j.c. van staden (johannes van jerusalem)
J.C. van Staden (wat as Johannes van Jerusalem die bundel Eros ontbind, Protea Boekhuis, 2006, geskryf het) skryf van Eros. Hy is ‘n danser en ‘n speelgoedmaker. Hy is baie lief vir Dante en Pablo Neruda en Walt Whitman, en John Berryman en Cesar Vallejo en nog ‘n hele klomp ander, maar bowenal vir William Blake. Hy is ‘n gesoute bekvegter wat al heelwat opstoppers ontvang het, maar ook ‘n hele klomp gegee het.
Maak gerus kontak met hierdie digter op Facebook.
|
HENRY SE ROES
1.
In die brandende nag
flits Henry
oor die snelweg
met Mnemon.
Hulle vuurtuig
‘n koel torpedo
klief
die vlammende donkerte.
Agter laat hulle
die verskrikte stad.
Van die sterre bly oor
in die metropool
‘n verrinneweerde spinnerak
verwaarloosde vaskeerplek
vir duidelikheid.
Henry klou
aan ‘n idee
van die roete.
Onder hulle
skuif die teer,
‘n swart smeer
stram nageboots
deur die hoeke,
reguit lyne en boë
op die navigasiepaneel.
Hy rek sy oë
teen die vergeet
om die landskap,
dik en swaar,
deur die ruit te verken.
Mnemon praat strykdeur;
hy is nou die wakkerte.
Onder sy vingers
vind die glimmende koeël
van hulle skip
‘n trajek
op die golflengte
van toekomstige reise,
ontliggaamde verplasings
deur ruimte.
2.
Met aand
strek die grys wolke uit
soos skaduwees
van die groot donker
wat kom.
‘n Eerste paar sterre
flonker,
helder boodskappers
van eindelose diepte.
Henry, verstrik,
swymel vir die laaste
deurgewaste kwas blou.
Hy hou aan
alles vas, elke oomblik
van binne verlig,
‘n glimlag
by die ingang
van die nag
waar hy op die kosmos
wag om oop te vou
en ‘n klein gedeelte
van die vergete geheim
vir ‘n oomblik
na hom uit te hou
voor dit weer,
verduister
deur die blink
brandende dag,
skaars meer is
as ‘n halfhartige geloof,
sag en oplosbaar
in die stroom
dinge en gebeurtenisse
wat hom meesleur
om hom
elke middag
uitgewring
na die wal
van die groot
Rivier Vergeet
te bring.
3.
Die dik van slaap
in sy mond
beur Henry uit die nag,
beur hy
teen die warboel
oorskot droom
en die lyf
se swaar stryd
teen swaartekrag.
Lewe is gewig.
Hy vou
uit die lotus van bed,
dig teenaan haar rug, sysag,
vol warmte,
haar verleiding
deur die oggend verdryf,
indringer
met sy busdreune
motorfietsbrulle
en lig, lig.
Henry kom orent,
strompel, pis, brou koffie swart,
en byt
aan die nasmaak van donkerte
wat aan sy tong klou,
proe pynlike verlange
soos na Lorca
se verlore gedigte
iewers oor ‘n verlate slagveld
aan die wegwaai
Hy trek die lakens effe weg,
ruik aan haar nek, slapende mond,
trek vingerpunte
oor die warm bulte en holtes
en die binneplekke
wat sy snags vir hom oopmaak
soos ‘n mens gordyne ooptrek
om bedrywighede op straat
te beloer, en terstond
onthou hy in hom
‘n mens se hol gewig,
soos leë vertrekke
‘n afdruk hou van elke inwoner
se volmaak van die plek.
4.
Henry verval
in ‘n diep roes.
Die bruin son
van ‘n ontydige droom
bak sy vel
‘n donker oranje.
Sien hy tekens
vergeet hy hulle summier.
Hy droom
van die verborge sonnette
van Lorca,
hulle vlae liefde
verstrooi
oor vergete slagvelde.
Hy stap
deur sy antieke self,
die gebeentes en ruïnes
van gedagtes,
obskure vroeër lewens
vasgvang
in woonbuurte, ou roetes,
huise wat bewoon word
deur vreemdelinge,
plekke met hulle reuke
Hy gee op, Henry.
Hy laat vaar
‘n geheime ambisie
om van nut te wees.
Op die uitgetrapte mat
voor die groot venster
aan die noordekant
sit hy bene gevou,
bene uitgestrek,
lê hy uitgerek
en merk die papier
onder sy hande
met trae
lustelose tekens
van verlies en verlede,
skribbel hy ‘n sinsnede
wat deel sou kon wees
van ‘n spreuk, ‘n kode
vir die ontrafeling
van sy gees.
5. (Koda)
Hou die vlug
van vinnige
insekte dop,
naaldekokers, wespe,
patryse
die oomblik
voor hulle wegvlug
om in lang gras
onsigbaar te word.
Terug by die wind
oor die flank
van die berg.
Henry se hart
stiller nou,
‘n geruis
‘n ritmiese sug.
Lug vol oë
op sy rug.
Berg-op!
Berg soos ‘n ou dier,
knorrig, stadig, blind.
Kom die herfs,
geil hange, bevrugte veld
gereed om af te sterf,
lang gras waaraan oranje vuur
gulsig lek,
‘n minnaar
met hitte in sy asem,
gejaagd,
‘n bietjie onversigtig.
Op die berg tuur
Henry na die horisonne:
heuwels, kragsuile, woongebiede
soos rowe.
Hy verlang
na ‘n stad
soos ‘n spiraal.
Verras
loop hy oor die swart berg.
Wit ringe: ‘n duisendpoot
se stukkende skelet.
Gebreekte glas.
Verbrande plastiek.
‘n Spinnekopnes
op ‘n omgekeerde klip,
syhuis vol grond en gras.
Geel gifappels
teen die swartgebrande sy.
Patryse!
‘n Ruigte
waar die berg
nie gebrand het nie.
Sekelbos.
Naartjieskil.
Ou yster.
Hy luister:
‘n vreemde taal.
© JS Van Staden. Jan 2011
*
Ode aan melankolie
Baie baie stadig begin die dag
en ek weet dat ek weer sterf.
Ek drink swart koffie by die winkel op die hoek
nadat ek die Franse meisie by die bakkery gegroet het,
nadat ek tande geborsel en gestort, en ‘n gesprek oor die buitelig by my kamervenster hierdie onverwagte onwelkome volmaan elke liewe nuwe nag met die nuwe buurman gevoer het, nadat ek eers lui en toe met meer oortuiging myself uit die sluimer gesleep het met die drie Tibettaanse rites wat ek kon onthou, en die eerste asana van die kryger en die balans van die boom regs dan links en die wuiwende palmboom regs links regs links ingeneem, en selfs ‘n klomp asemteue in en uit die lyf en uit en in die lug gevolg het in die postuur van die halwe lotus, enkel op die lies enkel onder die knie, drie vingers in die moedra uit die spiraalblom van die ander twee om ‘n sirkulasie van my kwynende kragte te bewerkstellig
nadat ek wakkergeword en daardie drome waarin sy nog ‘n draai kom maak in my bewussyn, begin afskud het soos ‘n mens ‘n koors afskud wanneer die lyf uiteindelik al die indringers en plakkers in sy versteurde ekologie op hulle plek gesit het,
soos ‘n mens jou uit ‘n kombers skud as dit tyd is om op te staan.
Maar daardie drome
is ‘n kontaminasie van melankolie.
Hulle is veelkleurige vlae op ‘n berg wat deur 800 triljoen jaar se winde platgevee is.
Hulle is so helder soos dringende gebede.
Ek eet brood met botter en konfyt en kyk na die grys silhoeët van die stad, byna uitgewas deur die mistige spoor van die oggendstorm, soos houtskoolmerke waarop jy die elmboog argeloos laat rus het.
Ek weet dat ek weer sterf, maar wanneer sterf ‘n mens nou nie?
Dis buitendien geen rede vir hartseer nie. Die gepynigde self verdwyn. In sy plek verskyn nietigheid, as ‘n mens argumentsonthalwe sou kon sê dat iets soos ‘n niet kan verskyn.
‘n Veel groter saak vir hartseer kan gemaak word uit die voortsetting van ‘n bepaalde lewe, ‘n lewe beraam deur drome wat soos ‘n antieke stuk weefwerk elke nag in die onverrukte onwete van die slaap oopgerol word vir ‘n seremonie van verwekking, die versameling en ordening van skulpe, sade en ander rituele voorwerpe om die afskeiding van die universele liefdesvog te stimuleer, en dan toegevou en aan die vuur van die dagbreek aangebied word vir wat altyd ‘n aanvaarding is –
dáárvan is die hart seer,
dáárvan die lyf uitgelewer
aan die besmetting van ‘n swart gal,
die suiwering van die gestorwe krygers van ‘n 100 000 veldslae
sonder oorwinnaars en hulle verslae teenstanders
met helder vlae wat nog net in die verbeelding van die wind wapper
op ‘n vlakte waar ‘n berg eens
in die volle lotus,
enkels op die dye,
die palms effe ingedraai en die twee lang vingers uitgestrek in die moedra van onse Jesus,
gesit het en deur die Niet ingeasem is.
© JC van Staden. Nov 2010
———————————
RIEM VAN HENRY, WAARIN HY AFSAK
“to cast away the rotten rags of memory” – Blake
henry se verspreide lewe
deur die metropool gestrooi,
ingesypel in die afgeleë,
henry, ‘n broer wat die donkerste donkertes binnedwaal
*
soos ‘n dier
eet hy van die sagste, sappigste
binnekante af
*
(hy lek sy lippe af
hy is te swaar om weg te draf)
*
in die woud
gewaar hy ander jagters,
geslepe soos hy
*
“Van oorkant
die rivier
wuif ‘n heks
vir my.
Sy is mooi,
en die lus druk
in my balle,
maar ek kan sien
die geskenk
in haar hande
is die Dood.”
*
“Ek is lus
om my are
vol heroïen te spuit
en die papawers van Afghanistan
te laat blom
op die rou hange
van hierdie berg
wat ek geword het
“Ek is lus
om 20 vroue
by te dam,
my piel
‘n spierwit
oniksmonoliet,
my hart
swaar soliede goud
“Ek is lus
om te vlieg
“Ek is ook lus
om in hierdie sagte bed
weg te sink
soos ‘n skip
in ‘n golwende see,
om onderwater
my weg te vind
na die anderkant
“Ek is lus
om te sterf
“Ek is lus
om in my graf
die dans
van stil lê en ontbind
te dans
“Ek is bowenal lus
om nie te bestaan nie
“Ek is lus
vir die liefde
en die verlange
wat die liefde bring
na hierdie dinge”
*
Hy vergeet
om in die tuin
te sweet
Hy vergeet
om te eet
Hy vergeet
van die lekkerte
in ‘n vrou
se spleet
Hy vergeet,
hy weet
hy vergeet
*
henry, verslons
sy klere verslete
sy vel skurf
sy voete vol barste
sy gedagtes,
dwaal-dwaal verdwaal hulle
in die groot Vergeet
van Een wat eens
alles wou weet
*
die koning,
wel die koning
was ‘n tiran,
‘n wrede, wrede man
en die kryger, die kryger
‘n wreedaard,
genadeloos met die swaard,
harteloos van aard
die minaar
‘n slu aasdier, ‘n kil,
kil slagter,
‘n gryper en ‘n verkragter
en die medisyneman
‘n bitter, bose towenaar
wat die wyn in water verander,
daarmee oor die groot rivier Vergeet wegvaar
*
hy leef sonder diere,
sonder plante
hy skeep sy klippe af
*
sit stil, henry, sit stil
*
groot ou vergeet
kry toe vir weet beet
maar weet het geweet
hoe vergeet jou laat sweet
vergeet het vergeet
hoe weet jou laat weet
voor jy weet
het ons van vergeet vergeet
*
henry skaam
oor die geskenke wat hy bring
die maer ou bok
met die brandsiek
maak hy aan ‘n doringboom vas
voor hy gaan sit en bier suip
aan sy vriend se fees
die verskrompelde noot
klou hy vas
wat hy in ‘n koevert wou stoot
as goeie wens
vir mens
dier of plant
of die wêreld se klipperige kant
vrot lappe herinnering
gooi hy weg
voor sy kinders sien
o ou henry,
hy kry wat hy verdien
© JC van Staden. Mei 2009.