![]() Hilda Smits is in Potchefstroom gebore maar trek gereeld as kind en woon onder andere in Venterskroon, Parys, Hoedspruit, Thabazimbi, Rustenburg, Klerkskraal, en Welverdiend. Na skool werk sy vir ’n jaar as ’n ontvangsdame by ’n hospitaal. In 2001 verhuis sy na Engeland op ’n working holiday visa waar sy onder andere parsnips pak in Ipswich, in ’n ouetehuis werk in Taunton, en hotel kamers skoonmaak op die Isle of Man. Sy bevind haarself uiteindelik in Londen en verwerf in 2009 ’n BSc-graad in Sielkunde aan London Southbank Universiteit. Sy verhuis in 2013 na Nashville, Tennessee en verwerf in 2016 ’n Meestersgraad in Psigoterapie aan Vanderbilt Universiteit. Sy praktiseer tans as psigoterapeut in Philadelphia. Van haar gedigte verskyn in New Contrast, Vonkverse, Nuwe Stemme 5, en Vers en Vrou. Sy debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was, en word met die Ingrid Jonker Prys vereer. In 2021 verskyn haar tweede digbundel, mag die diep slaap jou dan. |
toe die vliegtuig lig
die grond minder raak
en minder
raak
die halfdonker ons oorval
soos ’n skip
wat die water breek
sonder ’n kaptein
sien ek my ma haar bakkie
’n rooi stofstreep trek oor die land
die grond minder raak
en minder
raak
die enjin brul soos ’n miljoen
hartseer hane
word ons so lig soos vuurhoutjies
krimp sy tot ’n spikkel
behalwe vir
haar groot hande
hulle waai en huil soos wolwe
(Uit: die bome reusagtig soos ons was, Protea Boekhuis, 2016)