Johannes Prins
![]() Johannes Prins Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ’n MA in Afrikaans en Nederlands. Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ’n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar. In 2001 debuteer hy as digter in Nuwe stemme 2. Hy dra ook by tot As die son kom oogknip, die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji. In 2009 word hy weer bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante. Prins se debuutbundel, een hart, verskyn in 2009 by Lapa. |
stellenbosch
waar
is al die grieke heen?
waar
is al die portugese mans
met sweterige
wit frokkies
wat pies verkoop
en met kinders
boer?
wat
het geword
van die mansuitrusters
waar ’n gentleman
sy hoed
kon laat rek
en koeëls
en brylcreem
koop?
trek
koshuiskinders
van paul roos
oorkant die rivier
nog draad
in die sagte
spreilig
van die
angel’s factory?
nou
kabbel leivore
verby deli’s
en cuisine
en styfgewasde
wit voorskote –
elke snotneuskind
is weggepak
vir toeriste
© Johannes Prins. Jan. 2010
transito
in die reën in september
lê lentebloeisels soos glasstukke op die teer
die transito van die somer het oornag gebeur,
vyftien rowers met ak’s het uit die niet verskyn
stil-stil die seisoen ingedrentel
en gesê die dag moet op sy maag gaan lê
toe doodluiters sy beursie gevra,
sy horlosie gevat
kaap toe sommer die week buite
en jaag daar weg sonder om ’n skoot te skiet
© Johannes Prins. November 2009
hart
ek het my pa geword
al hoe meer hare
in my ore
en my neus
al hoe minder
op
my kop
hier by veertig
sê my dokter
begin ’n mens
jou ouers se skete
aanneem
skeur dan ’n voorskrifstrokie
flink af en sê
jou bloeddruk
is veels te hoog:
150 oor 94!
en ja jou cholesterol
is amper 6 –
maar stadig met die rooivleis
mmm?
jy sê jou pa het ’n hart gehad?
ook bloeddruk?
en jou ma nou weer?
kanker?
kom ons probeer
dié pilletjie vir ’n maand –
’n ligte dosis –
en as dit met jou akkordeer
drink jy dit so
vir dertig jaar
met ’n aanpassing
hier
en
daar?
oor die kanker
kan ons later
praat
Uit: een hart, Lapa uitgewers, 2009 – Johannes Prins