigte is in die AVBOB-bundels opgeneem en in 2020 is haar werk ook opgeneem in die versamelbundel Vers & Vrou. In dieselfde jaar verskyn haar tweede bundel, By die dag, by Protea Boekhuis en in die Covid-jaar van 2021 is haar werk in die bundel Maskers en Mure opgeneem. Sy woon in Pretoria. |
Vroegoggend op straat
Vroegoggend se koerantplakkate
gaan aan haar verby;
sy dink aan die kooksel boontjies,
reg vir die aand se pluk;
Lucas wat die mandjie vashou,
die dom hand roerloos in sy skoot,
met bril en selfoon om die nek;
Lucas wat in die groentetuin
steekvlieë en kewers afmaak
tussen voorvinger en duim;
sy dink hoe sy vandag sal stryk en stofsuig
om brood te win vir haar en Lucas,
in ’n rolstoel ná taxi-geweld;
getroos dat die versekering betaal vir paadjies
om hul huis, dat hy onder die bruinvy
en lukwartboom kan sit.
Wanneer hy vanaand haar hande
in sy slim hand toemaak,
vir haar en vir die wêreld bid,
is sy dankbaar vir die lewe
met ’n man en ’n kat –
vir die vrede.
Uit: Leiboom, 2014, Queillerie