![]()
Juanita Louw het grootgeword in die Vrystaat. Sy werk vir geruime tyd in ’n hospitaal in Londen se Ooseinde. Deur die jare werk sy ook met antieke juweliersware en gee Engelsklasse aan buitelanders. Sy is tans praktykbestuurder vir ’n sielkundige in Kaapstad. In 2014 voltooi sy ’n M.A.-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar debuutbundel, In die grot van die sibille, verskyn in 2016. In 2020 word haar gedigte ‘naweek’ en ‘Altaar’ in Vers en vrou opgeneem. Van haar gedigte is voorheen in New Contrast en Stanzas gepubliseer. |
Berk en been
’n Fabel
In die holte van ’n berk
vind ek ’n ring: band van been,
maanwit juweel uit hout gekerf.
Ek glip dit aan my vinger:
die beenband omvorm tot mondkring,
juweel tot oogalbaster.
Ek voel dit begin by my oorskulp:
arms word takke; bene, wortels.
In die mik hang ’n blink vrug.
Wyer en wyer rek my kake:
my verhemelte is die nagkoepel,
tande verander in gesternte.
Ek sluk die maanvrug in:
my maag swel en swel, maak ’n dop
en breek oop: in die holte vind ek ’n ring.
(In die grot van die sibille, Quellerie, 2016)