Jasper van Zyl is in 1987 in die Paarl gebore en word as pastoriekind groot op Lambertsbaai, Kimberley en Upington, maar hoofsaaklik op Gansbaai. In 2004verskyn sy eerste verse in
Antjie Krog en Alfred Schaffer se Nuwe stemme 3 terwyl hy nog op hoërskool is. Sedertdien word van sy verse in verskeie bloemlesings opgeneem en tree hy by verskeie poësiefeeste en aanlyn-skryfskole op.
Van Zyl is tans ’n derdejaarmediese student aan die Universiteit van Stellenbosch.. Sy debuutbundel Die lewe tussen pikkewyne, verskyn by Tafelberg in 2011.
teraardebestelling
die grond bewe. in die opgerolde oggend
reën klotse skuim oor ’n oop graf. fabrieke
stoom in die agtergrond. ’n koortjie sing.
bome spook op wind. ’n jong man met ’n donkerbril
kyk toe uit die verte; rook. die predikant
prewel verse asof uit gewoonte. ’n koortjie sing.
die vroue beweeg in stoetgedrag uit. grond
word gespit en afgegooi, daar word gewonder
en daar word gepraat. ’n bootjie beweeg op die see.