Willem S van der Merwe is gebore in Porterville op 21 Februarie 1961, die oudste van vier. Sy pa was ’n telefoontegnikus by die destydse Poskantoor en sy ma was al die jare huisvrou. Vir sy pa om bevordering te kry, moes hulle gereeld trek. As gevolg daarvan het hulle byna elke paar jaar in ’n nuwe dorp gebly. Die Van der Merwe gesin was omtrent drie jaar in Porterville, en het daarna verhuis na Brandvlei in die Boesmanland, waar Willem in Sub A (Graad 1) was. Toe kry sy pa bevordering Ceres toe. Hulle was daar met die groot aardbewing van 1969: “Ek onthou hoe ons in opslaanhuisies moes bly vir maande terwyl die bouers besig was om ons huis reg te maak”. In sy Standerd 2 jaar word sy pa bevorder na Knysna waar hulle geruime tyd woon. Willem het uiteindelik by Knysna Hoërskool gematrikuleer, en toe was dit diensplig vir twee jaar in Pretoria. In 1981 is hy na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy Afrikaans en Nederlands, Engels, Taalwetenskap en Drama studeer het. Hy het by die SABC begin werk as ’n klankingenieur, en baie betrokke geraak by radiodramas, stemwerk en musiek vir byna dertien jaar. Na sy bedanking by die SABC, het hy voltyds begin fokus op fotografie en videoproduksies. Later het Van der Merwe in Taiwan en Hong Kong gewoon, waar hy bemarkingsmateriaal vir sagtewaremaatskappye geskryf het in Engels. Tans doen hy weer meestal fotografie en videoproduksies. Van der Merwe skryf reeds vanaf die ouderdom 15. Sy destydse Engelse onderwyser het hulle altyd ’n keuse gegee om ’n opstel of ’n gedig te skryf. Willem vertel: “Toe dink ek: ’n gedig is mos kort, so dis minder werk! Later het ek besef dat ‘n goeie gedig baie harde werk kan wees. Ek dink ek het begin skryf want dit het my weggevoer na ‘n wêreld waar woorde baas is. En ek kon daai woorde kies vir die effek wat dit op die leser mag hê. ’n Bietjie van ’n ego trip, as jy my vra! Maar dit was ook ’n skeppingsdrang. Daai gevoel van iets nuut skep uit ’n beperkte aantal woorde.” Musiek was nog altyd ’n groot deel van Van der Merwe se lewe. Hy het in ’n huis grootgeword waar sy pa konsertina, trekklavier en orrel gespeel het en sy ma was baie lief vir sing. Sy pa het in die vyftigerjare ’n boeremusiekplaat opgeneem en gereeld lewendig by die destydse SAUK gespeel. In sy tienerjare het Willem weggebreek en na Heavy en Progressive Rock begin luister soos Deep Purple, Uriah Heep, Black Sabbath, Jethro Tull, Yes, Gentle Giant – om maar net ’n paar te noem. “Ek het Ma mal gemaak met die luide musiek wat uit die ou Blaupunkt se luidsprekers gebons het.” Laterjare was hy een van die stigterslede van die alternatiewe rockgroep, Artvark. In 1985 het sy debuutbundel, Son-dig, by die destydse Perskor verskyn. Sy tweede bundel, Nuwe vrese, verskyn in 2019 by Naledi. Van sy gedigte is ook ingesluit in Poskaarte en Gerrit Komrij se bloemlesing Gerrit Komrij: De Afrikaanse poësie in 1000 en enige gedichten. |
’n vrou wat bliksem sê in die kombuis
teddiebeer op die rak
en digbundel ondig ekkerig
reëls wat die game weggee
soos: “ek knik net moeg
en tik nog ’n gedig”
en hier’s ek weer hier’s ek weer
om jou siel te verson-dig
met kitsch, cliché en meer
ek wil jou dus waarsku
dat dit yl, met min
poëtiese digtheid, gaan wees
inderwaarheid is ek bevrees
dat ek jou vir ’n ride gaan vat
indien jy verder lees
skakel liewer die fluitketel aan
stellenbosch
wat ek daarvan kan onthou
wil snaaks genoeg
nie meer dieselfde vuur hê nie
name en gebeure begin vreemd voel op die tong
en die gepaardgaande ekstases middelmatig
nou betrap ek myself
verleë vroetel deur ou briewe en foto’s
en al knaender wonder oor opregtheid, sin, klimakse
en begrippe soos “vir ewig”
nou, al wat ek nog duidelik onthou
is louwarm tassies se gerol oor my besige tong
© Willem S van der Merwe / 2019