![]() Johann van der Walt werk as ’n vryskut video redigeerder en skrywer in die televisiebedryf. Hy het twee internasionale kinderboeke geskryf, wat ook onlangs plaaslik by Minimal Press verskyn het, Bhubesi en Frankie Learns To Fly. Sy debuutdigbundel, Parlement van uile, verskyn in 2020 by Naledi asook sy eerste versameling van engelse verse, This Road Doesn’t Lead Home, uitgegee deur Red Mare Press in Noord-Amerika. Tans werk hy aan ’n versameling gruwelverhale vir ouer kinders. Hy skryf gedigte sedert kleintyd, meestal om die wêreld en verhoudinge rondom hom in perspektief te plaas. Baie van sy verse bevat die menslike psige as fondasie, en hy gebruik dikwels aspekte soos heimwee, die verlede, seks en liefde as maatstaf vir gedigte. Digkuns is volgens hom ’n vorm van skryf wat gegrond moet wees op iets persoonlik om sodoende die kuns tasbaar te maak, indien wel die geval sal die verse vanuit die skrywer se vlees self na vore kom. “Digters moet eerstens eerlik wees met hulleself, met genoegsame duidelikheid kan besin oor hoekom hulle gedigte skryf, voordat hulle gedigte vir ander oë wil skryf.” Hy is op Potchefstroom gebore, maar het in Ficksburg in die Oos-Vrystaat groot geword.
|
ode aan ontsterflike verse
ek weet, nes jy, hoe om my moedertong die knie te laat buig
‘n vreemde vel van inboorling tot woning te verklaar
en ‘n ander paradys ver van ossewakreun te betree
tóg bly verse jou verbintenis aan ons
afrikaans is nie bloot net ‘n taal wat ons wegsmyt nie dit weet jy goed
sy word opgeroep nie vanuit longe nie maar vanuit gees
selfs daar waar jy worstel met vergangklikheid sal afrikaans eerste
uit jou longe as verlangde spreekbeurt ontsnap
nes jy, weet ek ook hoe om skoensole langs die seine te slyp
eerstehands het ek ervaar hoe vensters geel happe uit parys-skemers byt
wat my wel stom laat is hoe jy, jare daarna, die apartheidskubbe
– frustrasies van tralies na palmsholtes oorgedra-
met brutale vers uit jou vel sonder wraak kon afskil?
sou julle ooit, na dít alles, híér op tuisbodem geluk kon uitkerf
of was dáárdie vroeë herfsaande in parys die ware koningkryk?
vyf-en-vyftig trappe daagliks geklouter tot nuutgevonde samesyn
(dit is juis oor daardie tyd wat ek hierdie woorde neerskryf)
sê my of jy soms nog wonder na waar jou eerste verse wei?
verby die nok, op teen die gebou, hemelwaarts
selfs verby drakoniese gesteentes wat van hoog op die stad neerkyk
alhoewel ‘n suksesvolle sprong oor die maan nooit op sy kerfstok sal beland
word sy blues- ‘n soektog na ‘n huis steeds versadig gelaat-
vra rustelose lesers op balkonne want hulle weet
tydens boekoopslaantyd kry ysterkoei opnuut ‘n kamp om in te sweet
*
lewe ná 30
as jy dertig slaan met ’n alleenlopende lyf
kry jou familie ’n gemoedsbekakking
hulle smee dan snaakse komplotte agter jou rug
die dertigs is mos vrugbare jare
en die familie soek kleinkinders om te bederf
liefs kinders binne die huwelik
wat sagter op die sosiale reputasie land
hulle vrees ’n skoot in die donker
en sal enige iets doen
om jou in ’n verhouding te kry
looks en persoonlikheid tel nie meer nie
dinge wat jy in ’n vrou soek val op dowe ore
hulle gaan hard te werk om mense in jou rigting te paai
jy kan sommer al klaar tussen jou lieste
die kinders voel brand
*
die toeval van menswees
as my lewe sy vervaldatum eindelik oorskry
en die dood my tyd op ’n vel papier neerlê
as hy die dokument van my wese
wegbêre in sy vliesvlerkaktetas
my gyselaar hou in die niet
onthou vleesbaai
sy versteekte koraalstrand
die versteende werpsel skulpe
bloot ivoodobbertjies in die sand
die dood stotter
in die geselskap van bitter raasblaarblom
lig tog ’n koppie
sonder suiker
só sal jy my vir altyd onthou
© Johann van der Walt, 2020