Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore. Sy grootwordjare bring hy deur op die kleinboerderybedrywige, lowerryke hoewe Harmonie, geleë in die Waterbrongebied buite sy geboortestad, Bloemfontein. Hy woon die Hoërskool President Steyn daar naby sy ouerhuis by. Sy naskoolse opleiding ontvang hy aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies), met Afrikaans en Nederlands en Duits as graadhoofvakke. Onmiddellik daarop pak hy die honneursgraadstudie in Afrikaans en Nederlands aan, en verwerf ook ’n Hoër Onderwysdiploma. Twee militêrediensplig-jare, “grensdiens” en al, volg. In 1981 begin hy dan Duits en Afrikaans gee as onderwyser; eers by sy alma mater, daarna aan die Greykollege Hoërskool in Bloemfontein. Onder studieleiding van wyle prof. J.H. Senekal van Kovsies verwerf hy, in 1984, ’n M.A.-graad met ’n verhandeling getiteld “’n Analise en vergelyking van bestaande konkretisasies van (N.P. van Wyk Louw se debuutbundel) Alleenspraak”. Nadat hy agtien maande lank ’n letterkundedosent aan die Durbanse Onderwyskollege was, word hy aangestel in dieselfde hoedanigheid in die departement Afrikaans en Nederlands aan Kovsies. Daar verwerf hy in 1998 die Ph.D.-graad, met prof. H.P. van Coller as studieleier en “Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete” as proefskrifonderwerp. Ná 22 jaar by Kovsies verhuis hy, in 2012, om ’n hoogleraar in Skryfkuns en die direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te word. Sy dosentloopbaan kom by sy aftrede in Desember 2021 tot ’n einde. Tans woon hy in Somerset-Wes, maar bly verbonde aan die Noordwes-Universiteit as ’n buitengewone professor (navorsingsgenoot). As vakkundige het hy meer as vyftig referate by nasionale en internasionale kongresse gelewer, is hy die skrywer van meer as tweehonderd-en-vyftig resensies oor letterkundewerke en die outeur of mede-outeur van meer as vyftig eweknie-geëvalueerde vaktydskrifartikels en akademiese boekbydraes. Onder laasgenoemde tel die oorsig oor ontwikkelinge in die Afrikaanse digkuns tussen 1960 en 2012 wat hy op uitnodiging geskryf het vir die jongste uitgawe van Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, wat onder die redakteurskap staan van H.P. van Coller. Bernard is sedert 2012 die houer van ’n C2-kategoriegradering van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en was in 2015 vereer as een van ses wenners van die ATKV-SA Akademieprys vir gepubliseerde vakartikels in geakkrediteerde tydskrifte. Sy debuutdigbundel, Onbedoelde land, het in 2007 by Tafelberg-uitgewers verskyn. Dit was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Gedigte daaruit is opgeneem in bloemlesings soos Groot verseboek, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte en Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. As liedteksskrywer en -vertaler het hy meegewerk aan die CD’s Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans, Laat my by jou bly – Jacques Brel (Herman van den Berg), Dit is wat dit is (Herman van den Berg), Onthou (Herman van den Berg) en Dawid – die musical. In Maart 2020 verskyn ’n boekuitgawe (by Naledi) van Kruis van Liefde. ’n Paasspel, wat hy in mede-outeurskap met Hans du Plessis geskep het. Dit bevat liedtekste, wat intussen reeds deur Franco Prinsloo en Lizanne Barnard in, onderskeidelik, oratorium- en luisterliedformaat getoonset is. Tussen 2012 en 2015 het hy gereeld rubriekbydraes vir die Bloemfonteinse stadskoerant Bloemnuus en die sentralestreek-dagblad Volksblad geskryf. ’n Keur hieruit, asook uit essaybydraes wat vroeër op Versindaba verskyn het, is gebundel in Woorde hul storie sien ken. Dit het 2016 by Naledi die lig gesien. Sy dekades lange gemoeidheid met die aanbieding van klasse en slypskole in kreatiewe skryfwerk, asook met die skepping en vertaling van liedtekste en met die inisiëring en skepping van uitstallings waar beeldende- en skryfkunswerke in “gesprek” met mekaar tree, vind neerslag in gedigte wat sedert sy debuutbundel op verskeie podia verskyn het. In 2021 is ’n geredigeerde keuse hieruit gebundel as Nootvat. Kwashaal. Stapel. en uitgegee deur Tafelberg. In 2023 verskyn Piaf&Brel. Luisterryk! by die uitgewery Imprimatvr, ’n versameling Franse chansons deur Èdith Piaf en Jacques Brel, wat Bernard in samewerking met Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal het. Sowat twee dosyn daarvan is voorheen ingesluit op die bovermelde Brel-CD’s, met Herman van den Berg as uitvoerende kunstenaar.
|
Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog
Sms-haikoes gebaseer op net 14 Volksblad-berigte oor uiterste geweldpleging
A. DINGE
JUWELE TUSSEN ALLANRIDGE & BOTHAVILLE 31/05/2008
stormwatrpyp-
vonds: jweelstuke & vr-
minkte jnkvroulyk
PUTTOILET BY SPITSKOP, BFTN 13/01/2009
‘lyk’ na j gvind
duikrs in ’n puttoilet
brokkis been ’n kind
GEREEDSKAP IN VIERFONTEIN-DISTRIK 30/03/2009
boer mt ystr dood-
gslaan, 2e mt ’n graaf
& toe vee hy stoep
MIELIES BUITE ODENDAALSRUS 02/04/2009
man soos 3talig
bord by grnsdraad dryg, doodg-
moer oor milis steel
KIERIE VAN THABONG, WELKOM 12/05/2009
ouma slat klynkind
toe sy hoenrboud uit pot
gaps mt kiri pap
DOEKSPELD TE DAGBREEKBUURT, WELKOM 21/05/2009
tas mt doekspeld toe-
gsteek by moskee gelos
peutrlyk ‘sielsbom’
B. ADRESSE
3 SERVICES-SPORTKLUB, BFTN 15/12/2008
rowrs vlug mt nix
toe ‘goedhartige’ ná skoot
net oorvloedig bloei
NUWE HUIS IN HALDONWEG, BFTN 08/01/2009
man v str gehuur
as 1 v p-jobwerkies
oumies doodgwrg
CONSTANTIA-MOTORS, WELKOM 24/01/2009
motorhweman
na minstns 10e rooftog:
‘net di angs stan vas’
COMMISSIONERSTRAAT, BETHLEHEM 28/04/2009
‘man met nix’ wat ‘rie-
me dunnr moes leer sny’ keel-
af gsny gkry
H/V MARKGRAAFSTR & NELSON MANDELARLN, BFTN 22/05/2009
‘my ma’t gasêkel
gaslat tot ek hêt galoop
nou sêkel mindr’
ABC-BEGRAAFPLAAS, PAMPIERSTAD, KIMBERLEY 28/03/2009
Ngugu Wapad
op ha krtpad ver-flentr-
krag, vi dood lat lê
SYFERS
VOLKSBLAD 18/03/2009
75
10ertjies p/m vrkrag
in ons GOUDVELD-streek
“SA DIÉ MOORD-HOOFSTAD”, VOLKSBLAD 07/05/2009
v apart-haat-staat
na reënboognasi-land na
misdaad-coup-d’état
© Bernard Odendaal. Julie 2009
*
Chicago*
Varkslagter vir die Wêreld,
Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan,
Werskaffer met Spoorweë en die Nasie se Vragkarweier;
Onstuimig, skor, rumoerig,
Stad met die Bielieskouers:
Jy is boos, sê hulle my, en ek glo dit, omdat ek jou opgeterte hoertjies gesien het,
verloklik onder die gaslampe vir die boertjies uit die omtrek.
En jy is slinks, sê hulle my, en ek antwoord: Ja, dis waar, ek het die
booswigte sien moor en loskom om maar weer te moor.
En jy is wreed, sê hulle my, en dan moet ek sê: Op die gelate van vroue en
kinders het ek die trekke van roekelose honger gesien.
En na ek geantwoord het, kyk ek die wat smaal oor hierdie stad van my, weer aan, en ek
smyt hul smaad terúg en sê:
Kom wys my nóg ’n stad wat kop-omhoog so sing, wat trots so lééf –
ru en fors en vernuftig.
Magnetiese vloeke slinger uit sy swoegery, uit sy werk gestapel op werk – kyk so ’n
skouer-aan-die-wiel-slaner, groot en helder afgeëts teen die klein sagte stede,
Gretig soos ’n hond, hygtong na aksie, slu soos ’n woesteling wat worstel teen
die wildernis,
Kaalkop!
Wat grawe,
Aftakel,
Planne maak,
Bou en breek en herbou,
Onder rookwolke, die stof oor sy smoel geveeg; wat met wit tande lag,
Wat onder die verskriklike juk van die lot lag soos ’n jong man lag,
Onverskillig lag soos ’n bakleier wat nog nooit op sy baadjie gekry het nie,
Wat grootpraat en lag omdat daar op sy pols ’n hartslag klop, en tussen sy ribbes
die polsing van die volk –
Ja, wat lag!
Wat die onstuimige, skor, stoeierige lag van die Jeug lag, halfkaal, swetend,
trots om Varkslagter, Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan, Werskaffer met Spoorweë en Vragkarweier vir die Nasie te wees.
- ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Nandi Venter van Carl Sandburg se gelyknamige gedig.
*
Die wanhopiges*
Hul strompel aan en aan, versuftheid aan die hand
in reën se grys ou jas, deur stad en dorp en land
hul voetval fluister iets, of sug net in die loop
maar hulleself is stil, die vriende sonder hoop
Hul ken die vaart van val, hul vlerke het verskroei
hul skepe het gestrand, hul weet hoe storms loei
hul keer van liefde terug met hulle oë oop
en daarom is hul stil, die vriende sonder hoop
En ek was ook al in verlatenheid se laan
het meer as honderd maal al driekwartpad gegaan
maar hulle hou net aan van alles af wegloop
en enduit is hul stil, die vriende sonder hoop
En onderdeur ’n brug vloei water diep en stil
’n stiller van die pyn, ’n doofpot vir ’n gil
daar’s afgronde wat wag, of toue in ’n knoop
of pille vir die vaak vir vriende sonder hoop
Laat dié wat beter weet die oordeelswoorde sê
wie beter weet ken dalk van liefhê net die hê
want rondom daardie brug trek daar ’n misbank oop
is weggevaag die val van vriende sonder hoop
- ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Naòmi Morgan van
Jacques Brel se chanson “Les désespérés”. Dis word benut in die
kabaretproduksie “Jacques Brel – die tere oorlog van die liefde”,
met Herman van den Berg in die rol van Brel.
*
Rustfonteindam
kyk hoe lê hy in die oggendson plaveiselstil en -uitgestrek
hoe bot en vaal lê hy ’n sandsteenmeer in die ewe vale veld
kyk die hengelaars twee drie van hulle aan sy verre some bakentjies
geduld en bleshoenders rimpelinge aan die sleep
netnou kom ’n bries kom bolmakiesie slaan in die slap seile
twee drie skuite wat losraak uit die piere wind-in en -af
begin laveer die koerse peil soos altyd weer elke dag
se najaag jillende motorbote later skiërs agterna lopers
op die water wat altyd weer moet sink in
skuiminge golwe buitelend oppervlak-
baljaardery op ongeraakte dieptes op
hom vlekkie
vaal
onder oseáne hemelblou met wolkeilandjies wat wyk
laatmiddag lê die wind lê bote uitgesleep die deinings kabbelings
geword aandwolk ’n gloedargipél ’n lawaryk gestapel en ver-
stroom goudliggietery geriffelkaats op hom tot
hy loodgrys word leiklipstil
en -swart
net die vuurtjies van die hengelaars
kyk een of twee van hulle
kon hul iets vang om dalk te braai?
skimme aan sy some
© Bernard Odendaal. 2010
*
Harmonie, distrik Bloemfontein
Die herkontoerde pad
trek ’n snelstreep deur die ou kontrei.
Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer
by hoewes onder denne en karee
(windpompe briek-briek teen ’n nukkerige wind);
BAIE
STADIG
DEAD
SLOW
aangedoen by skool, kerk, kerkhof;
’n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte
en ’n laaste myl op die bordjie afgepyl:
HARMONIE
HOENDERBOERDERY.
Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …
Pa was ’n man van dade:
Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.
Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf
(helaas droomverlore)
seuns.
Langsaan was die mooi plaas Elim,
kompleet met blonde meisiemens.
En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …
adresse op die einders,
onder die woesteny van sterre en stiltes –
plasies op die rand van die niet.
Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,
Harmonie tot drie maal toe verkoop,
die Sotho’s vort na plakkerstatte.
En ek en my broers
op soek na so ’n droomadres
tussen al die êrense, en nêrens.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007