
Jennifer Pape is gebore op Hennenman in die Vrystaat. Sy verwerf ’n BSc-honneurs in Geologie aan die UOVS en later ’n MSc in Geochemie by Wits.
Sy skryf sedert haar studentejare gedigte, maar begin eers ernstig dig nadat sy die Stomme Jonge-digklub in Stellenbosch gestig het. Sy publiseer ’n handvol gedigte in Ons Klyntji en behaal die tweede plek in die Afrikaanse afdeling van die 2022-Avbobpoësiekompetisie. In 2025 verskyn haar debuutbundel, waar daar eens ‘n see was, by Turksvy Publikasies.
Sy is die webontwerper vir New Contrast Literary Magazine, en versamel graag boeke en plastiekdinosourusse. Jenny bly in Fisherhaven saam met haar lewensmaat, Susan, en kunstenaardogter, Maya.

die loch ness-monster bestaan nie
nadat ’n onduidelike swart-en-wit-foto met die opskrif:
die loch ness-monster bestaan!
in die huisgenoot verskyn
kry ek ’n brandende begeerte om nessie te sien
maar volgens die skool-atlas is skotland ver en vreemd
ek beplan dus tussen aardrykskundeklas en koor
hoe ek eendag gaan kamp langs urquhart-kasteel
op ’n rots vir haar wag totdat sy haar lang nek bo die water uitsteek
en haar groot kalfsoë nuuskierig na my kyk
nie ’n monster nie
maar ’n anderste dier met ’n fluweelsagte pels
haar subsoniese gesang ’n ligte vibrasie in my bors
kreefduik in bettiesbaai
ek dryf deur die seewier
wat oerwouddonker saam
met die see swiep
water glip glad deur
my neus en vul
my longe
swaar en dig
dit vat vyf minute om
tot op die bodem
te daal waar krewe
behendig rondskarrel asof water
lig is soos daarbo waar voëls
vlieg en kinders sandkastele
bou my hande
het nog nie vinne
ontwikkel of spane
geword soos pikkewynvlerke nie my voete
skop lomp om weg
te vlug van bloublasies wat meters
brandende slierte deur die water
trek en in my hare
verstrengel
soos medusa
langs die see een oggend
die mis kruip langs die duine op
los blinkerjies water op die bitou en slangbos
twee seemeeue kras ’n duet vir die koue benguela-see
die koraalpienk seester se duisende suiertjies voel eers rots
dan skulp dan stukkie bottelgroen glas met die sweempie bloed
van my voetsool
sy huiwer
tas rond tot die rooi ink verdwyn
glip weg in ’n poel
oor ’n maand of ’n jaar sal die glasskerf verweer
tot sagte onskadelike kante
meer pastelgroen as smarag
onherkenbaar deel van die klippertjiestrand
langs die koue benguela-see
©Jennifer Pape / 2025
