Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy ‘n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan talle groepsuitstallings (onder andere Sasol Nuwe Handtekeninge) en hou ses solokunsuitstallings. Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ‘n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by ‘n Media24 tydskrif en finalis vir ‘n AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en ‘n twintigtal van haar kortverhale en gedigte is vir skole voorgeskryf.
Ná ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ‘n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou. Saam die tjellis, die Ha!man (Francois le Roux) bring sy ‘n versmusiek-CD uit waarop sy 15 van haar gedigte voorlees.
Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg. Dis by Lanzerac in Stellenbosch en by ‘n kunsgalery in Pretoria bekendgestel in samehang met haar inksketse van karakters uit die boek. Die roman is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens (Uitgeverij Athenaeum, 2013). Wildvreemd was die voorgeskrewe roman vir Graad 12 Afrikaanse privaatskole (IEB) vir 2014 tot 2016. Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun, Aden van Niekerk, se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ‘n kinderboek deur ‘n kleuter. In 2015 is Carina en regisseur Matthys Boshoff se konsep vir ‘n kinderfliek gekeur om gementor te word deur Disney-Pixar en Triggerfish Animations.
Van 2017 tot 2024 publiseer Carina ‘n vierluik of tetralogie, Die Bergengel-boekreeks, by Protea Boekhuis. Die Bergengel (2017) word bekendgestel met solokunsuitstallings by Tina Skukan galery in Pretoria en die Breytenbachsentrum in Wellington. Dis gekies vir Exclusive Books se Homebru-lys en is die voorgeskrewe boek by die Johannesburgse privaaatskool, Helpmekaar College. Die opvolgboek, Die Wonderwese (2019) word met ‘n aand van vuurtoertjies by Kleinkaap boektiekhotel in Pretoria en ‘n solokunsuitstalling by Knysna Fine Arts Gallery bekendgestel. Die FAK het lesers genooi om vir hulle gunsteling 100 Afrikaanse boeke van alle tye te stem, en Die Wonderwese was derde op die lys. Beide Die Waterplek: Afrika, (2022) en Die Waterplek: Gabriëllië (2024) is feestelik gevier by De Kat-studio in Johannesburg en by Kleinkaap boektiekhotel met harpmusiek, stelstappers en vuurspelers. Die Waterplek: Gabriëllië word ook by die Welgemeend herehuis met ‘n toonsetting deur pianis Liza Joubert gevier en ‘n uitstalling by Knysna Fine Arts waar Carina haar boekkarakters visueel uitbeeld. Die Bergengel-boekreeks word vanaf 2018 tot 2025 in geheel op Radio Sonder Grense voorgelees deur die stemkunstenaar Pieter van Zyl.
Carina woon sedert 2008 saam met haar man en twee seuns in die Tsitsikamma.
Besoek gerus haar webwerf: www.carinastander.com
‘n Kind het uit my uit gegaan
1.
jou brein op die sonarfoto:
‘n oopvlerkvlinder
in ‘n woud van water
2.
nuwejaarsdag op die plaas
toe ons vir jou oupa en ouma,
jou ooms tannies en niggies
in die middagrivier vertel
jy skopswem in ‘n skulp
onder die kamers van my hart
het ‘n blote woord vlees geword
en tussen ons kom woon
3.
dertien weke genaelstring
word my lyf oornag ‘n graf
ineengekrimp
soos ‘n spinnekop onder ‘n stewel
(jou pa op sy knieë bid lewe bid lig)
toe jy dae later kom
is ons vreemd-verbaas
oor hoe heel, hoe handgroot ‘n poppie
klein akkedissie, pensie na bo
met tien kleeftone en vingers
ribbes kaak volkome skulpie-oor
paddatjie in ‘n poel van bloed
4.
in die hospitaalbed langs die see
tussen drukmeter en drup
soek ‘n verpleegster na ‘n aar
soek ‘n vrou wat soos ek lyk na ‘n enkele traan
maar dis die bloedigste dag in die Baai –
daar is geen druppel vog in die lug
5.
skemer terug by die huis
in die hangmat op die stoep
vlieg ooglede oop en toe
geluidloos
die bloedvlerk van ‘n loerie
bo die leë waterbak
6.
vanaand teken jou boetie met blou kryte
in die bad waar jy vanmore was
wat is dit tog, wat kan dit wees?
nie die snelskrif van ‘n slang in ‘n stroompie nie
nog minder die hoofweë van slakke teen ‘n stam
dit is ‘n waterval
wat stol
7.
kind wat ek nooit sal ken nie
my eie my ek
hoe swaar is verlies?
die gewig van ‘n dogtertjie in die palm van my hand
8.
Asof jy hier is
vou ek jou toe in die bakhand van my bloederige gebede
en jy bestaan weer.
Soos rou.
9.
om in ‘n blinde spieël te bid –
die beeld van ‘n boom op ‘n windverwoeste meer
om God uit ‘n donker wond te aanbid –
sien nie voel nie hoor Hom nie
maar glo oor ek Hom weet
weet Hom soos ‘n son in die nag
‘n berg onder die voet wanneer dit mistig is
en ons jou in Maart tussen fynbos begrawe
asgrys soos ‘n saad
wanneer herfs kom met sy spinnedrade vol dou
mishorings oor die see en seevoëlskelette
kén ek die landskap van verskriklike liefhê
waar als ineens Één is: asem én bloed
ken Hom helderder as hemel
asof “glo” ‘n eenmaal aardse voorreg is
die liefdesverklaring van ‘n leeftyd
soos geboorte
soos komete
soos herinnering
glo totdat die laaste grond onder my voete uitloop
Vers nr 8 by die lees van Barend J. Toerien se “‘n Wit berk het in die bos gestaan.”
© Carina Stander. Mei 2010
KRUISBEEN KUIER
vir Anna-Carien
Kruisbeen kuier ons met kunsoorpakke en al
op die Art Deco bank van jou suburban huis.
Druifpers kussing agter die rug en ‘n droë rosé
in die glas, lag jy moesie bo die mond en vertel
dat jy laasnag weer jou rooikopreus verlei het.
“My ouma Antjie was ook ‘n ou flirt,” seg jy.
Ek onthou hoe jy as student jou potlode lek
om die kleur te versterk – jou tekeninge vry.
Op agtien ry ons giggelend oor Mosambiek se grens –
bra’s wapper bont bo die wiel. Sou ons meisielywe tóé kon dink
hoe flink ‘n man sy vuursap skink? Hoe ovaal die moederskootvrug?
Hoe trots ‘n trossie eie seuns? Vandag vonkel en verf ons voort
hier waar ons met skildergoed kuier onder jou druifprieel.
Breek die brood, drink die wyn. Sien kinders rinkel en rank en prut
in die middaggloed. My kunsvriendin, sal ons ooit kan skep
iets só vlees van ons vlees, bloed van ons bloed?
(Gedig geskryf in opdrag van Mont du Toit-wynkelder en DEKAT – 2009.)
nagswem
Malangane, Mosambiek
op een en twintig
wou ons nag lank swem
na die hemel daarbo
die aarde hieronder
en einders van die see
op ‘n mensvry strand
was ons meerminne
met wiere in slierthare
‘n skare planete
uit die niet gepluk
en min of meer
sewe seesterre
in die uitspansel
se regterhand
rangskik
saam het ons gesnorkel
oor kartel-alg en purperslak
steekmossel se vlerk
daar was kapers op die kus
en gerugte van roofvis
as ‘n skip ter haaie gaan
maar ons bloublasieharte
het nakend gebons
sluiervlies wat spelend plons
oor die maagdwit glimlag
van ‘n maan
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.
sondoop
Malawi
jou hare en voete
was die kleur van naeltjies
in die flou lig van die son
wat glip deur die kombuis
was moeders soos kalbasse
rond aan’t klots en klets
op gebreide boerbokvel
iemand het die werf
met ‘n stokbesem gevee
en die rietmat oopgerol
‘n ouvrou met blaartjies
in hoë wange gekerf
het grondbone vir ons gegee
en kookeiers vir die langpad
haar oogwitte ‘n dooiergeel
die mense het gesê
jy is die klip by die spruit
waar donkies drink en roofvoëls bad –
bidsprinkaan tussen jou tone
geitjies wat op jou voorarm paar
die wagters het gevloek
toe jy die bok-ooi losknoop
sodat sy vry kon wei
maar ons het weggehol
verby ses seuntjies in ‘n kring
wat ‘n groen papaja deel
en ‘n man met asvaal knieë
het derms oor ‘n vuur gebraai
my woorde was te jonk
vir die suigeling wat rits
op sy ma se rug
– brommers tros om die oë –
en die twaalfjaarkind
met haar baba Chinsinsi
wie se skuins mond saggies skel
toe ons vra dat sy vertel
waarom die naam dan Geheim is
ons het handeviervoet
oor Nkhomaberg geklim
en afgekyk na mielielande
se verwaaide klossiesbaard
en swenkende paaie
en na die wolke en die wind
Katri, is God in dié wolk?
het jy skielik gevra
toe dit lyk of iemand hemel toe is
die laaste oggend langs die meer
het ons gehoor in die ooste
is ‘n Man vermoor
en op die horison
het die bloedspoor verraai
dat Hy eeue om die aarde loop
in die hoop dat die vissers in die skuite
of die visarende of skare
hulself soos jy
in die son sal doop
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
deur ‘n land bo die wolke
oor landskappe van droom
‘n pen soos ‘n staf in die hand
om bloots op ‘n esel oor ‘n golf te galop
warrel in die hare
Stormmeeu op die skouer
se vlerk gesprei teen die strale
om saam met ‘n hings deur seë te ry
voorkop rug voetbrug gesout
teen die brand van blindwit branders
om borsdiep in ‘n woord te toer
die walvis ‘n inkvlek op blou papier
wanneer die Windmaker se asem
die water stadig roer
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ‘n engelkop
vanaf ‘n eselrug aanskou
om die heelal en hemel só dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees
© Carina Stander – Maart 2009
wildernis
Bergfontein, Limpopo 1968
op twee en dertig gee ma liefde
soos ‘n storieboek
vir pa
sy slaap onder skerpioene
en ander sterrespansels
een-een in die nag
bekruip luiperds
met kolle soos rose
op flanke rangskik
die kraal
kraak kalwerskedels
wat pa tweehonderd myl van hier
wei-wei te perd gaan haal het
na ‘n knal sterf die skor hoes
op die berg –
ma erf twee welpies
uit die pens van ‘n roofdier
die huis is onklaar
and any tree a lavatory
maar saans by kerslig
in ‘n sterretjieskombuis
merk sy opstelle
in Afrikaans en Duits –
broei verse soos kuikens
in gehekelde komberse
met haar skoolgeld messel hulle
leiklipvloer tot houtplafon
‘n haard
steeds wyk die makheid
onder die slingerfoon sis
‘n swart mamba op eiers:
voorlyf orent, bek gesper
die kop lank en plat
soos ‘n doodskis
ma skryf briewe vir haar ma:
welpies, geitjies en die akkedis
rus smiddae op die voorstoep
al digter teen haar voete
sy vermoed dat ook sy
‘n paringsmaat gevind het
agt jaar later word ‘n kind gebore
uit die woorde van ‘n ma
en die wildheid van ‘n pa
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis