Werkwese
vir NP
Die pronk en sieraad van die jeug
word deur jou alleenspraak jare
vroeg ryp in goue woordeblare,
vrugvolle saad, elk in besonder afgeweeg
presies in halwe kringe ingepas
nie sommer los en vas
nie: kranige klipwerk, gebeitel en veral
met suiwer wiskunde bepaal
in ‘n dink verweefde web se wens
om die self-sfeer te verstaan
waar dieptes kan bedrieg en mens
diergestaltes in spieëls sien kom en gaan
toe’t jy ons met nuwe verse heel oorbluf
en dan tristig in voorspele en vlugte
geestig in speelse vernuf
dit in eenvoud en nederigheid
maar tog keiserlik met rooi en wit
in jou Karoo-dorp se aardse volte ingesit
om so die wonder-glans te vang
waar die Enigma-kern na Openbaring bly verlang.
© Meyer van Rensburg, 2026
