Resensie van ‘n huweliksverblyf
Ons verblyf in hierdie eenheid
is nou eenmaal nie na wense nie.
Om mee te begin: Kommunikasie
is soos om ‘n kurk te trek. WhatsApps is eensillabig,
sonder liefdesbetuiging. Misverstande prolifereer
soos muf. Argumente loop soos ‘n stokou
wasmasjien – niks kom skoon uit nie.
Tweedens bied hierdie eenheid nie alles
wat ‘n mens nodig het nie. Blomme,
byvoorbeeld. Meer moeite om mens spesiaal
te laat voel. Meer sekuriteit. Meer versekering.
Meer ruimte. Volslae vrede.
En dan is daar die saak van die bed …
Derdens: Daar is soveel wat gebroke is.
Wat nie werk nie. Wat ‘n mens nie kan
aan- of afsit nie. Wat jóú afsit.
Die lig flikker soms maar dof.
Die eenheid is vol krake.
Ek sal vir seker terugkeer.
© Marieta McGrath, 2026
