Hein Viljoen is op 23 Maart 1951 in Pretoria gebore. Hy spandeer sy kinderjare onder andere op Krugersdorp-Wes, Lindley in die Vrystaat en Potchefstroom waar hy in 1968 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom matrikuleer. Viljoen voltooi sy B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke, asook sy B.A. Honneurs-graad, aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy behaal sy M.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria en in 1985 behaal hy sy D.Litt.-graad aan die Potchefstroomse Universiteit waar hy ook later professor in Afrikaans en Nederlands is. Viljoen is bekend as skrywer op literêre én akademiese fronte. Hy is medeskrywer van Alkant olifant (1988), ’n inleiding tot die literatuurwetenskap, en ook twee bundels opstelle, nl. Storyscapes (2004) en Beyond the threshold (2007). In 1982 verskyn sy debuutbundel, Waterkristal, gevolg deur Holtrom en groot kabaal in 2007. Sy gedigte verskyn ook in Literator en op Versindaba. In 2013 verskyn ’n derde bundel opstelle , nl. Crossing borders, dissolving boundaries (2013). Viljoen se derde digbundel, Brisant, word in 2019 by Naledi uitgegee. Sy vierde digbundel, Vyf kleur blou, ʼn verkenning van die resonansies van blou, het in 2023 verskyn, ook by Naledi. |
Vloed
reën val al heeldag sif soms
fyntjies-fyntjies neer nouliks voelbaar
op die wang of stort andersins neer
soos nou watergeluide klots spoel
plas suis drup oral ʼn wêreld van reën
gorrel guts spoel klater maak mens
bang dat dit nooit gaan ophou nie
alles gaan oorspoel soos met Noag se vloed
en almal sal verdrink verskriklike
versmorende dood hoeveel angs voordat
jou long en maag vol water is en jy versmoor
hoe lank sal dit vat? vyf, tien minute?
reën nou sagter druppels plens water loop
klots plons spat borrel eers styg
die angs jou om die hart jy probeer desperaat
asem kry versluk spartel dom is dit
verby jy gee jou oor asem die water
in gee jou oor aan ʼn ander medium
verloor jou bewussyn sluk vir sluk
liggie vir liggie tot net ʼn donker watergraf
oorbly swart water swart bewussyn
geen lig dood of spook en spartel jy
tot op die laaste tot jou kragte
jou begewe spiere verslap wil uitdoof
jy roerlose materie word
dalk nog dryf in ʼn donker medium
waaruit jou longe geen suurstof kan haal nie
gesuis van die reën nou net ʼn fyn gefluister
hier en daar ʼn gedrup ons is gespaar
guts borrel klater drup plens spoel verdrink ek
in jou groot water see waterwêr-ek waterwerk
© Hein Viljoen / 2017