![]() Hendrik J. Botha gebore in 1958 en word groot op Westonaria aan die Wesrand. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom en studeer daarna medisyne aan die Universiteit van Pretoria en behaal later ook ’n meestersgraad in Huisartskunde. In Januarie 1993 begin spesialiseer hy in narkose in Bloemfontein en sedert 1997 praktiseer hy as spesialis narkotiseur, die laaste twaalf jaar in Pretoria. Vanaf 2011 tot 2013 voltooi hy ’n M.A.graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Joan Hambidge. Hy woon tans op ’n kleinhoewe aan die oostekant van Pretoria teen die hang van die Bronberg. Hy debuteer in 2015 met die bundel Atropos (Queillerie) wat opgeneem word as deel van Die RSG kunstefees in 2015 en gekortlys word vir die Ingrid Jonkerprys in 2017. Hy volg dit op met ’n tweede bundel, Voorspraak (Naledi) in 2019. Een van sy gedigte word opgeneem in die bloemlesing, Maskers en Mure (Turksvy) in 2021 en ’n handvol van sy gedigte veskyn in New Contrast en op Versindaba webblad. Opsommend en ten besluite: Hy skryf biografieë of profiele oor homself net soos hy gedigte skryf, spaars en met moeite. |
Ter wille van die gode
Die Rig Veda, weet te leer,
van Indra, god van water, donder en reën
deur die Aryans tot opper-god verhef.
Op die rug van ‘n olifant ry hy die heelal binne,
bespied met duisend oë die einders vir reën,
water, iets om te plunder.
Diegene wat weet fluister met oë groot
dat hy ‘n duisend testis onder sy jurk versteek
en ek gee onvoorwaardelik gelyk: enige wese só bedeeld,
wydsbeen op ‘n olifant sonder om te gryns of grim
verdien om as ‘n opper-god beskou te word
deur man en vrou en die hele gender-santekraam.
© HJB 01/2022
*
Covid 19
in gesprek met Elisabeth Eybers
Hoe sou jy, meesteres van die sonnet
dié pandemie in veertien strak reëls
vir ons beskryf: onsigbare vyand
wat sweef, selfs in voue van ons klere skuil?
Vlermuise en ietermago’s bly ongedeerd.
In ICU newelagtig tussen
beddens, kabels, pype ‘n fyn balans,
gesuspendeer iewers tussen dood en lewe
met suurstof onheilspellend laer
probeer ek tevergeefs my weergawe
op te teken, terwyl jy elders
op ‘n bankie huiwer: met ‘n glimlag
en dalk ‘n koppie tee om namens my
die slot van dié gedig te skryf.
© Hendrik J Botha, 2020