![]() Annette Snyckers is in Bloemfontein gebore en het vanaf haar elfde jaar in Pretoria grootgeword waar sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool matrikuleer en kunsklasse neem by die bekende kunstenaar Walter Battiss. Sy behaal haar BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met hoofvakke Frans en Engels. Later studeer sy deur Unisa se Departement van Visuele Kuns en bring drie maande deur by die Cité Internationale des Arts in Parys, Frankryk. Sy gee taalonderrig by verskeie hoërskole en doen steeds vertaalwerk. Sy woon sedert 1997 in Kaapstad.
Haar liefde vir tale en vir die visuele kuns is diep verbonde aan mekaar en derhalwe verdeel sy haar tyd tussen skilder en die skryf van gedigte in beide Engels en Afrikaans. Vanaf 2010 begin sy op aandrang van Finuala Dowling, die Engelse digter, gedigte in literêre tydskrifte publiseer. Haar gedigte is in verskeie versamelings opgeneem. Haar debuutbundel Remnants Restante Reste (Modjaji Books 2018) bevat gedigte in drie tale – Afrikaans, Engels en Duits.
Haar inspirasie vir beide haar kuns en haar skryfwerk kom hoofsaaklik uit die natuur en haar visuele belewenisse en herinneringe.
|
Vloed
Ek sit alleen
bokant die blinkbruin rivier
in die mik van ’n wilger
tussen lentegroen takke –
sestien –
my hele wese oopgesluit
vir die lome hitte,
sonbesiestilte,
sonspatsels
op die water.
Dit voel of vingers aan my raak,
vingers op klavierklawers,
eers sag, dan dringend –
Beethoven se Für Elise
spoel
uit my pa se klein transistor-radio,
oorstroom
die hele dorre plaas.
*
Ver van die rumoer
Laat middae
as die son laag buk,
wanneer koedoes fyntrap uit die rante,
stadig oor die grasveld aankom water toe,
tarentale begin vroetel
vir slaapplek in die oewerbome,
sit ons stil en wag
vir die dag om te gaan lê,
luister ons hoe paddas hul minnesange
met aand se aankoms aanstem,
hoe krieke die stilte sekuur in repies saag.
Ons kyk hoe sterre aanknip,
hoe vuurvlieë bo die gladde waterspieël
hulle seine tweevoudig kaats.
Laataand dryf die maan in die rivier.
*
Rusplek
Soos uitgeknipte karton, ry op ry,
skuif die berge by die motorvenster verby,
pers-blou, grysblou,
tot die bleekste blou van lug –
ons reis deur ʼn land beroof van reën
waar populiere op plase
goud en amber fladder
en palmbome leun in die wind
lankmoedig wuif hulle swart skadu’s
oor eensame wit huise.
Die stofpad seil soos ʼn slang
deur laagtes en oor riwwe van die voetheuwels –
vêr voor trek ʼn motor ʼn sleepsel stof
deur die namiddaghitte.
Vier ure vanaf die stad
laat my gemoed die rommel agter
om tevrede te neurie
in die bepeinsing van niks besonders nie
en hoe ek vannag sal slaap op ʼn plek
waar sterre silwer lig spat
oor ʼn swart fluweelnag
en waar die kerkklok
elke kwartier slaan –
elke kwartier van my lewe
wat oorbly.
© Annette Snyckers / 2020