Johannes van Eeden is op 5 Oktober 1967 in Humansdorp gebore en word groot op Stellenbosch. Hy gaan skool in Wynberg en matrikuleer later in Oudtshoorn. Sy pa was ’n dominee en hulle het daarom redelik baie rond getrek soos die beroepe hom gelei het. Van Eeden dig en skryf musiek reeds van skooltyd af. Hy studeer later musiek en tale aan die Universiteit van Stellenbosch met hooffokus op komposisie en wen ook verskeie eerste pryse vir sy werk. Hy verlaat Suid-Afrika voor die voltooiing van sy studies (’n Duitse meisie) en spandeer tyd in Europa. Diensplig daarna is salf vir die verlore liefde. Van Eeden begin later Obelisk, ‘n organisasie ter bevordering van nuwe musiek, en gee ook die Obelisk tydskrif uit. Gedurende dié tyd gee hy verskeie uitvoerings en opnames in die Staatsteater en by ander noordelike venues en werk ook vir ’n tyd as musiekresensent vir die Beeld. Hy werk onder andere ook by Exclusive Books en daarna by UNISA om die pot aan die kook te hou. Van Eeden begin ook ’n bemarkingsbesigheid wat na ’n aantal jare goeie sukses bereik. Hy tree af op die ouderdom van 26 en trek terug Stellenbosch toe om op kreatiewe werk en die internet en sagteware-ontwikkeling te fokus. In 2001 begin hy saam met sy broer Jaco die Humanstate Groep (o.a. die besighede GivenGain & PayProp). Hy verhuis in 2009 na Switserland en vestig die GivenGain Stigting in Villars-sur-Ollon en brei die PayProp besigheid uit na Engeland, Kanada & die VSA. Van Eeden is getroud met Saskia Wicomb en woon tans in Switzerland, Frankryk, & Malta. |
Sy spore wys terug maar die broue beur vorentoe gekrul, hy het opgestaan & die vallende gedagtes in herinnering gestapel terwyl die wind lakens deur die sloop van haar dye skeur & die gekleurde vissies & vlak woorde glibbend in die voue van haar benerige vingers poel, sout in die mond, die tart & vul van leemtes gelaat deur vorige geliefdes, die teenwoordige afwesiges, die smaak van ryp & wit skeidings, die af & opofferings, die vangs, hy het opgestaan met die eerste lig van haar wenkbrou bo die branders se volgehoue voort & die veraf strome ingetrek soos met ’n net, ’n miskien, ’n amper, byna, hy het opgestaan & reggemaak vir die belydenis van sy onvoorwaardelike angs.
—–
Die broos vel, die klein moesie onder die linkertepel, die nat spoor rankend teen die bobeen, die klimop, die vervlegde eensaamheid, die verte, die frons, die tong in diep plooie verval, die tone vorentoe gekrul, die stywer kuit, die rug se buig, die bewuste stadiger beweeg, die heupe se lig, die poging tot uitstel, die einde se inhaal, die koms, die stilstand van die son, die lyfloosheid, die bewuswording, die hakskeen wat ontspan, die uittrek, die omrol, die vrede, die skuld, die volgende, die beweging, die lig deur gordyne, die sy, die bene ontknoop, die toetrek & opstaan & bedekking & kosmaak & kinders, die koue nakoms, die plig.
© Johannes van Eeden / 2019