Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Carina van der Walt

Carina van der Walt

Carina van der Walt is op 28 April 1960 in Welkom gebore. Sy voltooi haar voorgraadse en nagraadse studies in Afrikaanse Letterkunde in twee periodes aan die NWU. Daartussen staan sy vyftien jaar voor die klas by Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp en begelei verskeie groepe matrikulante in Afrikaans (eerste taal) en ’n eerste groepie matrieks in Setswana (derde taal). Ná haar eerste man skielik oorlede is, was sy bykans ’n dekade lank enkelouer vir haar twee jong kinders. In hierdie periode pak sy haar nagraadse studie aan en gaan sy danksy finansiële ondersteuning van die NTU en die SAVN met ’n uitwisselingsprogram na die Universiteit van Tilburg. Sy voltooi haar MA cum laude onder prof. Heilna du Plooy.

In Tilburg ontmoet sy vlugtig ’n besondere man, en ná ’n vriendskap van vier jaar vestig sy haar in Tilburg. Sy begin vir LitNet skryf, blog vir Versindaba en dra wetenskaplike nuusbrokkies aan vir die nuusbrief van die SAAWK. Elk van hierdie verbintenisse duur ruim tien jaar. Tussendeur skryf sy vir die Nederlandse tydskrif BEELDEN oor ruimtelik georiënteerde kuns en kom in aanraking van Strijdom van der Merwe se landkuns.

In 2015 debuteer Van der Walt in Nederland met Amalgaam – ’n tweetalige digbundel saam met Willy Martin, verantwoordelik vir ANNA – by Uitgeverij IJzer. In 2020 volg Stilspraak – ’n monografie oor Strijdom van der Merwe se kwarteeu van landkuns – by African Sun Media. Sonder prof. Jacques van der Elst het hierdie projek nie gerealiseer nie. Stilspraak is gefinansier deur die SAWWK, die LW Hiemstra Trust en die FNSA. Hierdie kunsboek word as een van drie kandidate aangewys in die afdeling niefiksie vir die kykNET Rapport Boekprys 2021. In dieselfde jaar debuteer Van der Walt in Suid-Afrika met die digbundel Landluisteraar by Naledi. Landluisteraar bevat ekfrasis en is ‘n literêre voortsetting van Stilspraak.

Tans werk sy as poësieredakteur, kuns- en filmresensent vir die webwerf Brabant Cultureel / Brabant Literair. Meer oor haar kreatiewe werk kan gelees word by www.carinavanderwalt.com.


wandeling

vuur laat ’n maanlandskap agter
die aarde smeul sliertjies rook
in afgebreekte vlamme knal kooltjies
die biblioteek van Plantau is verwoes

hiér is niks meer om te brand nie

roetbesmeer strompel ’n man
met krom stompe in sy arms
kyk op na die berge – géén hulp nie
sy huis op rots staan in ligte laaie

niks meer is hier om te red nie

tekens van tyd verskrompel
verdwaas pak hy sy stompe
vir ’n paadjie úít die apokalips
knettergek van breed na smal

tot hy klein op die horison verdwyn

(Uit: Landluisteraar, Naledi, 2021)

ring van vuur

Papegaaiberg staan in vlam red vlinder-
vallei waar die vlerkies van koolwitjies
skroei kraanvoëlblomme se kele pers gil
stort
water uit drasakke van helikopters
soos naaldekokers wat sidder     huiwer
heen & weer skiet oor ’n see van vlamme

Simonsberg brand brandweermanne
slange sis vlamtonge lek aan ’n kransnes
– die arend sirkel bo haar klaargaar eier
lugspieëlings
’n wingerd brand af
ou geld vlieg deur die lug
soos aswit jammerlappies

Jonkershoek smeul
knetter knal flakker flikker
sirenes waterkarre & goiingsakke
lugverplasings
verbind geblakerde riete se kele met
rooi verband teen swart in die land
oral waar gesplete tongetjies lug lek

(Uit: Landluisteraar, Naledi, 2021)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember
  • Margaret Cordier. Tog
  • Stephan du Toit. Florence Nightingale

Nuutste bydraes

  • Miel Vanstreels. Na soveel jare
  • Hennie Nortjé. Raka in my tuin
  • Marieta McGrath. Resensie van ‘n huweliksverblyf
  • AVBOB Persverklaring
  • Margaret Cordier-Biermann. Hier

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Marius Crous. Vier gedigte26 October 2026

    Uitstekend.

  2. Versindaba on Marius Crous. Vier gedigte25 October 2026

    Jacobus, "Dr. Swathe" se onvanpaste kommentaar is verwyder.

  3. Etienne on Andries Fourie. Waar die stilte wit is24 October 2026

    Mooi

  4. Bernard Odendaal on Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)24 October 2026

    Robert Schall weet hoe om vertalend reg te laat geskied aan ‘n treffende Afrikaanse óf Duitse gedig.

  5. Jacobus Swart on Marius Crous. Vier gedigte24 October 2026

    Daar sal in 'n samelewing altyd diegene wees wat die Parthenon op die Akropolis in 'n favela wil verander. Dr.…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d