Waar die stilte wit is
daar waar die stilte wit is
is als nie sonder donker nie
wit is soos die sneeu
dis koud en somberstyf
die winter in jou some
kleef soos kaal hier aan jou lyf
daar waar die stilte wit is
is niks in bont getooi nie
wit is ‘n bloedverlate skets
sonder enig’ rooi raffyn
selfs waar die son se strale skerp
deur hordes prismalense skyn
daar waar die stilte wit is
het die sirkels nie kwadrante nie
soos die spierwit van ‘n leë bord
voor ‘n honger oog se smag
net die gladde porselein se skyn
wat op ‘n brood se krummels wag
daar waar die stilte wit is
is eenvoud nie genoeg nie
soos die kwas daar op die doek
sy druk en meng op die palet
wat onbesmet in bitter blank
die skilder sy talent belet
daar waar die stilte wit is
sal lees nie kan bestaan nie
waar elke hoofstuk van ‘n boek
soos die eerste leeg sou wees
en jy net die alfabet se grafsteen
in die laaste een sou lees
gee my liewer kleure
wat dartel in die son
soos die wat uit die reënboog
se leefbelofte kom
gee my liewer lewe
wat asemhaal en beef
as die doodswit van ‘n laken
wat aan my stilte kleef
© Andries Fourie, 2026
