![]() Henriëtte van Wyk is ’n gebore en getoë Namibiër. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Mariental en studeer onderwys aan die Wellingtonse Onderwyserskollege in die Boland. Mense, musiek, Afrikaans en haikoes is haar passie. “En my man …!” In haar 33-jaarlange loopbaan van onderwyser het sy al enige vak onderrig (gr. 1 tot gr. 12) – net nie houtwerk nie! Daarvoor asook vir haar digkuns ontvang sy sedert 2007 verskeie ATKV-toekennings. Die kreatiwiteit van kinders voed haar siel. “Ek beskou dit as ’n voorreg om die skrywer, redenaar of akteur te help ontsluit.” Henriëtte is die stigter (2007) van ’n nasionale skole skryfkompetisie, WALTONS-GRIFFEL, en was tot 2011 aan spits van sake. Huidig is sy betrokke as beoordelaar in Digkuns Gr. 8 – 12. Henriëtte is sedert 2017 ook op die bestuur van die Windhoek Woordfees. Sy skryf sedert studentedae, aanvanklik bloot om waarnemings en emosies op papier vas te vang. In die 1990’s ontdek sy haikoes. “Haikoes is my nis. Dit is skaars vyf jaar gelede dat ek die skryf van gedigte ernstig begin opneem het. Verskeie ATKV Pluimpie- en Veertjie-toekennings asook ’n digkunsskryfkursus o.l.v. Carina Stander in 2019 het my uiteindelik motiveer om verder te werk as net ’n vlugtige neerpen van woorde.” Sy gee in 2016 ’n digbundel, Padhaikoes uit Namibië, uit. Van haar gedigte is in 2018 en 2019 in Stemme uit Namibië 1 & 2 opgeneem. In die 2019 Windhoek Woordfees Skryfkompetisie deel sy die tweede plek in Digkuns. Land onder woorde, saamgestel deur dr. Chrisna Buike-Muir, Senior Lektor (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit van Namibië en medestigter van Windhoek Woordfees (2013), is so pas uitgegee. Van Wyk se gedigte verskyn ook daarin. Van Wyk beskryf haarself as iemand wat lief is vir stilte: “Stilte gee my krag”. |
in die waan van nuttelose waarde
tuimel ‘n bruin blaar
na stilte onder broosdroog takkies
verby die aalwynblom en die vlinderkokon
tot waar die herfsmat oranje vlam
na stilte onder broosdroog takkies
soek die ontrukte en verwaaide
tot waar die herfsmat oranje vlam
en verdwaal in die wind se warrel
soek die ontrukte en verwaaide
want hul het die krag van behoort verloor
en verdwaal in die wind se warrel
in die waan van nuttelose waarde
want hul het die krag van behoort verloor
en sny die winterlug flenters
in die waan van nuttelose waarde
tuimel ‘n bruin blaar
*
ek maak die venster toe.
stilte tregter in –
ek skrik vir die harde klank
van my stadige aantrekvingers
*
noem my Ek is
daar is iets
in die mirre van ‘n vars houtvlam
die vingers van die aandbries
die kweel van ‘n pietergeelgat
die kringe van kindergelag
die opaal van palmdadels
die borrel van die tuinfontein
die klingel van fyn klokkies
en die jubel van my wandelstap
*
stappie om die blok
die halwe maan
gly luglangs
saam om die blok
lente lê
geel
in die voue van die paadjie
sipres se punt
haak ‘n weerhaan
teen die blou lug vas
verklaar die oggend heilig
©Henriëtte van Wyk

