Gert Vlok Nel is van Beaufort-Wes. Sy musiek, en veral sy woorde, is vol patos en spreek tot die onderdrukte heimwee in iedereen. Sy debuutbundel, om te lewe is onnatuurlik ontvang in 1995 die Ingrid Jonker-prys vir uitstaande debuutwerk. Van sy gedigte is opgeneem in Gerrit Komrij se versamelbundel De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. In 1998 volg hy die bundel op met ’n CD om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet en ’n woord-en-musiekproduksie met dieselfde titel by die KKNK. Die produksie beland binne die eerste dag aan die bopunt van die beste-produksielys. Sy CD asook die vertoning besorg aan hom ’n onmiddellike kultus-aanhang, wat in die jare wat daarop volg net groei. Hy is onder meer die skrywer van die liedjie “Beautiful in Beaufort-Wes” wat al deur meer as vyftien kunstenaars opgeneem is. ’n Tweede bundel is later gepubliseer met die lirieke van die liedjies op die CD en hy het ook ’n saamgestelde bundel met onder meer Robert Bolton en Tertius Kapp gepubliseer. Hy is al verskeie kere na Nederland genooi vir poësie- en musiekfeeste. Walter Stokman, die bekroonde Nederlandse regisseur het ’n dokumentêr, Beautiful in Beaufort-Wes gemaak met Gert as die hoof-fokus. Dis benoem vir ’n Gouden Kalf-toekenning en binne die eerste week wat dit op TV verskyn het is daar bykans 4000 musiek CD’s bestel. Sy musiek word dikwels vergelyk met dié van Bob Dylan en JJ Cale. Luister na: Woorde & stem: Gert Vlok Nel: In die begin was die woord (Hierdie CD, In die begin was die woord, produksie deur Ronel Nel, is gratis beskikbaar by die meeste Protea Boekwinkels.) |
die dag toe hulle vir Donkie Viviers
jou ma is dood.
by die skool.
het hy sy tas.
sy kop.
gespoeg.
& geskreeu.
& afgehol oor die groen velde van die rugby.
die totempale.
die busstoor, die hut van die vermoorde opsigter.
die xhosa-grassnyer, briljant & kru, dormant.
(sy vrou bo in die linnekamer, dom & sku, verreken.)
die wagtende ouers in motorige motors, latent.
die intriges op baisiekels, berekend.
verby bomerige bome.
toe verby my (& toe verby jou).
verby die gedig.
deur die na buite toe oop hek.
verby elsa wat haar eerste maandstonde in die biologieklas.
af in die lig straat.
verby die regop grafte.
daai een wat oos kyk.
die wat wes.
bo-oor huise strate poskantoor kerk.
die laaste stasie op die planeet, beaufort-wes.
inner inner in die skemer in.
tot in sy peperboomste peperboom.
in sy agteryardste agteryard.
& die laat-middag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit.
Uit: om te lewe is onnatuurlik, Tafelberg, 1993
*
die koms van Ligia
Ligia bel en sê sy kom
en ek moet op die kerktrappies wag
om te wys waar is my huis, ons
bly langs die kerk êrens, i klein groen huisie nommer ses.
Ligia bel en sê sy kom môre
Ma & Pa sê ek sy’s portugees
rooms-katoliek en donker & lig & lieg ineen
oor sewe seë het sy gekom, môre kom sy
na ons klein pistachio-huisie nommer ses
Uit: om te lewe is onnatuurlik, Tafelberg, 1993
*
Ek kan nie meer slaap nie,
Nie meer lag nie
Nie meer iets vir jou sing nie
Nooit ooit weer vir my soen nie
En mooi mooi mooi was jou woorde ook
Terwyl jy menthol sigarette rook
En daai sweet sweet dinge vir my sê
Terwyl jy sweet sweet in my arms lê
En die presiese woorde het ek presies vergeet
Ek onthou net die rook en die sweet in beaufort-wes
En jou kaal liggaam onder ʼn koel summer cotton dress
Nie meer slaap nie, nie meer lag nie
Nie meer iets vir mekaar doen nie
Nooit ooit weer vir jou soen nie
En dis miskien soos ʼn storie uit die huisgenoot
Maar jy’t een aand skielik vir my weggestoot
En in die rear view mirror jou gesig gekyk
En gesê “miskien moet ek gelukkiger lyk
Daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie
En ek het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf
En soos ʼn roeiboot in die rivier af dryf
En kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie
Nie meer iets ooits reg doen nie
Nooit ooit weer vir jou soen nie
En die laaste herinnering waaroor ek sing
Is toe ek en jy moltrein aan en aan in die nag in ry
Tot an-der-kant die ding dong gong
Van die breakfast waiter in die gang verby
En dit was my wake up call my life
Jy’t gesê wees asseblief lief vir my
Maar ek het gedroom hoe ons in beaufort-wes gaan woon
En ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie,
Nie meer so iets doen nie
Nooit ooit weer vir jou soen
Nie meer slaap nie, nie
Meer lag nie, nie
Meer so iets doen, nie
Nooit ooit weer vir jou soen
[Teks geskryf tydens Gert Vlok Nel se deelname aan
Poetry International Festival Rotterdam 2002.]