Joan Hambidge was ’n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk (in die Skool vir Tale) verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is in 2021 aangestel as Fellow waar sy die Hofmeyr-leerstoel beklee het. Sy is ’n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy het ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad aangebied. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk aan die UK (promotor: HJ Snyman) en ’n eerste aan Rhodes Universiteit, Die metaroman – ’n dekonstruksie-ondersoek in 1984 (promotor: AP Brink). Hambidge debuteer in 1985 met Hartskrif. Daarna verskyn nog vele bundels uit haar pen. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ’n keur uit haar poësie. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais-, ATKV- en Litera-pryse. Behalwe vir haar digbundels, het Hambidge ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) én ernstige romans (Die Judaskus, Palindroom, Kladboek en Stasies) gepubliseer. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Sy is tans besig met ’n studie oor die digkuns van Johann de Lange en ’n metaroman Hart sonder hawe. Sy skryf eweneens ’n boek oor Freud & vroue en ’n studie oor die digkuns: Kringloop. In 2021 verskyn ’n Festschrift in Stilet. Luister na die video-greep hier van ’n voorlesing van haar verse tydens Versindaba 2007 in Stellenbosch. Sy is gebore op Aliwal-Noord en het skoolgegaan op Witbank, in Pretoria en op Standerton. In matriek behaal sy die beheerraadsmedalje vir die beste student. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch (1975 – 1979) en behaal ’n MA met lof onder leiding van Elize Botha in 1982 oor Die ek-verteller in die belydenisroman. Sy het Opperman se letterkundige laboratorium in haar derdejaar bygewoon. Vanaf 1980 – 1992 doseer sy literatuurwetenskap aan die Universiteit van die Noorde en vanaf 1992 word sy dosent aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het verskeie buitelandse ruimtes besoek sedert 1980 wat haar skryfwerk rig. Sy is digter, romanskrywer en teoretikus. Sy het ’n blog Woorde wat weeg. http://joanhambidge.blogspot.com/ Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor Hambidge op LitNet: https://www.litnet.co.za/joan-hambidge-1956/
Publikasies: Stasies. Protea, 2022. Sanctum. Protea, 2022. Nomadiese sterre. Protea, 2021 Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Imprimatur, 2021 The Coroner’s Wife. Dryad Press, Kaapstad, 2018. Indeks. Human & Rousseau, Kaapstad. 2016. Anti-Laius. Cape Town Opera in 2015. (libretto opera). Matriks. Human & Rousseau, Kaapstad. 2015. Meditasies. Human & Rousseau, Kaapstad. 2014. Lot se Vrou. Human & Rousseau, Kaapstad. 2012. Visums by Verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011. Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad. 2009. Kladboek. Protea, Pretoria. 2008. Palindroom / Koesnaatjies vir die Proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2008. Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2006. En Skielik is dit Aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005. Die Buigsaamheid van Verdriet. Protea Boekhuis, Pretoria. 2004. Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002. Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001. Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000. Die Swart Sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998. Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998. Ewebeeld. Kagiso/ Perskor, Johannesburg. 1998. Swart Koring. Human & Rousseau, Kaapstad. 1996. Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995. Interne Verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995. |
Gustave Flaubert (1821 – 1880)
“Madame Bovary, c’est moi”.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Lewe geen Kasteel van Harte
nadat Louise Colet jou verlaat;
uitgespeel in die Revue de Paris.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Teenstand word jou muse:
vriende en vertrouelinge
afwysend oor jou kontrapunt.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Skryf vir jou ‘n perpetuele orgie,
‘n onnoembare, steurende ekstase,
beter as ‘n Sentimentele Opvoeding.
Altyd op soek na “le mot juste”.
In vele hoerhuise besoek jy
prostitute van beide geslagte:
dra ‘n Kaïnsmerk van dié vergrype.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Niemand kon soos jy afwysing verdoesel,
‘n afsêbrief onder ryp appelkose plaas,
én liefdesonvreug uitspeel tot ‘n slotakkoord.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
© Joan Hambidge. April 2011
*
Liz Taylor
“One take Liz”,
altyd perfek, reg
en so gereed vir die kamera:
so two-step sy deur die mynveld
van kritiek, vele huwelike én omstredenheid.
“Sukses is ‘n deodorant”, meen sy nonchalant.
Gooi haar blouswart hare terug, stal juwele uit,
fnuik nog ‘n siekte, troef gladdebek Larry King
met ‘n vinnige rughandhou. Advantage, Ms Taylor.
Kinderster, Cleoptra en ‘n latter day-Koningin
van glans: voor en agter die kameras,
toe dit nog rol, kon sy met presiese tydsberekening
‘n mede-ster (of opponent) van die baan af speel.
Hartsiektes, osteoporose; niks bring haar van stryk.
“Roll on Liz”, bits ‘n koerantopskrif neffens haar in ‘n rolstoel.
O ja, sy was ‘n glimmerende koket-van-die-baan,
sal dit altyd bly, met of sonder Richard Burton,
minnaars wat kom en gaan, in ‘n verbete afslaan
of ‘n bal wat net-net oorbons: selfs laat vir haar eie begrafnis,
‘n weergalose ster, flonkerend oor die media-baan.
Forty-love!
© Joan Hambidge. April 2011
*
Derdeoog
Op ‘n markplein in Athene
sit ‘n ou man met pêrels op sy oë:
in sy ónsienlike bestaan kyk
hy na die gewerskaf, hoor die geredekawel
en, glo my vry, voorspel hulle
dat hy eendag weer sal sien.
Op die vismark glinster ‘n visoog,
kieue oopgeskeur, skubbe afgekrap.
In daardie blindeoog,
in daardie visoog, staar iets terug.
‘n Siener voorspel reise na orals
en nêrens, ‘n lewe van oorvloed.
Op daardie markplein in Athene
was daar ‘n man en ‘n vis,
beide was kortstondig hier,
vasgevang in die lens van ‘n kamera,
in die blindekol van ‘n optelvers,
presies in die derdeoog se hoek.
© Joan Hambidge. Maart 2011
*
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.
© Joan Hambidge. Feb. 2011
*
Droom
In die vertreksaal van ‘n lughawe
versoek jy my om jou tasse
op daardie reis saam te neem.
Jy praat woordeloos met my
deur die koue glas waar geliefdes
afskeid neem, terugdraai, vir oulaas omkyk
hoe iemand deur die doeanepunt beweeg.
Jy het my alles geleer van om-alleen-te-reis,
van die gedig wat swaardra aan stempels,
visums na onbekende streke van die hart.
In daardie vertreksaal van my droom
soek ek vervaard na my eie bagasie,
ontdek my tas in die aankomssaal
volgeprop met verse en drome
en mites en kleitablette en vrese.
‘n Droom is ‘n apostroof, ‘n palindroom,
dit laat iets weg én voeg by.
Dit is ‘n vingerwysing, ‘n dubbelpunt,
‘n weerkaatsing – dalk ‘n aankomssaal
waar die geliefde, allesbegrypende leser
jou woordoordadig dog in stilte ontvang?
© Joan Hambidge. Jan. 2011